DPS Pleegsorg > nuus  > Magie vol, ogies toe?

Magie vol, ogies toe?

Ons begewe ons in ‘n malheid en skaf kort na Nuwejaar vir ons ‘n baba hondjie aan. Hy word stiptelik na die veearts geneem vir inentings, spesiale kos gekoop, ‘n bed word aangeskaf en hy word elke paar ure gevoed.  Saans tjank hy weemoedig as ons hom in die bed sit, want sy wêreld is op sy kop:  dis vreemd, alleen sonder sy boeties en ma, en hy verstaan nie skielik die nuwe reëls van “buite sy draaie loop nie.” Die wekker wat tik-tik langs die arme diertjie bring net bietjie verligting  en al wat werklik help, is wanneer hy knus langs my ander hondjie gaan lê – wat ook maar jaloers knor as hy dit te naby waag.

In dieselfde tyd spook ons DPS-maatskaplike werkers, -bestuur  en huisouers met die nuwe opnames van kinders in ons huise, Dis ‘n gesoek na ekstra klere, beddegoed, plek in skole en  genoeg kos in die spense om ‘n vol huis kinders te voed.  Dit eis sy tol.

Die ironie van die twee situasies tref my skielik:  hierdie kinders van ons se wêrelde is ook op hul kop:  dis vreemd, alleen sonder hulle bekende mense, en skielik is hier soveel ander reëls wat hulle nie ken nie. Selfs ‘n “jaloerse knor” van die ou inwoners is ‘n gegewe. ‘n Nuwe bed, magies vol kos of die getik-tik van ‘n wekker gaan ook nie vir hulle help nie. Vir nou is dit maar ‘n baie vreemde plek om te wees…

In die hoof se kantoor besef ek net weer hoedat bloed kruip waar dit nie loop, toe die 15 jarige seun wat nou moet koshuis toe, se eerste bekommernis is: “ maar gaan ons darem nog ons ma met DPS- uit naweke sien?” Vakkeuses, boeke, tweedehandse  klerebank-klere en in geleefde beddens is nie eens in sy voorgrond nie.

Ons volwassenes werk so hard om fisies in die kinders se onmiddellike  behoeftes te voorsien, dat selfs ek, as gesoute DPS-maatskaplike werker, die “tema / storie” van ons DPS kinders se lewe miskyk:  VERWERPING.

Meeste van die kinders wat ons in die jaar opneem, het reeds ‘n mislukte pleeg- of kinderhuis plasing agter die rug, laat staan nog die aanvanklike verwydering uit ouerlike sorg.  Om twee of drie keer in jou kindwees-tyd te moet skuif omdat “omstandighede nie bevorderlik is nie”  of omdat “ek nie belangrik genoeg is om te kan bly nie”, moet tog ‘n traumatiese ervaring wees? Dis niks anders as verwerping nie, maak nie saak of dit omstandighede buite ‘n volwassene, ouer of pleegouer se beheer is nie, kinders het nie die emosionele kapasiteit om dit te verstaan nie.

In die 20 jaar+ as maatskaplike werker is dit die moeilikste tema vir my om met ons kinders deur te werk, wat ook al die rede vir die “verwerping” wat hulle beleef.  Kinders besef nie eens altyd dat VERWERPING die rede vir hul depressie, swak selfbeeld, wantroue , aggressie, selfbeserende gedrag en hulpeloosheid is nie.  So dikwels word die simptoom van VERWERPING (aggressie, depressie, selfbesering en so kan ek aangaan) “gedokter”, maar nooit word by die wortel van die kwaad uitgekom nie.

VERWERPING word nie net  psigologiese en emosionele pyn nie.  MRI-studies het getoon dat die brein dieselfde reageer op verwerping / psigologiese pyn, soos wanneer die liggaam fisiese pyn sou beleef. Dus kan kinders selfs fisiese pyn beleef wanneer hul verwerp voel.  Dis waarom ons  psigiese pyn soos verwerping meer intens beleef, as wat fisiese pyn beleef kan word.

Studies bewys selfs dat verwerping die intellektuele vermoëns van ‘n persoon tydelik negatief kan stem: die korttermyngeheue en vermoë om goeie keuses te maak, word baie negatief daardeur beïnvloed.

Die mens het ‘n fundamentele behoefte om “te behoort.” Verwerping veroorsaak dat hierdie behoefte gedestabiliseer word.  Dit is een van die hoof oorsake dat kinders die risiko loop om gewelddadig, afgestomp en empatieloos deur die lewe te gaan, nie noodwendig altyd die gevolg van dwelms, mishandeling of pyn nie.

Omdat die letsels van verwerping en emosionele verwaarlosing nie fisies aan die lyf gesien word nie, word dit  boonop baie maklik misgekyk, en is dit selde relevant tot ons wêrelde.  Waar ‘n kind fisies mishandel word, kan ons sien en optree – met emosionele verwaarlosing en verwerping is dit ‘n ander storie…

Is dit dan ‘n hopelose situasie?  NEE…geensins nie!  Waar daar empatie is deur ‘n substituut-ouer of betekenisvolle ander; gehelp word  om aggressie effektief te kanaliseer; die selfwaarde ontwikkel en gekoester word deur onvoorwaardelike liefde, aanvaarding, en die behoefte om iewers te behoort, vervul word, kan baie wonde as gevolg van verwerping tog heel.

En DIT is die rede waarom ek bly glo dat instansies soos DPS-pleeghuise, waar individuele aandag en ‘n huislike atmosfeer nagestreef word, en daar liefdevolle volwassenes die kinders se lewens kan betree,  altyd hoop sal gee  vir kinders wat die stryd teen VERWERPING stry.

Dink en bid saam vir elkeen betrokke by die huise en vir pleegouers elders, wat die onbaatsugtige werk doen om te help genees waar verwerping verwoes.

 

Tersia Vos

Maatskaplike werker:  DPS Huis Prinsloo

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply