DPS Pleegsorg > nuus  > Dissipline vs Straf

Dissipline vs Straf

Vanoggend laai ek en my tienerseun grommend en blaffend  voor die skool  af – en dit oor ‘n paar onpaar kouse!

En skielik besef ek dat dissiplinering soveel makliker was toe ek hom op die “stout stoel” kon laat sit (of in daardie tyd: self ‘n raps op die boud kon gee!)

Voel dit vir jou ook soms dat jy jouself oor en oor te moet herhaal,  of dreig jy met ‘n straf wat jy heel moontlik nie gaan toepas nie…? En ontaard alles in geskreeu?  Of daar kom ‘n dag dat jy skielik besef ‘n pakslae nie meer die antwoord is, wanneer jou tiener bo jou uittroon nie…?!

Dit het my weer laat gryp na my boek en ouerleiding programme van weleer.  En raai, daar loop ek toe van my eie medisyne raak wat ek so lekker uitgedeel het aan ander moedelose (huis-)ouers met nukkerige tieners!  Ek word herinner  dat STRAF en DISSIPLINE eintlik ver van mekaar  verwyder is:

Straf is gerig daarop om te keer dat kinders nie weer die wangedrag moet herhaal nie, terwyl Dissipline ‘n heel ander storie is: dit moet ten doel hê om kinders te leer om hul gedrag te korrigeer, sodat hulle in die toekoms sal weet hoe om op te tree en wat van hulle verwag word.

Ons  kinders word aan baie meer blootgestel as wat ons in ons grootword jare blootgestel is:  daarom word weerbaarheid ‘n baie belangrike doelwit met opvoeding en dissiplinering.

Om effektief  te dissiplineer moet daar altyd op leiding en selfverantwoordelikheid gefokus word.  Makliker gestel:  kinders moet bloot leer dat hulle gedrag bepaalde gevolge het.  Gedrag is altyd ‘n keuse en indien hul keuse negatief is, word dit beloon met negatiewe gevolge. (Net soos positiewe gedrag beloon word met positiewe gevolge.)

Hier volg ‘n paar praktiese rigtingwysers  wanneer daar gedissiplineer word:

  • Wees spesifiek omtrent die onaanvaarbare gedrag – jou kind moet PRESIES verstaan WAT van sy gedrag onaanvaarbaar is, want hul dink nog meesal konkreet. (In my geval:  “jou stemtoon en disrespek staan my nie aan nie”)
  • Wees responsief sodat jou kind kan verstaan hoe sy gedrag julle verhouding beïnvloed (“Wanneer jy disrespekvol teenoor my optree, maak dit my ongelukkig en voel dit vir my of jy my nie respekteer nie)
  • Gee konkrete voorbeelde van wat jy in die vervolg verwag (“As jy ongelukkig is oor my manier van kouse vou/ sorteer, verwag ek van jou om op ‘n kalm en respekvolle manier met my te praat daaroor)
  • En – indien nodig – kan dit met ‘n negatiewe gevolg “beloning” opgevolg word (“Aangesien jy ‘n probleem met die kouse het, sal jy van nou af jou eie kouse vou, en ek verwag ‘n verskoning vir die disrespek  teenoor my”)

Op die wyse is jy op ‘n interaktiewe wyse betrokke by die proses, kan jy positiewe insette lewer omtrent wat jy in die vervolg verwag, en leer jy jou kinders om hul eie probleme op te los, of hul gedrag te korrigeer.

Maar soos wat Hettie Britz tereg met haar persoonlikheid profiele dit duidelik stel:  elke kind het ‘n unieke temperament, en dit is belangrik om dit in ag te neem wanneer daar gedissiplineer word.  Daarom sal jy vind dat jou een kind waarskynlik heeltemal anders op ‘n bepaalde  dissipline tegniek reageer, as die ander. Maak dus werk daarvan as jy vashaak, en kry meer inligting omtrent die belangrike aspek.

En ja:  DAAR IS ALTENATIEWE TOT LYFSTRAF!  Baie eenvoudig:

Jy neem ‘n voorreg weg (bv. TV, selfoon, uitstappies)

Of

Jy gee ‘n takie (“chore”) by (bv.  As jy ongeskik was met jou suster, gaan jy een van haar takies oorneem soos  skottelgoed-was, haar onverskoning vra en op die wyse  ook werk om julle verhouding te herstel)

O ja, en  laat die straf sover moontlik by die oortreding pas… (“restorative justice”)

Die hele ding laat my dink aan baie wyse woorde wat ek een oggend in die kerk gehoor het toe ‘n kundige ons kom toespreek het (ek vergeet ongelukkig sy naam):

“Ons kinders is soos ‘n groot bedding in ons tuin.  Ons, as ouers, is heeltyd besig om die onkruid uit te trek –  en dit is goed so!  Maar as ons nie soms blomme terug plant nie, gaan ons uiteindelik met ‘n bar stuk grond sit – waarin NIKS groei nie.”

Spreek onaanvaarbare gedrag aan (roei die onkruid uit), maar moenie vergeet om die saadjie van aanvaarbare gedrag, terug te plant nie!

Sterkte julle… Dissipline verg nogal kreatiwiteit!

(Tyd om nou die kouse op die wasgoedlyn te kry –  waaraan my seun vanmiddag lank gaan sorteer en vou

 

Groete Tertia

  • Met vergunning aan “COMMON SENSE PARENTING”
  • “HETTIE BRITTZ: Dissipline met deernis”

Tertia

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply