DPS Pleegsorg > nuus  > Wanneer troosters troos nodig het….

Wanneer troosters troos nodig het….

ʼn Maand of so gelede sê ‘n kollega vir my:  “Dit voel of my MOEG nou moeg is…!” Vir eers wonder ek wat dit sou beteken, maar besef gou:   dit som baie van ons se ervarings baie raak op.

Hierdie jaar is die tema by die DPS Huise nie altemit “CARE OF THE CARERS” nie.  Dit is verblydend hoedat daar toenemend ‘n bewustheid ontstaan dat selfs die “troosters” soms troos broodnodig het. 

Dis veral mense in die mens beroepe, persone wat baie sterk en passievol met hulle werk identifiseer, mense wat probeer om altyd vir almal beskikbaar  te wees, wat veral die risiko loop om “uit te brand” of “burn out” te beleef.  Dit lê in beroepe soos onderwysers, predikante, maatskaplike werkers, Polisie, dokters, verpleegsters, prokureurs en versorgers van getraumatiseerde of gestremde persone, ons “troosters” wat gevaar loop om so uit te brand, dat dit aan sekondêre trauma grens.

As die donker kombers van chroniese moegheid, slapeloosheid, afgestomptheid, lae konsentrasie vlakke en ‘n verswakte immuunstelsel swaar oor jou skouers hang, dan kan jy maar weet:  hier is rooi ligte wat flikker, en nie sommer vanself gaan oorslaan “groen” toe nie.

Die kombers kom lê veral swaar oor jou wanneer jy min ondersteuningstelsels in plek het, self onderliggende trauma beleef het wat nie effektief verwerk is nie, soms voel of die inspanning nie waardeer of beloon word nie, of wanneer empatie met simpatie verwar word.  Wanneer daar ook krisis na krisis is wat opduik en vure net “doodgeslaan” word voordat die volgende een ontstaan, is daar min tussenposes wat geleentheid bied vir herstel.  En wie van ons weet nie hoe dit voel nie?

Gaan kyk gerus na

https://www.mindtools.com/pages/article/newTCS_08.htm

of

https://www.onelegacy.org/docs/BurnoutQuestionnaire_PublicWelfare1981_Modified2013.pdf

indien jy graag jouself wil toets aan die hand van ‘n aanlyn toets.

Maar doen dan daadwerklik iets daaraan!!

Die geheim lê in die ABC van hantering van daaglikse uitdagings, om uitbranding die hoof te bied:

  • Awareness (Bewustheid):

Keer na binne en doen selfondersoek:  bou en werk aan jou emosionele leefwêreld en wees bewus van die snellers en stressor in jou lewe; vernuwe jou denke op ‘n positiewe wyse, besluit of dit wat soveel van jou tap, die energie en opoffering werd is.

  • Balance (Balans)

Stel grense en hou daarby:  stel realistiese doelwitte en bestuur jou tyd ook daarvolgens, kry ‘n klankbord en ‘n stokperdjie, kry gereelde oefening, eet gesonder en se soms NEE vir versoeke waarvoor jy nie tyd of krag het nie.

  • Connection (Konneksie)

Ontwikkel ‘n ondersteunings netwerk:  ontlont na ‘n moeilik dag, luister wanneer jou vriende en familie vir jou terugvoer gee oor hoe hulle jou beleef en ervaar, kry professionele hulp indien nodig, bemagtig jouself met kennis en vaardighede om moeilike situasies te bestuur, sodat die stres daaraan verbonde hanteerbaar kan wees

In tye soos hierdie, waarin ons forseer is om rustiger in die tyd van inperking te leef,  is die weereens die TROOSTERS en VERSORGERS wat vooraan staan as vegters teen ‘n vreemde indringer.  Weereens is dit nie hulle wat noodwendig die rus en duurte kan ervaar, wat meeste van ons na ‘n paar dae frustreer nie.  Maar dis juis hulle wat dit die meeste benodig.

Kom ons dink en bid veral in hierdie tye vir die TROOSTERS wat ons troos en bystand broodnodig het…

 

Met erkenning aan Beulah Laubscher (Pleegmoeder:  DPS Montana) en Nicolene Cordier (Programbestuurder:  Rata Noordwes)

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply