DPS Pleegsorg > nuus  > DIE LAMMERVANGER – OOK MAAR VLEES EN BLOED!

DIE LAMMERVANGER – OOK MAAR VLEES EN BLOED!

DIE LAMMERVANGER – OOK MAAR VLEES EN BLOED!

Wel en weë van ‘n maatskaplike werker

Jare gelede moes ek vir ‘n ouer oom verduidelik watter beroep ek beklee, en wat ‘n maatskaplike werker is.  “O, jy meen jy’s ‘n lammervanger.  Ons het altyd die kinders met julle bang gemaak as hulle nie hulle groente wil eet, of bad nie.  Vir hulle gesê julle gaan kom, en hulle in weeshuise stop!” was sy antwoord. Wel, en het nie geweet of ek moes lag of huil nie! 

Maar tog, is dit nie steeds die persepsie van baie mense daar buite nie? Ons deel of kospakkies uit, of vat mense se kinders weg – sonder goeie rede, opleiding of hart! 

Maar daar is ‘n ander kant van die munt:  ons is ook maar van vlees en bloed. 

Onlangs is in die media aan die groot klok gehang watter swak gehalte werk maatskaplike werkers lewer, en hoe onderduims hulle is.  Of dit geregverdig is of nie, dis nie ter sprake, maar dit laat my aan die ou Engelse gesegde dink: “When I do good no one remembers, when I do bad, no one forgets!”  En dis ook nie iets waaroor ons maatskaplike werkers baie praat nie:  ons word van baie vroeg af geleer om kliënt-gesentreerd te dink en te werk – menigmaal tot ons eie emosionele ondergang.

Weet die publiek werklik waarmee ons maatskaplike werkers daagliks moet worstel?  Die gewone hartseer en trauma van ander, kom klim in ons lywe, en ons dra ook swaar daaraan.  Geen mens kan onaangeraak deur ‘n ander se leed voortgaan nie.  In teendeel, dit verg  toe nie gevoelloosheid en harte van klip, om die werk te doen nie! 

My kollegas vertel hoedat hulle as jong , groot-oog  maatskaplike werkers by ‘n gesin opdaag om hulp en ondersteuning aan te bied, net om vloekende verjaag te word, en hartseer moet omdraai, net om weer moed bymekaar skraap om later weer te probeer.  Om nie moed op te gee, en te weet dat almal geregtig is op tweede en derde kanse, en dat hulpverlening binne verhoudings geskied – verg deursettingsvermoë en soms ‘n harde vel – nie ‘n harde hart nie!

‘n Ander vertel hoedat sy steeds dink aan die kere wat sy die kinderhuis-outjie laataand – met ‘n pretjie vir ma perfek ingekleur, en ‘n geskenkie rof toegedraai – letterlik by die kinderhuis-hekkie moet terug sleep die kinderhuis in, omdat ma – ten spyte van beloftes en voornemens – sonder verskoning nooit opgedaag het nie. Daar moet sy ‘n stukkende hart weer lap en plak – terwyl haar eie hart aan skerwe lê.

Ek moes self al inderhaas ‘n tetanus inspuiting kry, nadat ‘n ouer –  waar klagtes van  kinderverwaarlosing ondersoek is – hul kwaai hond op my gesit het!   

In Januarie vanjaar is daar terloops melding gemaak van ‘n kollega van ons in KZN, wat ook op ‘n ondersoek na kindermishandeling, deur die beweerde oortreder summier doodgeskiet  is – wat haar minderjarige kinders wees gelaat het. Sy was nie die eerste kollega wat haar lewe letterlik opgeoffer het nie – en gaan ook nie die laaste wees nie.

Soek mens op GOOGLE se soek enjin:  “Social workers being abused” kon ek byna nie een inskrywing kry nie!  Behalwe vir ‘n uitmuntende studie wat Dr Luce Pretorius  onlangs voltooi het oor die onderwerp, en voorstelle wat sy maak om geweld en mishandeling teen maatskaplike werkers te bekamp.

Besef die publiek dat, afgesien van die sekondêre trauma wat ons a.g.v. ander se trauma  beleef, ons ook soms deur kwetsende opmerkings, terugslae en selfs professionele rompslomp en aanslae van  sogenaamde kollegas, ook “geboelie” word?

Soos Shakespear sê: “If you tickle us, do we not laugh… if you prick us, do we not bleed…?” 

Inderdaad, maatskaplike werkers BLOEI … ook.

Dankie aan elke kollega vir die onbaatsugtige werk waarvoor min waardering gegee word, maar baie kritiek uitgedeel word. 

Ons salueer julle!

 

Tertia Vos

Maatskaplike werker:  Huis Prinsloo

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply