DPS Pleegsorg > nuus  > Gesinskamp te Venterskroon 2019

Gesinskamp te Venterskroon 2019

DPS Gesinskamp te Venterskroon
20 Maart tot 24 Maart 2019

Dit is weer vakansietyd, dit is rondomtalie draai…met die lirieke in ons kop en hope energie pak ons die derde Gesinskamp aan. Maande se beplanning, organisering en weke se aankope word ʼn werklikheid. Vier motors tot stampens toe vol gelaai vertrek 19 Maart 2019 uit Pretoria oppad na Venterskroon. Die opgewondenheid is aansteeklik en selfs nie die uitpak kan die personeel se energie blus nie. Rondom ‘n kampvuur word die laaste reëlings getref voordat die ouers, kinders en studente die volgende dag arriveer.
Donderdagoggend begin ons met die rustigheid van die natuur en ‘n heerlike koppie boeretroos. Ons studente arriveer so stuk stuk en kan jy die versigtige opgewondenheid op hul gesigte sien. Vir sommige is dit hul eerste kamp saam met ons en vir ander is dit al soos deel van die familie. Een ding het almal egter in gemeen…ons is hier om dit te geniet en ‘n verskil te maak. Die tema is nie verniet “Saam groei ons beter” nie. Elke student ontvang ‘n “Survival 101 kit” met hul pet, waterbottel en ʼn paar bederfies in vir die kamp.

Laat oggend arriveer die onderskeie huise, ouers en kinders en groet mekaar soos lang verlore familie, bande word opgetel en nuwes word gesmee. Die kinders is in groepe verdeel met seuns en dogters van verskillende ouderdomme. Die indeling het sy eie uitdagings gebied maar ongeag daarvoor het die kinders geleer om mekaar te akkommodeer, verdraagsaam te wees en saam te werk. Name en krete is uitgedink en vlae is ontwerp wat gehelp het om die gees op die kamp hoog te hou. Die studente het gedurende die vier dae die kinders besig gehou met aktiwiteite van boeresport, water speletjies, bergklim, lantern bekruip en selfs is daar konsert gehou.

Tussen al die aktiwiteite is daar ook tyd gemaak vir individuele groei waar die kinders sowel as die huisouers uitgevind het wat is hul onderskeie ouerskap profiele, sosiale profiel, werksprofiel en lewensuitkykprofiel. Ons het geleer van Koninkryke (situasies waar jy voor moet loop en skitter), Kouefront (situasies wat jou dreineer), Knetter en Knars (hoe jy is as ʼn prater, luisteraar, vriend en vegter), Kilimandjaro (kies om jou werk en verhoudings te verbeter), Kernhout (jy maak met jou natuurlike talente die wêreld ʼn beter plek), Kunsmis (dit gee jou krag, lag en lewe). Die gesinne het ook die geleentheid gekry om ʼn waarderingsboom saam te stel waar elke lid se unieke gawes bespreek is en hoe dit aangewend kan word om die harmonie in die huis te verbeter. Die tema van die kamp is gestand gedoen “ Saam groei ons beter”!

Vrydagmiddag is die kinders ook ingelyf in die fyner kunsies van die lewe. Die kinders, met die hulp van die studente en onder leiding van Hanli Pretorius en Ds Lisa Mari Swanepoel het geleer hoe om ʼn tafel te dek, te versier en die taak en rol van ʼn gasheer is aan hul verduidelik. Die kinders het gewoel en gewerskaf, tafels is versier, tafel indelings is gedoen en weer het hul geleer om as gesin saam te werk. Die geleentheid was swierig en het almal hul beste voetjie en uitrusting vir die geleentheid voorgesit. Om die woorde van een van ons seuns aan te haal “ Tannie moet mooi aantrek hierdie is ʼn baie grand storie”. Eregaste is verwelkom en na hul tafel vergesel en het die seuns van Elsburg huis selfs die vorige aand ʼn nagereg vir die geleentheid gemaak. Ons kinders, ouers en gaste het swierig gelyk in hul mooi klere, die kos span het gesorg vir ʼn heerlike ete en na afloop van die geleentheid is die gaste genooi vir koffie en is die saal opgepak en reggemaak vir ʼn sokkie waar die kinders hul nuutste dans bewegings kon wys – en het van hulle “moves”. Ons tannies se monde het oopgehang maar kon ons net nie bybly met die energieke danspassies nie.

Die kamp is Sondag op ʼn gepaste wyse afgesluit deur ʼn kerkdiens deur ds Lisa Mari Swanepoel waarna die motors gepak en almal weer die tog huiswaarts aangedurf het.

Ons wil graag vir al ons borge, donateurs, vrywilligers en studente hartlik bedank vir hul betrokkenheid by ons kinders en gesinne. Spesiale dank aan die volgende persone:
• Jaco Delport van JvD vir die finansiële bydrae
• NHK Wapadrant vir die finansiële bydrae
• NHK Gabarone vir jul ruim finansiële ondersteuning
• Ring van Krugersdorp vir hul finansiële ondersteuning
• NHK Midstream vir die skenking van koekies, beskuit, lekkers, melk, milo, koffie, suiker, koeldrank en sakke vir ons Ninapark huis
• Di Maryke Potgieter, Elmien Shaw en Lilian Erasmus vir die bederf pakkies vir ons pleegouers
• Direksie van die Kinderhuis vir die vertroue en ondersteuning
• Die beste kos span ooit (Lisa en Freddie Prinsloo, Hannelie en Hardus Schwartz, Sonet Esterhuizen en Johan van Deventer)
• Elke student wat tyd afgestaan het en help beplan het aan die kamp (Criska, Jorinda, Juandri, Lunette, Marune, Maryke, Robbert, Waldo, Yvette, Zack en Willem). Julle is ʼn ongelooflike span!
• Andries en Hanlie Pretorius vir al jul insette en ondersteuning.

Ter afsluiting – soos ek deur die foto’s gaan, die stemme van die kinders hoor en herinneringe oproep kom die vraag by my op “Was dit die moeite werd”. Die antwoord – Ja dit was! Ons leuse is nie verniet “Glo, Stabiliseer en Ontwikkel”. Ons glo dat daar ʼn beter toekoms is vir elke kind wat ons pad kruis en saam kan ons dit bewerkstellig. Groetnis tot ons volgende kamp!

Andries Pretorius
No Comments

Sorry, the comment form is closed at this time.