DPS Pleegsorg > nuus  > Self-mutilasie / Cutting

Self-mutilasie / Cutting

Verlede week kom ek en ‘n paar van my kollegas in privaat praktyk bymekaar, meesal om bietjie ondersteuning te bied, te klankbord en net weer te herlaai.  En wat ‘n interessante byeenkoms was dit nie!

Die gesprek vloei in die rigting van self-mutilasie, of soos dit dalk in Engels meer algemeen bekend is:  “Self – harm “ of “Cutting”.  Dis ‘n tendens wat al meer opduik onder ons tieners, ook in ons DPS-huise. En ek kom tot die besef dat die samelewing (en selfs ons maatskaplike werkers) maar bra onkundig is omtrent die saak.

Gelukkig het ek ‘n kundige kollega wat weekliks met die kinders werk, en sy deel gulhartig haar kennis met ons, wat ek op my beurt weer met julle deel :

Kinders wat hulself sny, het nie selfmoord in gedagte nie. Sy stel dit duidelik: “selfharm is an attempt to cope with life, not END life…” Maar sy waarsku ook dat die chroniese behoefte om hulself te sny, tot erge beserings kan lei, wat wel tot die dood kan lei, aangesien die self-toediening van wonde d.m.v .sny, al dieper en gevaarliker word. So ja, dis ‘n ernstige saak!

So, wat motiveer hierdie vreesaanjaende gedrag?

  • Die doel daarvan is om die emosionele  pyn met fisiese pyn te vervang (“numbing”) Jy kan vir  ‘n fisiese wond ‘n pleister opplak, dit dokter en dit word gesond – maar dis nie noodwendig die geval met emosionele pyn nie…
  • Dit bied ‘n (tydelike) gevoel van BEHEER in situasies waar hulle elders NIE in beheer voel nie
  • Dit bied vir hulle ‘n manier om emosionele  pyn soos verwerping, hartseer, eensaamheid en angstigheid te verplaas en te verlig.
  • Soms is dit ook ‘n manier om hulself te straf, of om hulp te roep
  • En – teenstrydig soos dit klink – bied dit ‘n geleentheid om juis verligting en plesier te ervaar, aangesien die liggaam chemiese stowwe vrystel wat juis pyn verlig wanneer dit seerkry. Sodoende ervaar hulle ‘n gevoel van vinnige (en tydelike) euforie (“high”) wanneer hierdie oordrag stowwe hul liggaam oorspoel.

 Dis veral kinders wat depressief en angstig is –  maar ook verwaarlosing, mishandeling, afknouery en verliese ervaar – wat hoe risiko-gevalle kan word.

Wat interessant is, is dat die self-mutilasie die selfde siklus as verslawingsgedrag volg:

    • daar is die gevoel van angstigheid of ongemak,
    • dan die impuls (bv om te sny / dwelm te gebruik)
    • angstigheid in die poging om die impuls te onderdruk
    • die toegee aan die impuls
    • die gevoel van spyt en skuld wat dit dan meebring
    • net om weer terug by angstigheid uit te kom.  –  Dit alles bring mee dat ‘n bose kringloop ontstaan –

Die hantering en terapeutiese proses van self-mutilasie sal dus meesal die selfde pad as die hantering van ‘n afhanklike meebring. Alhoewel ‘n persoon aangemoedig moet word om dringend hulp te soek, en die gevare van hul beserings duidelik uitgespel moet word, is dit noodsaaklik dat die onderliggende redes en gevoelens agter die gedrag, eksploreer moet word. Nuwe hanterings vaardighede moet aangeleer word om die negatiewe hanterings vaardighede te vervang, wat dan ‘n persoon toerus om ‘n situasie alternatiewelik te hanteer, as om homself bv te sny. Dis egter belangrik – soos met afhanklikheid – dat die persoon die gedrag WIL verander, en dat daar ‘n ingesteldheid tot verandering moet wees.

Hierdie is nie ‘n probleem wat slegs deur ‘n ouer of geïsoleerd binne ‘n gesin hanteer kan word nie: Dis van kardinale belang dat kundige en professionele hulp so gou moontlik gesoek moet word, om te voorkom dat beserings ernstiger word, en ook om nuwe hanterings vaardighede aan te leer – ook in gesinsverband. MOENIE HUIWER NIE, GAAN SOEK ONMIDDELLIK HULP! – verkieslik by professionele mense wat ook o.a met afhanklikheid werk.

Wees geduldig, verleen ondersteuning deur te luister, en maak erns hiermee…dis nie stoutigheid of aandagsoek nie – dis ‘n kreet om hulp!

(Hierdie artikel het slegs ten doel  om mense bewus te maak van die tendens onder ons kinders, en om  in die algemeen agtergrond te verskaf . Indien jy bewus is van enige persoon in jou lewe wat  hierdie moeilike stryd stry, of meer vrae het, kontak onverwyld ‘n professionele persoon wat nodige inligting en leiding kan verskaf)

Met dankbare erkenning aan Marlet Els

Maatskaplike werker in Privaat Praktyk

Sel 083 785 6804

Bronne:

http://www.sadag.org/index.php?option=com_content&view=article&id=76:teens-who-self-harm&catid=60&Itemid=189

www.psychiatry.org/patients-families/depression/what-is-depression

www.teenmentalhealth.org/understanding-self-injury-self-harm/

Lownie. C. Dr. 2019. Childhood Depression, Mental Health Matters Magazine. Volume 6. Issue 1.p11-12

Dealing with depression, Antidepressant Skills for Adolescent. This workbook was downloaded from Free Social Work Toolbox and Resources: Socialworkerstoolbox.com.

 

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply