DPS Pleegsorg > nuus  > Projek: BOEKWURM

Projek: BOEKWURM

‘n Paar weke gelede kry die DPS-huise boeke as geskenk om die kinders besig te hou tydens grendeltyd.  Groot was ons huisouers en maatskaplike werkers se verbasing dat die boeke toe NIE vir deur stoppers en wit olifante in kamers gaan lê en stof vergaar nie!  (Blykbaar is daar tog voordele aan die grendeltyd!)

Die kinders – en selfs die tieners – is opgewonde om daar deur te blaai (en hopelik ook te lees).  Ek moes selfs ‘n onderonsie tussen twee groot seuns aanhoor oor ‘n boek  met trekkers en boerdery wat hulle oor wedywer en skelm uit mekaar se kamers “wegdra”

En so word PROJEK BOEKWURM gebore:

Een van ons pleegmoeders (Beulah Loubscher) neem dit op haar om katalogusse op te stel vir al die boeke wat geskenk is, en ‘n klein DPS biblioteek sien die lig!  

Sy deel die volgende:

“ Met groot opgewondenheid wil ek nou die nuus met julle deel dat ons Biblioteek…… Die Boekwurm nou kant en klaar is.  Ons het ongelooflike oulike boeke as geskenk gekry….

Ons plan met Die Boekwurm is dat al die boeke op ‘n sentrale punt gestoor word en die boeke dan roteer tussen al ons DPS huise en sodoende kry al die kinders geleentheid om die boeke te geniet.  

Ek vra ook dat indien daar ‘n boek of drie rondlê wat julle wil skenk, is julle baie welkom! 

Kom ons kweek by ons kinders die goeie gewoonte van lees aan, en leer hulle dat lees is kennis en kennis is mag!! “

So, waarom is dit nou EINTLIK nodig om ‘n leeskultuur in ons (DPS) huise te vestig?  Die mees logiese antwoord is :  OM KINDERS SE SKERMTYD TE BEPERK! 

Maar hou in gedagte dat baie van ons DPS-kinders nie selfone en tablette het nie, baie biblioteke in die slag gebly het, en dat die inperking  geleentheid om uit te gaan,  lees- en ervarings geleenthede vir ons kinders verder beperk.

Ons kinders moet egter steeds ingelig en blootgestel word aan die wêreld daar buite, en natuurlik….BLY LEES! Daarom is ‘n projek soos hierdie van onskatbare waarde.

Ons weet dat lees ‘n kind se taal- en leesvaardigheid ontwikkel, maar ander faktore is veral vir ons DPS kinders selfs belangriker:

  • Kinders in ons sisteem se leefwêreld is dikwels beperk, en met die projek, word hulle blootgestel aan ‘n wêreld buite hulle eie verwysingsraamwerk – hulle leer van plekke, ervarings en probleemoplossing ver verwyder van hulle eie wêreld.
  • Dit bou aan hulle karakter deur die blootstelling aan ander gesonde karakters wat nie noodwendig deel is van hulle ervaringswêreld nie
  • Hulle doen ervaring op deur die ervaringe van ander mense se avonture, hulle hantering van moeilike situasies, en word selfs met morele vraagstukke op basiese vlak gekonfronteer…
  • Die kinders se natuurlike sin vir kreatiwiteit en nuuskierigheid word juis geprikkel deur die blootstelling aan plekke, situasies en geleenthede wat hulle nie noodwendig in die huise sou ervaar nie – en dit deur keurige en goedgekose literatuur, waaroor ons as volwassenes tog steeds ‘n ogie kan hou.
  • En is die tasbare blaai, ruik en voel van ‘n boek se bladsy saam met ‘n pleegmoeder voor slaaptyd nie steeds ‘n grootse ervaring, wat nie deur die flikkerende klein skermpie van ‘n foon vervang kan word nie?

Dus, indien u oor enige kinder – en tiener leesstof beskik, wat nog in ‘n goeie toestand is, en relevant  tot vandag is – kan u enige van ons DPS huise kontak of vir Suzanne van Deventer by suzanne@rata.org.za wat die boeke met graagte sal oorneem, en meer nog, leer oppas en onder mekaar deel.  Baie dankie aan elkeen wat reeds boeke geskenk het!

DPS = Groete!

Tertia Vos

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply