DPS Pleegsorg > nuus  > Terugblik op 2019

Terugblik op 2019

As ek terug dink aan 2019 sal dit met ʼn groot stuk dankbaarheid wees.  Dankbaarheid tot ons Hemelse Vader vir die voorreg om binne die Diakonale Pleegsorg sisteem (DPS) te mag werk.  Dankbaarheid dat die sisteem so gegroei het dat ons nou oor ʼn voltydse Programbestuurder, ʼn voltydse maatskaplike werker asook twee kontrak maatskaplike werkers beskik. Dankbaarheid teenoor die Direksie van Kinderhuise wat ons ondersteun om die ongelooflike werk te kan doen.  Dankbaarheid vir elke huis ouer, en ek wil hulle op die naam noem, Franci en Henk Hanekom, Ina en Hendrik Jooste, Beulah Loubser, Jacomien en Mike Radyn, Rose en Neels de Bruyn, Ester en Albert Wiegand asook Marlien Greyling.  Ouers wat werklik trane afgevee het met tye, getroos het wanneer die verlange te veel geraak het, gedeel het in vreugdes en prestasies en net daar was vir ons kinders.  Dankbaarheid vir elkeen van die 33 kinders wat God aan ons toevertrou het om met liefde te versorg en by te staan en te begelei om heel te word.

Die jaar het ook sy hartseer opgelewer.  In Maart 2019 moes ons Albert Wiegand groet wat sy lange stryd met kanker verloor het.  Dankie Marlien dat jy in die tyd jou ma so mooi bygestaan het en steeds help om ons dogters so mooi te versorg.  In Julie 2019 moes ons vir Neels de Bruyn groet en direk daarna het Rose op welverdiende vervroegde pensioen gegaan.  Dankie Neels en Rose vir die jare se deel wees van die Kinderhuis en later die DPS familie.  Julle sal nooit vergeet word maar ons gun julle die rus.

In Desember het ons egter ook ons nuwe huisouers, Maritzia en Bennie Vorster, in Krugersdorp verwelkom.  So breek daar ʼn nuwe era aan vir Krugersdorp huis en ons is opgewonde om die reis saam met hulle aan te pak.

Die afgelope jaar het ook soveel hoogtepunte ingehou.  Onder die bekwame leiding van Andries Pretorius het ons nou ons eie Webblad waarop ons so trots is en waar ons regtig poog om die werksaamhede van ons huise op die blad nie net te bemark nie maar ook mee te spog.  Ons het gedurende Maart 2019 ons Gesinskamp aangebied oor die tydperk van vier dae en is daar gespeel, gewerk en geleer gedurende die tyd.  Een van ons oud pleegkinders, Robert Steyn, het sy studies aan African Academy voltooi en wag daar ook nou ʼn nuwe toekoms op hom.  Een van ons seuns het die jaar matriek geskryf en het reeds toelating gekry om Onderwys te gaan studeer by die Universiteit van Pretoria in 2020.  Ons is opgewonde om ook die pad met hom verder te stap.  Ons kinders het verskeie prestasies behaal die afgelope jaar waaroor ons dankbaar maar ook trots is.

Wat hou 2020 vir ons in… verandering, groei, harde werk en hope pret.  Ons gaan leer uit die foute wat ons in 2019 gemaak het en bou op die kennis wat ons opgedoen het.  Ons gaan opgewonde raak oor die klein vreugdes en troos wanneer die harte seer of wense en drome dalk nie waar word.  Ons gaan die ouers wees, die sagte landing vir die kinders wat aan ons sorg toevertrou is.  Ons gaan die “super heroes” wees wat ons kinders gaan lief hê ongeag hul gedrag en ons gaan ook daar wees om mekaar se trane af te vee wanneer ons ook soms wonder oor die onregverdigheid van die lewe.

‘n Spesiale woord van dank aan elke Evaluasiekomitee- asook Toesigkomitee lid wat by ons onderskeie huise betrokke is.  Elkeen van julle het wat jul tyd opoffer aan die groot saak maak ons hande sterk en help dat ons kinders net kinders kan wees wat nie nodig het om hulself te bekommer oor waar die geld vir n uitstappie of die volgende bord kos vandaan gaan kom.  Julle is die ander “super heroes”
wat dikwels agter die skerms werk om seker te maak ons kinders se drome word waar.

Laaste woord van dank aan ons Uitvoerende Direkteur, mnr Otto Viljoen.  Dit is glad nie ʼn maklike taak om ʼn klomp dames in toom te hou.  Jy doen dit met grasie en ʼn ferm hand en jy sorg dat ons steeds kan droom met ons een oog oop en jy hou ons geanker in die werklikheid.  Dankie dat jy baie van ons drome/visie met ons deel, nagte om sit en somme maak om te kyk of dit ʼn werklikheid kan word en dankie vir jou ondersteuning, dit beteken so geweldig baie.  Jy is ons personeel se super held en jy hou ons veilig en uit die kwaad.

Laastens my wens aan u – mag julle werklik God se liefde en nabyheid in die Feestyd ervaar, mag julle opnuut bewus word van Sy alomteenwoordigheid en mag julle 2020 binnegaan met die wete God gee om.

Seënwense.

Suzanne van Deventer.

Programbestuurder.

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply