DPS Pleegsorg > nuus  > AS DIT MAAR NET DIE MONSTER ONDER DIE BED WAS….

AS DIT MAAR NET DIE MONSTER ONDER DIE BED WAS….

Ek kuier onlangs by een van die pleeghuise.  Ons gesels land  en sand – maar veral oor hulle gevoelens tydens die COVID 19 pandemie en grendeltyd.  En elkeen, van die jongste tot die oudste, noem dat hulle BEKOMMERD is.

Dis duidelik dat hulle baie bewus is van die “onsigbare bedreiging”, en daar is min wat hulle nie weet daaroor nie, van hoe die virus versprei, wie groter risiko’s loop om dit op te tel, waar dit moontlik vandaan kom, dat daar nog geen entstof is, hoe om jouself te beskerm, ens.  En dit nadat nie een in grendeltyd die huis verlaat, of eens ‘n selfoon het wat toegang tot sosiale media bied nie.  Meteens  staan ek verbysterd toe ‘n twaalfjarige seuntjie vir my vra:  “En het Tannie die “body counts” (bedoelende die sterftesyfer) gesien? Dis al amper…200!”

In watter realiteit is die tel van mense wat daagliks sterf, deel van ‘n twaalfjarige se leefwêreld? Vreemde, vreemde tye inderdaad!

En ek wonder net weer:  wanneer is inligting net te veel vir kinders om te hanteer?  Waar lê die fyn lyn tussen bemagtig en bevrees?  Hulle spits die ore as grootmense eenkant gesels en bekommerd wonder oor die stand van sake.  Elke nuusberig op die radio wat in die agtergrond speel, word dan ingelui met:  “En vandag het SA ….. 2 000 positiewe  Covid 19 gevalle…”

Kinders  het oor die algemeen  in “NORMALE OMSTANDIGHEDE” baie spesifieke vrese volgens hulle  ontwikkelingsfases:

Ons kleuters begin agter kom dat die wêreld ‘n vreesaanjaende plek kan wees:  nie net oor “die monster onder die bed nie”, maar ook vir die feit dat ‘n geliefde hondjie doodgaan, of dat ‘n oupa baie siek kan word.  Hulle is dalk in staat om hulle gevoelens te identifiseer, maar het nog nie die vaardigheid om te weet wat om daaraan toe doen nie.   Die dood is steeds vir hulle ‘n moeilike begrip om te verstaan, omdat hulle eintlik net konkreet kan dink en reken dat die dood “omkeerbaar” is.  Hoeveel te meer as die kinders daagliks met ‘n siekte en moontlike dood gekonfronteer word as deel van die alledaagse gesprekke wat hulle aanhoor?

Ons voorskoolse en jong laerskoolkinders is in “gewone” omstandighede weer vreesbevange vir  verwerping: ‘n Maatjie wat hulle uitsluit, of ‘n koue skouer van ‘n juffrou kan vir hulle baie traumaties wees. Hiermee saam is hulle ook veral bang dat hulle hul ouers sal verloor, hetsy deur egskeiding of dood.  Een van die pleegkinders vra juis in die gesprek: “Wat gaan gebeur as ek siek word? Sal my maatjies nog met my speel?”  Is ons huise tans ‘n veilige hawe vir ons kinders, wanneer hulle dalk werklik bevrees, verwerp of verstote voel?

Tieners ervaar meesal dieselfde angs en vrese, net soos ons volwassenes. Hulle streef veral na onafhanklikheid en selfstandigheid. Maar wat gaan nou van hulle toekoms word, gaan hulle werk kry, of verder kan gaan leer?  Hulle is net so onseker oor die toekoms en voel selfs meer oorweldig deur die druk van ‘n skooljaar wat uitloop, sonder om te weet wanneer, en of, hulle dit gaan kan voltooi. Dit is dieselfde vrese wat ons volwassenes aan die kraag beet het, maar hulle beskik nie oor die lewenservaring en vaardighede om hierdie angs altyd effektief die hoof te bied nie.  Hulle het nou die versekering van ‘n ouer/versorger meer nodig as ooit, dat hulle onvoorwaardelik lief gehê, ondersteun en versorg sal word, ten spyte van vrese, onsekerhede, foute en tekortkominge.  Laat in die tyd toe dat jou deernis groter as jou verwagtinge van hul toekoms sal wees. Dit is ‘n baie onsekere tyd vir hulle wat voorlê.

Antwoorde die het min van ons deesdae.  Daar is geen sekerhede meer nie.  Almal sê ons moet gewoond raak aan die “NUWE NORMAAL” wat voorlê. Maar mag ons nie so vasgevang word in die onsekerhede, vrese en negatiewe beriggewings  oor ons omstandighede, en in ‘n poging om voorsiening te maak vir die “NUWE NORMAAL”,  ons vrese en bekommernisse van ons kinders miskyk nie.  Hulle leer meer uit dit wat ons doen , as wat ons sê.

Sterkte in die vreemde tyd.

Tertia Vos

 

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply