DPS Pleegsorg > nuus  > TERUGBLIK OP 2021

TERUGBLIK OP 2021

So word ek die vraag afgevra einde verlede jaar oor wat was my Hoogtepunte vir 2021.  Vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd staan ek daar met ʼn mond vol tande en kan werklik aan niks dink nie.  Tyd vir introspeksie dink ek toe so by myself.  Vir baie was 2021 soveel moeiliker as 2020 toe ons nog onwetend van die Covid epidemie die jaar tegemoet geloop het.  Was 2020 vir ons dalk “makliker” omrede ons deur adrenalien gedryf is en daar nie tyd was om terug te sit en te dink nie maar ons meer gefokus was om te doen, terwyl ons 2021 oop oë ingestap het en begin het om die stukke van 2020 op te tel.  Wie sal weet…

Tydens ʼn gesprek met ons pleegouers het ek besef dat 2021 wel heelwat hoogtepunte gehad het, en ek net nodig gehad het om op ʼn reis na gister te gaan en by elke “onthou oomblik” te gaan stilstaan.

Graag deel ek met julle ons “onthou oomblikke” van 2021.

Gesinskamp – Maart 2021

Ons jaarlikse Gesinskamp is een van ons hoogtepunt op ons DPS kalender. Van vroeg af in die jaar word daar beplan, fondse ingesamel en idees uitgeruil om seker te maak die kamp is beter as die vorige jaar se kamp.  Die tema vir 2021 was “Ek is meer werd” en is die aktiwiteite en groepwerk ook hierom uitgewerk.  Tydens die 4 dae lange kamp is daar gespeel, kos gemaak, pleegouers bietjie opgeskerp oor wat ons doel en ons beplanning is tov elkeen van ons kinders om hul te help ontwikkel tot hulle volle potensiaal, laataand kampvuur kuiers en vele meer.  Gedurende die kamp kon ons elkeen ons emosionele emmertjies vol maak vir die komende jaar.  Volledige artikel kan gevind word op ons Facebook blad onder “DPS Huise”.

Die ABC van Pleegsorg – Webinar

Sommer direk na die kamp toe moet koppe bymekaar gesit word om ons heel eerste Webinar aan te bied.  Die maatskaplike werkers, bestuurder en predikante moes kop krap want vir ons ouer garde was dit  ʼn vreemde en voorwaar uitdagende taak wat voorgelê het.  Ondanks baie eposse, onsekerheid en danksy leiding van kundiges kon ons op 25 Maart 2021 ʼn Webinar aanbied met die tema “Die ABC van pleegsorg”.  Gedurende die uurlange webinar is daar gefokus op wie die DPS huise is, hoe ons ontstaan het en presies wat ons doen.  Indien daar enige vrae is kan u gerus die skakel op ons Facebook blad volg en daarna gaan kyk.

Nuwe pleegouers vir Huis Prinsloo te Rustenburg

Saam met die hartseer om pleegouers te groet kom ook die groot uitdaging om die mees geskikte pleegouers vir 6 woelige en lewenslustige seuns te soek.  Die proses kan letterlik maande duur om die regte persone vir die verantwoordelike werk te vind.  Op 1 Mei 2021 kon ons vir Lukas en Janice Pieterse verwelkom in ons familie.  Die afgelope 8 maande was voorwaar nie net maanskyn en rose, maar kwyt hulle hul besonder goed van hul taak.  Ons glo en vertrou dat hulle nog vir baie jare gelukkig by ons sal wees

“World Foster Day”

Op 31 Mei 2021 het ons saam met duisende ander pleegouers deelgeneem aan die Wêreld Pleegsorg dag om die publiek bewus te maak van pleegsorg en wat dit behels.  Aan kreatiwiteit het dit glad nie ons huise ontbreek nie!

Ons leer graag

Ons weet dat alles konstant verander en ons poog om ons vinger op die pols te hou om sodoende aan ons kinders die nodige leiding te kan gee.  Op 28 Augustus 2021 het Marthé de Beer van Healing Leaves ons pleegouers kom opskerp oor die impak van trauma op ons kinders en het sy ook vir hul praktiese wenke gegee hoe om dit te hanteer.  Elke pleegouer is toegerus met HELP “toolboksie”  en teen die einde van die dag het ‘n donateur vir elkeen van ons kinders so ʼn “toolboksie” geborg.  Wat ʼn handige en praktiese hulpmiddel is dit nou nie!

Gedurende die oggend het A/o Boshoff en Kaptein Banks van Gauteng se Serial Electronic Crime Investigation Unit die kinders bewus kom maak van gevare van sosiale media, verantwoordelike internet gebruik, selfies, pornografie, asook die wetlike implikasies daarvan.  Rianette Leibowitz het ook as ʼn spreker opgetree die dag.  Wat sal ʼn opleiding wees as daar nie ook tyd vir speel is nie.  Ons getroue span studente het gesorg vir ure se vermaak, lag en kreatiewe denke tydens die geleentheid.

Ons gee terug

Hier by die DPS Huise weet ons hoe bevoorreg ons is ten spyte van ons hartseer stories en pakkies vol seer.  Gedurende 2021 se KwaZulu-Natal oproer het ons begin wonder hoe kan ons bietjie van ons dankbaarheid met hulle deel wat soveel verloor het gedurende die tyd.  N Idee het begin vorm aanneem en is elkeen van ons kinders gevra of hulle bereid sou wees om een maand se sakgeld te skenk vir die ADV se Rampfonds.  Ons grootmense het ons harte vasgehou.  Sakgeld vir ons kinders is ʼn sensitiewe saak.  Dit is hul snoepie geld, hul bederf geld.  Soos een man het die boodskappe en stem boodskappe ingestroom…ONS IS IN!  Die was voorwaar ʼn trotse oomblik vir ons volwassenes!

Dinokeng Naweek

Hoe ongelooflik was dit nie net om stil te raak vir 3 sorgelose dae in die natuur nie.  Ninapark en Krugersdorp seuns het elke oomblik ten volle geniet.  Soveel nuwe ervarings van stokbrood maak, wildsritte, gips afdrukke van bokspoortjies tot heerlike boeretroos.  Dankie aan Grootfm 90.5 en Dinokeng Voluntary Rangers wat hierdie vir ons moontlik gemaak het, hierdie was ʼn ervaring wat ons kinders nooit sal vergeet nie.

Naweek pret en plesier

Naweke is gemaak vir takies verrig, huiswerk op datum bring en hope pret en plesier.  Ons pleegouers en vrywilligers het regtig 2021 die ekstra myl gestap om te sorg dat ons kinders letterlik nooit ʼn vervelige oomblik op hande gehad het nie.  Spesiale vakansie dae is ook behoorlik gevier soos bv Erfenisdag waar daar behoorlik gebraai is.  Spesiale kos blikkies is selfs gepak met lekkernye eie aan ons kultuur soos vetkoek en melktert.  Dankie aan elkeen wat 2021 vir ons ʼn onthou jaar gemaak het.

Ons groet

Saam met al die goeie onthou oomblikke was dit ook die jaar wat ons Ds Kramer moes groet.  Ds Kramer was vir baie jare deel was van die Kinderhuise se Direksie en ook die Voorsitter van Elsburg huis se Evaluasiekomitee tot en met Februarie 2021.  Ons al hom onthou as iemand met ʼn baie skerp sin vir humor, diplomaat, empatie vir sy medemens, familie man en steunpilaar.  Baie sterkte aan sy familie in hierdie moeilike tyd.  Totsiens Ds Jan, tot ons weer ontmoet.

DPS Top 10

Reeds vroeg in 2021 het een van my kollegas met die idee vorendag gekom om ons kinders te motiveer en gesonde kompetisie onder hul te kweek om hul te help om hul volle potensiaal te ontwikkel.  Omrede ons met kinders werk uit verskillende omstandighede en vermoëns is besluit om die kinders nie net op akademiese prestasie te beoordeel nie maar ook inskakeling by die huis, samewerking met die terapeute, pleegouers en die uitvoer van hul daaglikse takies.  Gedurende 2021 het die gees hoog geloop en moes ons gereeld hoor wie hulle dink kwalifiseer vir die gesogte titel.  Einde November 2021 is die Top 10 aangewys en sal hul tydens die jaar se Maart kamp hul prys ontvang.  Ons glo en vertrou dat hierdie gesogte titel die kinders wat aan ons toevertrou is, net meer sal motiveer om ook in 2022 hul kant te bring.

Wat hou 2022 vir ons in

Wat hou 2022 vir ons in, ons is nie seker maar ons weet dit is 365 dae om ʼn verskil in elke kind se lewe te maak.  Ons tema vir 2022 is “Jy is genoeg”.  Ons weet dat daar soms tye kom wanneer jy as volwassene en as kind jouself bevraagteken.  Vrae soos “Is ek genoeg”, “Is ek reg vir die werk”, vrae wat lei tot self twyfel.  Ons wil vir elke volwassene en kind die versekering gee dat hul genoeg is.  Groei pyne is noodsaaklik en deel van die lewe maar weet net JY IS GENOEG.

Die jaar beplan ons twee kampe.  Ons skop Maart af met ons Gesinskamp en dan sluit ons die jaar af met ons kinder kamp in die Oktober skoolvakansie.  Die besluit is geneem in 2020 dat ons elke jaar wanneer ons skoolverlaters het, ʼn spesiale kamp gaan reël om van hul afskeid te neem.  Indien u op enige wyse betrokke wil raak is u meer as welkom om my te kontak by suzanne@rata.org.za.  Gryp die geleentheid aan en maak ʼn verskil!

Gaan loer gerus op ons webblad www.pleegsorg.org en ons Facebook blad “DPS Huise” om op hoogte te bly van ons aktiwiteite.

Ons sê dankie

Dankie aan elke Gemeente, individu, instansie en besigheid wat ons so getrou in 2021 ondersteun het.  Ons besef daagliks hoe geseën ons is met soveel vrywilligers wat ons ondersteun en ons hande sterk maak.  Wees verseker julle betrokkenheid maak ʼn wesenlike verskil!

Ek sluit af met die woorde van een van ons 18 jarige seuns wat ook aangewys is as een van die Top 10, Hy sê die pleegouers is die ouers wat hy nooit gehad het nie.  Ek haal aan “ Blood makes you related and loyalty makes you family”.  Hy noem ons sy “loyalty family”.

Groetnis

Suzanne van Deventer

Programbestuurder:  DPS Huise

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply