DPS Pleegsorg > nuus  > Kersoordenking – Kinderhuise van die NHKA (DPS Huise)

Kersoordenking – Kinderhuise van die NHKA (DPS Huise)

Om vorentoe slim te wees, die toekoms in wat “toe” is, is nogal ‘n redelike uitdaging vir elkeen van ons. Wie van ons weet hoe gaan die COVID19-pandemie homself uitspeel en uitwoed? Om “terugslim” te wees is nie te moeilik nie, want jy kan mos terugkyk oor jou lewe en sien waar jy die foute gemaak het…

Vir die Direksie van die Kinderhuise en die DPS-Huise was 2020 ook ‘n uitdagende jaar waarin ons nie anders kan as om ook die Here se onuitspreeklike seën raak te sien en wonderwerk op wonderwerk uit die Hand van  die Here te beleef nie.

Ons is deur ‘n jaar in 2020 wat onthou sal word as ‘n jaar wat ‘n Januarie, ‘n Februarie, ‘n Maart, ‘n Covid en toe sommer ‘n Desember gehad het…Ons betree eersdaags die tyd in die kerk wat bekend staan as ADVENT, wat letterlik vertaal beteken “na die koms van…” Jesus. Mag ek jou vra watter gevoelens het jy hierdie tyd van die jaar? Is dit goed of sleg? Watter ervarings laat jou so voel, soos wat jy voel?

Winston Churchill het die volgende waar opmerking gemaak, toe hy gesê het: “Kersfees is nie net ‘n tyd van blydskap nie, maar ook een van nadenke.”

Saam met hierdie gevoelens wat jy tans beleef begin ons stadig maar seker ook in die agterkop oordink: “’n Kind is vir ons gebore!”

Het jy al opgelet hoe babas die beste in mense na vore bring?  Dink ‘n bietjie daaroor: mense praat saggies, vriendelik en liefdevol waar babas teenwoordig is – hulle begin sommer in ‘n brabbel-babataal met die kindjie kommunikeer, so asof die kind hierdie unieke dialek moet verstaan. Familielede kom bymekaar om die nuwe baba te sien &  baie spesiaal te ontmoet. Vriende bring geskenke en etes aan die uitgeputte ouers wat soms vir  nagte nie ‘n oog toemaak tydens die “payama-drill” nie. Om nie eens te praat van mense wat altyd gawer is teenoor verwagtende vroue nie (en tereg ook so). Dis, interessant genoeg, hoe die Kersverhaal dan ook begin: met ‘n klein pap babatjie en twee brose ouers.

Jesaja 9:6-7 sê vir ons dat daar “vir ons ‘n kind gebore is, ‘n seun aan ons gegee is,” en daardie kind is Jesus. Dit is en bly maar ‘n ongelooflike unieke manier om ons wêreld te betree, as ‘n weerlose baba. Hierdie Wonderbare Raadsman en Vredevors, is die Redder van die wêreld, waarvoor mense gewag het. Wanneer Hy aarde toe kom sal profesieë vervul word. Hierdie baba, gebore uit ‘n maagd, het ‘n man geword wat ‘n volmaakte, sondelose lewe gelei het. Hy het aan ‘n kruis gesterf en uit die dood opgestaan, en vir ons die geleentheid gegee om van ons sonde verlos te word. 

Dis waaroor Kersfees gaan. Desember is egter vol dinge wat ons aandag verg:

Om die regte geskenke te kry vir die mense op ons lysie.

Om buitengewoon vriendelik te wees wat ons woorde en dade aanbetref.

Om ‘n smaaklike ete vir ‘n partytjie voor te berei.

Om ‘n aanskoulike kerskaartjie te skep om aan vriende en familie te stuur.

Om deel te neem aan aktiwiteite omdat dit ‘n tradisie is.

Dis alles goed en wel! As ons egter nie versigtig is nie, kan ons toelaat dat die manier waarop ons feesvier, die Een wat gevier word vervang. Ons kan op Jesus gefokus bly terwyl ons plesier vind in die seëninge van God. Ons is veronderstel om dinge te geniet, nie te aanbid nie.

Kersfees bring iets in ons almal te voorskyn. Daardie iets in ons wat vrygewig, feestelik, vriendelik en sosiaal wil wees. Hoe sal dit egter wees as ons nie hoef te wag tot Kersfees toe om dit doelbewus te doen nie? Ons hoef nie tot Desember toe te wag nie…

…ons kan bydra tot ‘n nie-winsgewende organisasie.

…ons kan vriendelik wees en mooi met ander mense praat.

…ons kan ‘n ete vir ons beste vriende voorberei.

…ons kan ‘n kaartjie aan ‘n familielid stuur.

…ons kan die hele jaar lank “rituele” skep rakende ons geloof.

Dit klink na ‘n moeilike opdrag, maar dit is nie. Ons moet dit net doelbewus doen. Ons moet dit in ons dagboeke aanteken, notas maak en dit net eenvoudig doen. Dink daaraan hoe dit sal voel as ons in Desember hierdie frases hoor: “Kersfees is ‘n tyd om te gee” of “Dis die tyd vir familie en vriende”, en ons het dit alreeds vir die afgelope 11 maande reeds gedoen.

Mag Kersfees ook vir jou ‘n heel jaar fees wees, omdat ‘n Kind gebore is wat jou hele lewe vir altyd verander het. Mag jy dit geniet om hierdie gees van vrygewigheid heeljaar te hê.

Geseënde Christusfees! Mag 2021 vir jou ook ‘n Geesvervulde jaar wees.

 

Ds Jimmy Manders

Vise Voorsitter

Kinderhuis Direksie

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply