Oor die Wêreld heen word Pleegsorg op 31 Mei gedenk. Dit dien om mites, vrae en vreugdes van pleegsorg met almal te deel.
By ons DPS huise is hierdie wêreld so bekend aan ons, omdat dit juis die diens is waarop ons ons toespits. Maar, alhoewel dit vir ons ‘n bekende wêreld is – bly dit ook ‘n wêreld van uitdagings.
Die onbaatsugtige liefdesdaad van ‘n gesin om hulself bereid te verklaar om af vlerk-kinders in hul eie geborge gesinne in te neem, is nie ‘n besluit wat ligtelik opgeneem word nie.
Stel jou voor: jy en jou sussie is vir jou hele lewe van 9 jaar – die spil waarom jou gesin draai. Maar eendag verander alles, en jy kry skielik ‘n vreemde kind in jou midde, wat al jou ouers se aandag opeis, met wie jy nou huis en haard moet deel, en selfs die vreemde gedrag van hierdie nuwe gesinslid moet aanvaar, al maak dit nie in jou wêreld sin nie. Dit verg opofferings, begrip en baie liefde om so ‘n “vreemde” in jou midde te akkommodeer – dit voel selfs dalk of hierdie kind ‘n “indringer” is! Die aanpassings wat biologiese kinders in hulle gesinne moet maak, is groots!
Selfs die ouers wat weldeurdag die besluit geneem het, moet baie prysgee en baie moedig en kundig wees om hierdie roeping te vervul.
Een van die mites / uitdagings wat bestaan, is dat pleeggesinne vir weeskinders ‘n veilige huis bied, waar hulle fisies versorg word. Nee !! Dit is soveel meer as ‘n skuiling. (Verlore diere word ook ‘n veilige hawe en fisiese versorging gegee by skuilings.)
Ons af vlerk kinders het soveel meer nodig as ‘n warm bed, en ‘n bord kos. Hierdie kinders kom in pleeg gesinne aan met baie emosionele wonde – baie selfs met fisiese wonde. Die impak van die trauma waardeur hierdie kinders gaan, is verreikend. Trauma het ‘n invloed op die ontwikkeling van die brein, op emosionele ontwikkeling en selfs ‘n invloed op geestesgesondheid in latere jare. Hoeveel te meer het hierdie trauma nie ook ‘n effek op hulle onmiddellike omgewing i.e die pleeggesin wat hulle inneem nie?
Boonop is selde van hierdie kinders in pleegsorg werklik weeskinders in die ware sin van die woord. Meeste kinders se ouers is steeds deel van hulle lewens, so, die pleeggesin moet ook bereid wees om die biologiese ouers in hulle midde te verwelkom en die skerwe optel as die soveelste besoek by die ouers, kinders se hart en gees breek – keer op keer. Hierdie ouers besoek kinders menigmaal aan huis van die pleegouers – en daar moet dus selfs fisies ruimte geskep word om hierdie vreemdes in ‘n hartlike omgewing te verwelkom – jou eie roetine en privaatheid ten spyt!
En tog as ons vir ons pleegouers in die DPS sisteem vra, is hulle antwoord onomwonde: ek sal dit weer en weer doen, want ek weet ek maak iewers ‘n verskil in ‘n mens se lewe – al is dit net vir ‘n klein oomblik in tyd!
Verlede week plaas een van ons ‘n paar foto’s van ons pleegkinders op ons private, geslote pleegouer groep, en die opmerking word gemaak dat die kinders darem so mooi groot word! Een van die pleegpa ’s antwoord trots daarop: “Ag, dis my kinders daai!” Wat ‘n getuienis!
Dankie aan elke gesin wat onvoorwaardelik – met groot uitdagings en veranderings – hulle deure, maar veral hulle harte oopmaak vir ‘n kind in nood, met die wete dat dit nie ‘n maklike pad is nie, en dat dit baie meer verg as ‘n bord kos en ‘n warm bed, om ‘n kind heel te maak.
In hierdie laaste paar dae van Mei dink ons aan ons pleegouers en wil ons vir hulle uit die diepte van ons harte se dankie vir hulle opoffering en liefde.
Indien jy wonder hoe jy n verskil kan maak of dalk wil uitreik na ons pleeggesinne, kontak ons asb.
Om meer van ons huise te wete te kom, besoek ons Webblad by www.pleegsorg.org.za of kontak vir Suzanne van Deventer by 066 477 8904 of epos by suzanne@rata.org.za – ons wag vir jou oproep!
Tertia Vos
Maatskaplike werker: DPS Huis Rustenburg