DPS Pleegsorg > Uncategorized @afr  > KERSBOODSKAP – 2021

KERSBOODSKAP – 2021

Lees Joh. 1 en  5, Klaagliedere 1 en 3

Die lewe is vol van allerlei gebeurlikhede en veranderlikhede wat soms die mens in sy diepste wese raak en dikwels die fondamente van sy lewe inmekaar laat sak. Elkeen kan sy eie storie vertel van die pyn en seerkry in die lewe, van omstandighede wat dikwels ʼn nuwe wending in sy of haar lewe teweeg gebring het. Dit mag wees die siekte wat soveel lyding bring, die dood wat ons troosteloos laat en die skielike trauma van die lewe. Hoe het die pandemie van die afgelope twee jaar ons nie stukkend en gebroke gelaat nie? Die dood was orals om ons en miskien is jy nog besig om te herstel van Cocid-19.

Maar hoe erg moet dit nie wees as iemand vir jou sê dat hy alleen is nie? Ek het oor al die jare van my bediening mense hoor sê dat hulle verskriklik alleen is, dat hulle hulself so verlate en eensaam voel. Dat dit ʼn pynlike situasie is waar niemand jou hand kan vashou of iemand sy of haar hand op jou skouer kan neersit nie. In dieselfde asem kan daar ook gepraat word van verwerping. Alleenheid en verwerping hoort dikwels bymekaar. So baie is alleen omdat hulle verwerp en uitgewerp is, omdat daar nie meer vir hulle plek in die samelewing is nie, nie meer plek in die ouerhuis, nie meer plek in die huwelik en so voel baie, ook nie meer plek voor God en by God is nie. Die gevoel van verwerping tree dikwels op die voorgrond wanneer ʼn bejaarde skielik in ʼn klein kamertjie in ʼn ouetehuis ʼn finale heenkome moet vind. So tree die gevoel van verwerping ook skielik in wanneer ʼn kind in ʼn kinderhuis of diakonale pleegsorg huis  opgeneem word en nie verstaan waarom die lewe so wreed en ongenaakbaar moet wees nie. Die pyn wat verwerping op die voorgrond plaas kan dikwels nie beskryf word nie. Dit is te erg om daaroor te praat, want verwerping gaan ook gepaard met woede en opstandigheid. Die bejaarde is kwaad vir hulle kinders omdat die kinders nou vir hulle besluite neem en dikwels ook verkeerde besluite neem. Ons jong kinders is kwaad vir hulle ouers, en begryp nie hoekom hulle nou aan nuwe ouers in ʼn nuwe huis gewoond moet raak nie. En op die ou einde is almal kwaad vir God, want ons glo mos vas dat God al hierdie swaar en moeilike omstandighede van die lewe wek en kweek.

Hoe erg moes dit nie gewees het vir man van Betesda (Joh. 5) wat al vir agt en dertig jaar siek was en oor al hierdie tyd die pynlike moes ervaar dat niemand hulle aan hom steur nie. As Jesus dan by hierdie man kom staan en vir hom vra of hy gesond wil word, dan is sy antwoord aan Jesus dat hy niemand het nie. Ja, niemand het om hom in die bad van Betesda te plaas as die water in beroering kom nie. Mense van die tyd het geglo dat die een wat eerste in die bad kom as die water in beroering kom, van sy siekte genees sal word. Maar vir agt en dertig jaar steur niemand hulle aan hierdie man nie. Hy is ʼn uitgeworpene. Hy is aan sy eie lot oorgelaat.

Die skrywer van Klaagliedere 1 verwoord sy eie verwerping in die vorm van ʼn gedig en stort dan sy hart voor God uit met die volgende woorde: “Dit is daarom dat ek so huil, dat die trane uit my oë stroom. Daar is geen trooster naby nie”.

Hoe erg moes dit nie vir Jesus gewees het om totale verwerping deur God te ervaar het nie? Dat Jesus dan aan die kruis uitroep, ja uitskreeu, “My God, My God waarom het u my verlaat?”. Johannes stel dit so mooi aan die begin van sy evangelie, dat Hy na sy eiendom gekom het, maar dat sy eie mense Hom nie aangeneem het nie. Ja, die tragiese is dat verwerping nie noodwendig die gevolg is van die gedragspatrone van vreemdeling en diegene vir wie ons nie ken nie, maar dat dit dikwels die gevolg is van dwase optredes deur ouers en familie en vriende, dat dit nie noodwendig verwerping is deur die onbekende nie, maar deur die bekende. Jesus is deur sy eie mense verwerp en verraai en verloën. Die afstand tussen bejaardes en hulle kinders, vind baie keer die oorsprong by die kinders en die afstand tussen die kinders in kinderhuise en pleegsorg eenhede vind dikwels hulle oorsprong by ouers en familie. Nooit kan ons egter vir God beskuldig dat hy die toestand van verwerping, eensaamheid en die pyn wat dit alles teweegbring, voed en instandhou nie. God verwerp geen kind, geen bejaarde en geensins diegene wat aan Hom behoort nie. God skep nie die chaos van pynlike eensaamheid en verlatenheid nie. God is nie die God van die modder en vuil van hierdie wêreld nie. God het wel eenkeer verwerp en uitgewerp, Homself doof gehou vir die skreeu van ʼn uitgeworpene, vir die pynlike noodkreet van sy eie seun Jesus Christus. Maar God het Hom verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat sou word nie, verwerp sodat ons nooit deur God verwerp sou word nie. God plaas nie kinders in die greep van verworpenheid nie. Hy het ook nie behae daarin dat bejaardes vervreemd van hulle geliefdes in klein kamertjies moet sit nie. God het in en deur Jesus sy hand uitgesteek na die man van Betesda en ʼn einde gebring aan die pyn van sy siekte, maar juis ook van sy eensaamheid en gevoel van verworpenheid. Die Klaagliedere se skrywer kon in Klaagliedere 3 die volgende belydenis doen as deel van die gedig en gepaardgaande lied: “Die Here is my lewe”.

Binne enkele weke vier ons Kersfees en vir baie van ons mag dit ʼn wonderlike tyd wees gesien teen alles wat ons gaan doen en belewe. Ons gaan saam wees met familie en vriende. Ons gaan as gesin mekaar geniet en belewe. Maar vir baie ander gaan die gevoel van verwerping en van eensaamheid juis weer op die voorgrond tree. Kinders in ons diakonale pleegsorg huise gaan dalk heimwee hê na hulle gebroke ouerhuis. Bejaardes gaan dalk maar Kersdag deurbring binne die vier mure van hulle kamertjie.

Kan ons dit vir hulle anders maak? Kan ons die vervreemding, verwerping en eensaamheid uitblok. Ons kan, maar dan nie deur sisteme en organisasies met al hulle goeie werk die afgelope tyd nie. Hulle verdien ook ʼn ruskansie. Maar jy kan gaan staan by iemand se bad van Betesda en jou hand uitsteek. Jy kan ʼn bejaarde gaan besoek en liefde toon wat getuig van warmte en opregtheid. Jy kan ook gaan staan by die kruis van Golgota en weet en verkondig dat God jou en hulle in eensaamheid en verlatenheid, nooit sal verlaat nie. Gaan maak ʼn draai by ons kinders in versorging. Net jy en jou teenwoordigheid kan dit ook Kersfees maak in hulle lewe!

Ds Jan Kramer

2021

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply