DPS Pleegsorg > nuus  > DESEMBER IS VAKANSIE TYD…OF IS DIT DALK NIE??

DESEMBER IS VAKANSIE TYD…OF IS DIT DALK NIE??

Ons almal ken die woorde van die liedjie “Dis weer vakansie tyd, dis rondomtalie draai. Ek gaan lekker visvang in die hoek van die baai, waar die sonstrale lekker op my rug kan brand.  Waar ek drome kan droom met my tone in die sand. Of ek skuil in ‘n grot uit die pad van die weer en ek lag hardop want ek hoor meneer… Hy sê staan op sit stil boeke oop leer jou les oe la la la, oe la la la…”.  Vir die meeste van ons was 2020 ʼn redelike uitdaging, ons het letterlik nie geweet wat die dag môre vir ons gaan inhou, gaan ons nog môre ʼn werk hê om na terug te keer.  Vir ons as volwassenes was dit ʼn uitdagende tyd, maar hoeveel te meer nie vir ons kinders wat daagliks met onsekerheid, trauma en die verlies aan kontak met geliefdes gekonfronteer is nie.

Ons kinders sien so uit na die Desember skoolvakansie, dit is soos ʼn wortel voor hul neus, kontak met familie en vakansie vriende.  Ongelukkig is hierdie nie ʼn realiteit vir al ons kinders nie.  Sommige van ons kinders kan weens ouers se omstandighede tuis nie gaan kuier nie, ander se ouers maak geen kontak (nog ʼn onsekerheid…leef my ouers nog…is hulle ok?) en ander het reeds op ʼn baie jong ouderdom een of beide ouers aan die dood afgestaan…wees soos hulle sê. Vir hierdie kinders, is Desember net nog ʼn maand, een waar hul heel moontlik tussen aflos huise moet beweeg om die pleegouers ook n kans te gee om te rus.  ‘n Tikkie jaloesie begin sy kop uitsteek en vrae word gevra “Maak kan ek nie maar huis toe gaan nie tannie?”, “Hoekom kan Susan so baie uitgaan maar niemand wil my hê nie?”…moeilike vrae, vrae wat ons nie altyd die antwoorde op het nie.

Ons as Bestuur het besluit om vir die kinders wat nêrens heen het om gaan, die geleentheid te gee om 2020 ook op n hoogtepunt af te sluit, nuwe “memories” te maak en net lekker te ontspan.  Hoe doen n mens dit wonder jy…wel ons hou n kamp natuurlik!  Julle het reg gelees.  Ons gaan kamp vanaf 16 tot 22 Desember 2020 te Venterskroon met 15 van ons kinders wat nêrens heen het om te gaan en ons beplan hope pret, plesier en kuier vir die 7 dae.  Die kamp is tweeledig, die kinders kry die geleentheid om saam te kuier, swem en ontspan en ons pleegouers kry n week van welverdiende rus.

Die kamp, soos Covid-19, was glad nie deel van die jaar se beplanning, so daar is ook nie vir hom begroot nie.  Indien u sou belangstel om een van die 15 kinders te borg teen R1000 per kind, kontak my gerus by suzanne@rata.org.za of 066 477 8904.  Inbetalings kan ook gedoen word by:
Kinderhuise van die NHKA
ABSA Bank
Besigheidrekening
Rek no.  020390093
Takkode:  623 0005
Verwysing:  Desember kamp (epos bewys van betaling na suzanne@rata.org.za)

Hierdie is jou geleentheid om vir oulaas vir 2020 n verskil in n kind se lewe te maak!

Groetnis

Suzanne van Deventer
Programbestuurder DPS Huise

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply