DPS Pleegsorg > nuus  > Time out / Tyd uit

Time out / Tyd uit

“As jy nie wil hoor nie, moet jy VOEL!!”  Ek is seker daarvan dat dit woorde is wat ons elkeen sommer in koue sweet laat uitslaan.  Of  “Gaan wag vir my in die kamer, ek is nou daar!”…….wat het verander???  Vandag is geen lyfstraf wet.  En dit laat ons sommige dae met hande in die hare.

 ‘n Pakslae hier en wiks daar was maar die voorbeeld wat ons gevolg het, want ons verwys alte graag terug na die Woord wat sê tugtig die gene wat jy liefhet…… maar ek twyfel of God bedoel het dat jy die kind mag slaan wanneer jy gefrustreerd is met sy gedrag of sommer net radeloos is…….

Maar wat nou gemaak?  Elkeen van ons het verseker alternatiewe straf metodes al probeer, met min, selfs geen sukses.  Partykeer dink ons dat die kind se gedrag drasties sal  verander as hy 100 keer uitskryf : ek moet my gedra wanneer hier kuiermense is ,of self dat hy doodstil sal sit en dink oor sy sondes as hy  op ‘n stoeltjie moet sit  vir 10 minute, en uit desperaatheid probeer ons selfs snoepery weier tot ‘n poging om gedrag te verander.

In hierdie beroep waarin ons staan, werk ons met ander mense se stukkende kinders en elkeen het sy eie pakkie seer en sy eie storie.  Hulle kom by ons aan meeste van die kere met geen blootstelling aan struktuur, dissipine, roetine, goeie maniere ens.  En dan verwag ons dat hulle baie vinnig moet inpas en aanpas in ons wêrelde.  Vir elke oortreding dink ons n straf uit. Van kombuis skoonmaak tot in die tuin werk. Ek het al selfs die vensters al laat was uit desperaatheid.

Op ‘n stadium wou ek opgee.  Ek het twee pragtige prinsesse met botsende persoonlikhede. En die tieners in die huis maak niks makliker nie.  En ek was regtig raadop en die MW seker ook al moedeloos vir my geteem.  Ek het hier besef dat ‘n kreatiewe oplossing benodig word om  hierdie onmoontlike situasie te red. 

Meeste van ons kinders het ook ontwikkelings agterstande en akademiese uitvalle wat nie noodwendig altyd terapie nodig het nie, soms kan liefde en geduld ook die ding doen. En hier gee die Here vir my ‘n blink plan en word my Time out boks gebore.

Ek besef dat die anderse manier van straf ‘n groot positiewe inslag kan hê. Die idees stroom in en baie opgewonde begin die boks groei.  Hierdie boks is egter ‘n basiese riglyn waarop jy kan bou.  Elkeen ken sy kinders en wat vir hulle sal werk. In my boks is ‘n Bybel, ‘n tweetalige woordeboek, skêr, liniaal, gom, boekies om te lees, inkleur potlode en my leêr.

Daar is verskeie opdragte wat gegee kan word vir straf.  Van woorde soek tot wiskunde. Elkeen is met ‘n spesifieke doel gekies vir die boks.  Jy kan self kies wat jy dink die kind op daardie oomblik by sal baat vind.  Die inkleur vir die kleintjies is so goed vir kleinmotoriese ontwikkeling asook hand oog koördinasie.  Hierdie boks is met oorleg saam gevoeg sodat elke aktiwiteit beslis meer as een area aanspreek.  Die lekker feite bv is algemene kennis wat uitbrei en dan om 150 woorde daaroor te skryf is so goeie oefening want dan kan jy sien of hy wel met begrip lees.

Ek het ook nie onderskeid gemaak met ouderdomme nie, maar sommer gese klein, medium en groot.  Ek het besef bv. dat my 13jarige het nog baie oefening nodig onder die medium katagorie en dat een van my kleintjies vreeslik ywerig soek na die woordjies.  Hier het ek dus ruimte gelaat vir elke ouer om sy eie diskresie te gebruik wanneer dit kom by straf uitdeel.

Ek hoop hierdie boks maak julle so opgewonde soos vir my.  Ek kan na n maand so ‘n groot verskil in my kinders se algemene gedrag sien.  Hulle boeke is ook ‘n bewys van hoe hul handskrif verbeter en hoe gemaklik hulle raak met die gebruik van n liniaal.  Self my enetjie wat beweer het almal by die skool boelie haar en niemand hou van haar, het mooi die som gemaak van Luk6:31. So met die uitskryf van die Bybelvers het sy ook sommer ‘n sosialiserings tegniek onder die knie.  Sy besef kinders gaan haar behandel soos sy hulle behandel. 

Ek wil so bitter graag net beklemtoon dat elke keer nadat die kind die toepaslike straf gedoen het en jy tevrede is daarmee, jy dit MOET opvolg met ‘n gesprek rondom die oorsaak van die straf en wat hy geleer het.  Op hierdie manier hoef ons nie meer kombuiswerk uit te deel en uitskryf papier te soek nie.  Vul gerus jou boks aan met dinge wat jy dink jou kinders nodig het.  Wees kreatief, dit maak dinge vir jouself soveel makliker!!!

Ek wil afsluit met die volgende: Voordat ek elke afdeling vinnig verduidelik, wil ek graag afsluit met die:

God se Woord sê vir ons: “Nou lyk elke tugtiging [dissipline] of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11).

Ek go op hierdie manier kan ons soveel meer doen vir elkeen wat op ons pad kom, en sodoende daadwerklik ‘n verskil maak in hul kinder lewentjies.

Baie dankie vir die geleentheid dat ek my passie met julle kan deel.

Inhoud van die boks

‘n Leêr met die nodige inligting wat benodig word vir suksesvolle time out straf

Agter in die leêr het ek vir elke kind ‘n sakkie met papier in gesit

Daar is ‘n stelletjie inkleur potlode

2 Penne                                                                                                          

BENODIG

‘n Tweetalige woordeboek

En ‘n ekstra Bybel

Bybelverse

Ek begin met basiese bybelverse o.a Luk 6:31 “behandel ander mense soos jy behandel wil word”……. wanneer hulle baklei.  Lev 19:11 “moenie steel of mekaar bedrieg of lieg nie” ….wanneer daar gejok is, oneerlikheid of iets in die voege verkeerd geloop het. Hierdie een gebruik ons wanneer daar sommer so algemene liefdeloosheid tussen ons heers.: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:10)

 Dus het ek besef dat ek hier ‘n wenresep beet het, en  ek voeg nog belangrike verse by my lysie.

Kom ons kyk na wat alles aangespreek word uit hierdie een metode van straf:

1.            Ek laat haar mooi regop sit en sy moet netjies skryf en ‘n lyn na elke versie trek.( want dit is        iets waarmee hul baie sukkel)

2.            Woordeskat en spelling word sommer so tussen deur op geskerp.

3.            Baie sterk Bybelse beginsels word aangeleer.

4.            en die situasie is ontlont.

Die sukses van hierdie kreatiewe manier van straf lê egter daarin dat daar ‘n sinvolle gesprek na die tyd moet wees.  Drie basiese vrae is belangrik:

1) wat het jy verkeerd gedoen dat jy gestraf moes word?

2) Wat het jy geleer terwyl jy met jou straf besig was?

3) Wat dink jy kan jy volgende keer anders doen?

Maniere

Nie almal se basiese maniere is op standaard nie en nie almal leer dit maklik aan nie.  Daarom soek ek toe ‘n artikel met basiese maniere en voeg dit dadelik by die boks. Daar is veral vir die seuns mooi riglyne in oor maniere en hier slaan ons ook weer twee vlieë met een klap.  Dit is ‘n straf, want hy moet dit een keer netjies uitskryf en so raak hy sommer ook vertroud met algemene maniere wat hy nog nie van gehoor het nie.  Weer kry skrif, woordeskat en spelling sommer ‘n beurt om opgeskerp te word.

Klein

Die inkleur werkies en die letters invul is vir die kleintjies ‘n aktiwiteit tydens time out.  Inkeur is soooo belangrik vir hul fyn motoriese ontwikkeling, hand ook koordinasie en konsentrasie.

Dan is daar die klinkers wat hy/sy kan navolg en die prentjies inkleur.  Hierdie is sinvolle aktiwiteite.

Hier wil ek egter ‘n versoek op elkeen doen om nog goedjies by te voeg.  Soos ek aan die begin gesê het, elkeen ken sy kinders en spesifiek wat die kleintjies nodig het. 

Medium

Hier raak dit lekker interessant.  Ek het woordsoek, spelwoorde en ietsie om in te kleur hier gesorteer.

Wanneer daar een van die papiere gegee word waar die woorde gesoek moet word, laat hulle die prentjie ook sommer inkleur.  Daar is oulike onderwerpe wat algemene kennis lekker uitbrei.

Die spelwoorde is so belangrik,  Dit is belangrik dat die engelse woord op gesoek word en ook neer geskryf word.  Woordeskat spelling skrif en sommer die gebruik van ‘n woordeboek word hier hanteer.  (Nie een van my kinders het geweet hoe werk ‘n woordeboek nie!)

Groot

Hier het ek ook spelwoorde wat ouderdoms toepaslik is.  Laat hulle ook die engels daarvan opsoek wanneer hulle dit moet uitskryf.  Dit is sulke goeie oefening.  Om dit net bietjie vir hulle op te kikker is hier van daardie prentjies met die nommertjies wat jy verbind om sodoende die prentjie te kan sien.

Hier is ook oulike woordsoek wat verskillende temas het, wat dan weer die algemene kennis uitbrei asook spelling.

Lekker feite.

Hier het ek Engelse artikels geplaas. Ek laat myne dit oorskryf en dan wanneer hulle nie ‘n woord verstaan nie, moet hulle dit opsoek in die woordeboek.  Nog ‘n aktiwiteit wat hier van groot waarde is, is om die artikel te lees en dan sowat 150 woorde te skryf oor wat jy gelees het.  Ons weet dat al ons kinders sukkel om te lees en om dan met BEGRIP te lees.  Hier oefen ons dit sommer heerlik terwyl ons dit lekker in Engels kan doen.

Wiskunde

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply