DPS Pleegsorg > Uncategorized @afr  > Ontmoet ons pleegouers (Deel 1)

Ontmoet ons pleegouers (Deel 1)

Oor die volgende ses maande gaan ons elkeen van ons ongelooflike pleegouers aan julle voorstel, met hul toestemming natuurlik.  Indien julle ons artikel van Julie 2021 op ons Webblad gevolg het sou jul sien ons pleegouers vorm deel van ons multi-professionele span en dien hulle is ko-terapeute in ons kinders se pad na herstel.  Hulle is die baie belangrike skakel tussen die maatskaplike werkers en ons kinders en daarvoor se ons vir hulle dankie!

Hendrik en Ina Jooste van Ninapark DPS Huis
 

Tydens ʼn heerlike koppie koffie het ons die volgende van die Jooste-egpaar geleer en plaas ek graag hul antwoorde op ons vrae.

Hoeveel kinders het julle tans in julle sorg?
Ses

Vertel vir ons bietjie meer oor julleself:
Hendrik is gebore in Johannesburg. Hy het sy Laerskoolloopbaan in ‘n koshuis in Pietermaritzburg en Hoërskool in ‘n koshuis in Heidelberg deurgebring.

Ina is gebore in Bloemfontein en voltooi sy haar laerskool en hoërskoolloopbaan in Springs.

Die twee ontmoet mekaar deur familie.  Hendrik se broer en Ina se suster was voorheen getroud.  Wanneer Hendrik naweke pas gekry het uit die weermag het hy by hulle kom kuier en uit verveling Ina se ma kom help met takies. Dit is dan waar Ina hom ontmoet het en vriende geraak het.  Eers sowat 3 jaar later het hul verhouding vlam begin vat en nog 2 jaar later is hulle getroud.

Twee pragtige kinders is uit hul huwelik gebore.  Chris is getroud met Leanne en bly in Kempton Park. Hy werk vir CAT en Leanne is ‘n akte prokureur. Charlene kuier tans by ons aangesien sy haar werk verloor het gedurende die Corona grendel tydperk.  Sy is egter nou hard aan die leer om ʼn onderwyseres te word.

Hoe lank werk jy/julle al nou by die DPS huis?  Hoeveel kinders het julle al gedurende die tyd versorg?
Ons het Januarie 2003 by die DPS huis in Elsburg begin werk en Januarie 2008 het ons ‘n oorplasing na DPS huis Ninapark toe gekry.  Dit is dus nou ons 19de jaar by in die DPS stelsel.  Gedurende hierdie tyd het ons 27 kinders versorg (insluitende ons huidige manne).

Wat staan vir jou uit in die tyd wat jy al by die DPS pleegsorg sisteem betrokke is?
Die verskil wat ons in die lewens van die kinders maak en die goeie harte en oop hande van mense wat betrokke is by die huise en die kinders staan beslis uit. Terwyl hulle in die huis is voel dit dikwels ons maak geen verskil nie want dit voel of ons hulle niks leer nie, maar wanneer hulle eers die huis verlaat het en hulle kom kuier besef ons dat hulle alles vir hulle kinders leer wat ons so hard probeer het om vir hulle te leer.  ‘n Hele paar van hulle het al teruggekom en kom dankie sê, noudat hulle self kinders het besef hulle waarom ons sekere reëls gehad het.  Dan besef ons dat ons hulle tog waardes geleer het.

Hoekom het jy/julle besluit om pleegouers te word en hoe het dit julle lewe verander?
Toe die DPS stelsel nog net begin het, het Ds Rademeyer ons gevra of ons nie wil aansoek doen nie aangesien ons op daardie stadium na ons familie se kinders gekyk het en ek en Hendrik werkloos was. (Ek het ‘n paar jaar tevore ‘n pakket by die destydse Spoorweë gevat en ‘n jaar later het Hendrik sy werk verloor toe hulle afdeling van die Poskantoor geprivatiseer is en die kontrakteur het van sy eie mense gebruik gemaak.)  Ek is afgekeur as pleegouer omdat ek nog nie ‘n pleegouer keuring ondergaan het nie. Sewe jaar later het ‘n pos by DPS huis Elsburg vakant geraak en aangesien ek intussen privaat pleegsorg begin doen het, het ek weer aansoek gedoen en is toe aangestel.

Ek het baie besittings (waardevol en sentimenteel) al gedurende my verblyf in die stelsel verloor en deur die jare besef dat aardse goed nie so belangrik is nie, maar dat dit baie belangriker is dat ek belê in kinders se ewigheid waarde.

Is daar enige staaltjie wat jou vir altyd sal bybly (oulike gesegde, kind wat ʼn impak op jou lewe gemaak het, gebeurtenis)
Op ‘n stadium het ek uit my pad uit gegaan om die kinders se selfbeeld te probeer opbou en versterk. Op ‘n dag hoor ek die kinders stry met mekaar en die volgende oomblik storm enetjie baie ontsteld in en sê: “Tannie, jy moet asb. kom help, die ander breek alweer my standbeeldjie af!” ‘n Ander kind wat ingekom het kon op 4 jaar geen woord praat nie. Ons het baie ure se pret gehad om hom te leer praat.
 
Het julle nog enige kontak met kinders wat reeds die sisteem verlaat het?
Ons het kontak op WhatsApp en Facebook met meeste van die seuns wat reeds uit is.  Sewe van hulle kom gereeld kuier en vertel vir ons wat in hulle lewe aangaan en kom stel hulle vrouens en kinders aan ons voor.
 
As julle vir die publiek iets kan sê oor wat julle werk behels, wat sal julle sê?
Ons het ‘n baie harde en emosioneel uitputtende werk, maar dit is baie bevredigend wanneer ons agterkom al ons moeite was nie verniet nie.  Alle hulp wat ons ontvang wend ons aan om ‘n positiewe verandering in die kinders se lewe te maak.  Baie dankie aan elkeen wat ons werk makliker probeer maak, julle bydraes maak ‘n enorme verskil in ons kinders se lewens en al sien ons nie altyd dadelik ‘n verskil nie, sien ons dit wel later wanneer hulle reeds die huis verlaat het.
 
Wat is jou/julle lewens leuse?  Wat wil julle graag vir die kinders in julle sorg leer (amper soos ʼn legacy)?
Ons leuse is:  Gee altyd jou beste, wees eerlik, opreg en doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê, dan sal jy suksesvol en bemind wees en die beste deel daarvan is dat God jou eendag daarvoor sal beloon.  Hy het dit in die Bybel vir ons belowe en Hy breek nooit ‘n belofte nie.

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply