DPS Pleegsorg > nuus  > Maatskaplike werker is nie n “miracle worker” nie

Maatskaplike werker is nie n “miracle worker” nie

Kom ons dink bietjie aan die stelling:  “Is ʼn maatskaplike werker ʼn wonder werker?”.  Ek gaan die stelling verduidelik nav my eie persoonlike reis. 

Matriek, die lewe lê voor my en ek het nog geen idee wat ek wil studeer.  My ma se onderwys my pa se BCom, elkeen gee raad vanuit sy eie verwysing.  Luister mens op skool na jou ouers?  Elkeen kan die vraag vir homself antwoord.  My vriendin kom met die oplossing – Wat van maatskaplike werk?  Sy reken ek is goed met tieners – en net daar is die saadjie geplant.  Februarie 1992 stap ek met vlinders op die maag en sterre in my oë by Tukkies in.  Ek gaan lewens verander, of so het ek gedink.  Wonder werker?  Vir 4 jaar leer ons al die teorie, beginsels, leer verslae skryf en doen darem so bietjie prakties.  In Desember 1995 “vang” ek graad en begin my soektog na die regte holte vir my voet om daai verskil te gaan maak.  Soos enige maatskaplike werker begin jy onder, jy leer, maak foute en probeer weer.  Jy probeer jou eie persoonlike aanslag vind..waarin is ek goed?  Ek dink by myself as ek net vier jaar kan uithou, een jaar vir elke jaar wat ek gestudeer het, dan sal ek ok wees.  Gedurende die tyd hoor ek ook gereeld die stelling “Ek sal dit nie kan doen nie, my hart is te sag of ek kry mense te vinnig jammer”.  N Opstand broei in my…is my hart dan nie sag nie, kry ek nie ook mense jammer nie?  Tyd is ʼn wonder soete ding, jy vind daai holte vir jou voet, jy begin vertroud raak met jou werk en raak gemaklik met jouself.

Ek gaan nou die “fast forward” knoppie druk.  Dit is tien jaar later, ek het geskuif van Pietersburg na Pretoria, groter kantoor, meer kollegas en groter problematiek.  Ek leer die waarde van ʼn span kollegas wat jou bystaan en wat jy kan vertrou.  Ek leer werk kan pret ook wees maar dit hang alles van jouself af.  Ek leer op my voete dink, planne maak en krisis hantering raak deel van my daaglikse woordeskat.  Êrens langs die pad verloor ek my onskuld maar ek bly hardnekkig vasklou aan die geloof in die moontlikheid van die mens.  Ek stap in huise in wat so vuil is dat jy te bang is om te sit, ek leer snobisme bring jou nêrens, om verskil te maak moet jou jou kliënte op eie vlak ontmoet.  Vier jaar se studies leer ek om te sif maar besef die beginsels bly dieselfde.  Ek sien kinders wat so verniel is deur die lewe, ogies leweloos, vuil maar nie wil weggaan van hul ouers, die bekende.  Ek investeer in gesinne, besef gesinshereniging is my passie, ek glo hierdie gesin kan ek red –  baie ironies as jy besef ek doen nou slegs pleegsorg. Ek raak deel van die area waar ek werk, mense leer my ken en vertrou en so stap my reis as maatskaplike werker aan.  Ek kan vandag terug kyk en se ek het soveel by my kliënte geleer, ek het lief geraak vir hulle.  Die Tant Stienies en stoute kinders het diep in my hart ingekruip.  Ek het geleer en gegroei en soos baie dinge in die lewe was dit tyd om aan te beweeg.  Die wat my ken, sal weet dat ek, net soos baie van die mense met wie ek daagliks gewerk het, bang is vir verandering. 

Die volgende Hoofstuk in my lewe begin, Programbestuurder, steeds by Rata (Ondersteuningsraad).  Nou kry ek die geleentheid om dit wat al die jare in my geïnvesteer is terug te gee.  My mentor se woorde “Jy doen nie die werk om gewild te wees nie” kom gereeld by my op.  Ek besef n moeilike kliënt en n moeilike maatskaplike werker is twee totaal verskillende spesies – gee my eerder die moeilike kliënt.  Ek leer van beplan, bestuur, begrotings, onderhandel met die Staat en ek leer dat maatskaplike werkers ook seer het.  Die daaglikse trauma waarmee hulle, soms nog nie 22 jaar oud, gekonfronteer word, maak letsels.  Die trauma bou op maar tyd vir “selfcare” is min.  Ek leer humor is soos goeie medisyne, daarom dat mense dikwels nie maatskaplike werkers se humor verstaan.  Ek leer dat adrenalien goed is, dit vat tydelik die hartseer en trane weg maar ek leer ook dat wanneer alles verby is, trane en n gewillige skouer broodnodig is.  Ek leer dat ondanks ure se ondersoeke, traumatiese verwyderings, maatskaplike insette, onderhandeling met prokureurs en landdroste en terapie sommige kinders steeds verkies om terug te gaan na die bekende.  Die vraag:  “Maak ek regtig n verskil” kom meermale by my op.  Ek besef dat ek êrens tog my onskuld verloor het.  Ek het dinge aanskou wat persone dubbeld my ouderdom is, nooit sal sien en beleef en ervaar.  Ek het verwyderings saam met die Nasionale Intervensie Eenheid hanteer, ek het agter kinders aangehardloop wat weghardloop, ondersoeke rakende kinderprostitusie, kinderhandel en kinderpornografie het deel geword van my wêreld.

In 2017 het ek geweet, ek kan nie meer voortgaan,  my tyd as veldwerker/statutêre werker het tot n einde gekom.  Dit was my laaste verwydering in Oktober 2017, daai een saak wat die laaste druppel in die emmer was.  N Saak wat my altyd sal bybly, nie net vir die trauma van die verwydering, maar ook die wete dat ek nie meer so kan voortgaan.  Waarheen gaan jy as maatskaplike werker met 21 jaar ondervinding?  N Groot wroeging het in my binneste geheers. Het ek gefaal as maatskaplike werker, is ek dalk net nie goed genoeg nie, het ek werklik n verskil gemaak?  Berusting kom met die wete dat dit nooit in my hande was nie, God is in beheer. 

Op 1 Maart 2018 maak die Here vir my n nuwe deur oop – DPS Huise.  My begeerte as jong maatskaplike werker was altyd om met kinders te werk en 22 jaar later maak die deur vir my oop.  Nuwe uitdagings, baie frustrasies, hope lekkerte en die wete ek is nou waar ek moet wees, hier moet ek blom waar God my geplant het. 

Wat het ek geleer en wil ek graag hê ouers en kinders moet weet:

  • Maatskaplike werkers het nie altyd die antwoorde nie
  • Maatskaplike werkers is ook net mense, ons kry seer, ons harte huil vir die stukkende wêreld waarmee ons daagliks gekonfronteer word
  • Ons is nie harde mense, maar iemand moet as kampvegter optree vir al die stukkend mense daar buite.
  • In werklikheid is ons harte baie sag
  • Ons het n “wicked” sin vir humor

In kort, maatskaplike werk gaan oor passie, deursettingsvermoë, foute maak en leer en het ons nie “super powers” of is wonderwerkers nie – ons is net gewone mense wat deur God geroep is om die werk te doen.

Suzanne van Deventer

Programbestuurder:  DPS Huise

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply