Wat is pleegsorg?
Hoe word ek ‘n pleegouer?
Wat is die wetlike implikasies ten opsigte van pleegsorg ingevolge die Kinderwet (Wet 38/2005)
Is daar ‘n verskil tussen pleegsorg en aanneming?

Die ABC van pleegsorg
Webinar 25 Maart 2021

Sondag 7 Maart 2021 se deurkollekte het gegaan vir die DPS huise (Diakonale Pleegsorg Huise).  Ek is seker baie het gewonder waarvoor staan DPS, wie is hulle, wat doen hulle en waarvoor gaan ons geld regtig.  Indien hierdie vrae deur jou kop gemaal het hoop ek jy het op 25 Maart 2021 ingeskakel vir die Webinar.  Indien jy die geleentheid mis geloop het gee ons graag vir julle terugvoer  en heg ons al die nodige dokumente en skakel aan om die aanbieding op u eie tyd rustig deur te luister.  As ek kyk na die terugvoer wat ons na afloop van die Webinar ontvang het was dit insiggewend beleef.  Geleentheid is gegun vir die persone wat dit bygewoon het om voor die aanbieding ʼn meningspeiling te voltooi en weer na afloop van die geleentheid.  Persone van regoor Suid Afrika het ingeskakel (Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat, Noord Kaap, Gauteng tot sover as Botswana).

Gedurende die Webinar het ons probeer fokus om vra te antwoord soos:

  • Wie is die DPS en waarvoor staan DPS (Diakonale Pleegsorg Sisteem).  Ds Jimmy Manders het ook verduidelik waar die DPS sisteem binne die raamwerk van die NHKA inpas asook die ryke geskiedenis van die ontstaan van die destydse Kinderhuise wat in 1996 ontwikkel het na DPS pleegsorg huise.
  • Fokus van ons dienslewering (Beskerming van kinders, lewering van pleegsorgtoesigdienste in lyn met die bepalings van die Kinderwet (Wet 38/2005), samewerking met die gesinsherenigngswerker wat weer direk met die biologiese ouers werk).
  • Wat is pleegsorg en in terme van wat se artikel word pleegouers gekeur en deur die Kinderhof in pleegsorg geplaas deur ʼn wettige hofbevel wat elke twee jaar verleng moet word.
  • Die verskil tussen pleegsorg en aanneming is verduidelik asook die feit dat kinders wat in die DPS huise geplaas word, nie kandidate vir aanneming is nie.
  • Waarom het ons wegbeweeg van kinderhuise na pleegsorg
  • Hoe lyk die profiel van die kind wat by ons in ons huise geplaas word.  Kinders wat by die DPS huise geplaas word is kinders wat nie baat sal vind by individuele pleegsorg nie maar ook nie sal inpas in ʼn groot sisteem soos ʼn kinderhuis (CYCC) nie.  Redes vir plasing kan wissel van erge fisiese asook emosionele mishandeling, verwaarlosing asook seksuele molestering.  Kinders wat deur die Hof by ons geplaas word is kinders wat regtig seer gekry het en erge trauma ervaar het en wat nou weens die trauma uit reagerende gedrag toon.  Ons verwys na die kinders as “children from hard places”.
  • Die pleegouers loop nie die pad alleen nie.  ‘n Multi-professionele span wat bestaan uit predikante, maatskaplike werkers, sielkundiges, onderwysers en beraders vorm deel van die span om seker te maak elke kind se unieke behoeftes en trauma word aangespreek.  Kinders wat skool klaar gemaak het word steeds deur die sisteem emosioneel ondersteun en gehelp om nav hul aanleg aansoek te doen by tersiêre opleidingsinstansies om verder te studeer en word gehelp met beurs asook leningsaansoek.
  • Indien pleegsorg dalk nie vir jou is nie, watter ander opsies is daar beskikbaar (vakansie ouers, naweek ouer, aflos ouer) (Aansoek vorm aangeheg)
  • Waar kom die fondse vandaan om hierdie kinders te versorg.  Mnr Viljoen sal meer hieroor uitbrei.

Hoe word ek ʼn pleegouer?
Die groot vraag op almal se lippe is maar hoe word ek ʼn pleegouer.  Laat ons nou nie vir mekaar jok nie, hierdie is ʼn lang en redelik tydsame proses en die rede hiervoor is om seker te maak dat enige voornemende pleegouer weet waarvoor hy hom inlaat en seker is dat hy wel die groot taak wil aanpak.  Die vereistes waaraan ʼn pleegouer moet voldoen word duidelik in die Regulasies van die Kinderwet uiteengesit en is die howe uiters streng dat die nodige dokumentasie saam met ʼn volledige maatskaplike verslag aan die hof voorsien moet word om seker te maak dat die pleegouers geskikte kandidate is. Die proses vir voornemende pleegouers is as volg:

  • Aansoek doen vir ʼn SAPS klaring.  Die rede hiervoor is om seker te maak dat die voornemende pleegouer nie oor ʼn kriminele rekord beskik nie.  Hierdie proses kan tot 6 weke neem.
  • Vorm 30 moet voltooi word en ʼn gewaarmerkte afskrif van elke aansoeker se ID dokument moet die Vorm 30 vergesel.  Die voltooide vorm word aan die maatskaplike werker gegee om deur te stuur na die Nasionale Kinderbeskerming register (CPR) om ook seker te maak dat die aansoeker nie al skuldig bevind is aan enige seksuele misdryf teenoor ʼn kind/minderjarige.  Hierdie proses is volgens Wet veronderstel om slegs 21 dae te neem maar uit ondervinding kan ek se dit neem veel langer. (aangeheg)
  • Aansoeker moet voor die Voorsittende Beampte van die Kinderhof ʼn verklaring aflê dat hy/sy nog nooit skuldig bevind is aan enige seksuele misdryf met ʼn minderjarige. (aangeheg)
  • N Pleegouer aansoekvorm moet volledig voltooi word en aan die maatskaplike werker voorsien word. (aangeheg)
  • Indien die maatskaplike werker al die dokumente ontvang het en haar ondersoek voltooi het en die aansoekers geskikte kandidate blyk te wees word hul laastens verwys na ʼn Kliniese Sielkundige vir psigometriese toetse. (Hierdie is nie altyd van toepassing by privaat pleegsorg maar wel ʼn vereiste indien jy ʼn pleegouer by die DPS Sisteem wil word).

Die proses is lank, klinies maar nodig om seker te maak dat die ouers wat aangestel word wel die geskikte ouers vir die pos is.  Baie voornemende pleegouers, wanneer die proses aan hul verduidelik word, besluit daarteen en slegs ʼn handjie vol druk deur.  Daar is geen waarborge om ʼn pleegouer te wees nie.  Gaan jy jouself begin bevraagteken, gaan jy soms jou humeur verloor, gaan jy moedeloos raak en nie weet hoe verder nie, die antwoorde op die vrae is almal JA.  Gaan jy alleen staan wanneer jy so voel, die antwoord is NEE.  Jy het ʼn hele span wat saam met jou werk, jou ondersteun en oplei om situasies te hanteer, jou sal bystaan wanneer jy voel jy wil opgee en nie meer verder kan nie.
Die aansoek proses om as naweek/vakansie- of aflos ouer gekeur te word, is dieselfde en verskil slegs die aansoekvorm asook die feit dat die aansoekers nie onderwerp word aan psigometriese toetsing nie. (Aansoekvorm aangeheg).
Indien u op enige wyse betrokke wil raak by ons huise en kinders, kontak my gerus by epos:  suzanne@rata.org.za of by 066 477 8904.  U is ook welkom om ons webblad te besoek by of ons Facebook blad.
DPS Groete

Suzanne van Deventer
066 477 8904

Programbestuurder:  DPS Huise

Skenk en Help

Wil jy ons graag help en bydra lewer?
Maak ‘n finansiële bydra of meld aan as vrywilliger

Artikel 18A betalings bewys beskikbaar op aanvraag.

Versorging van sorgbehoewende kinders

Die Kinderhuise van die NHKA versorg, met bystand van Gemeentes en lidmate, reeds vir 24 jaar wetsbestede kinders in ons DPS-Huise. Omdat ons versorgingsmodel op ‘n gewone gesin geskoei is, lyk ons begrotings ook baie soos die van u eie gesin. Verbeel uself hoeveel dit u sou kos om ses kinders groot te maak. Ons het die normale kos, klere en opvoedings uitgawes vir ons ses kinders. Ons het ook ‘n munisipale rekening asook brandstof rekeninge wat ons moet betaal tesame met al die ander uitgawes. Elkeen van die koste word aangegaan sodat ons kinders so normaal as moontlik versorg en opgevoed kan word. Elke DPS-huis het ook ‘n begroting waarvolgens gewerk moet word en is beskikbaar by u betrokke Toesigkomitee Ringsindeling vir DPS Huise 2021

Indien elke gemeente ‘n bedrag van ±R500 per maand kan bydrae tot hul betrokke DPS-Huis, kan ons volhoubaar en doeltreffend kinders versorg. Kinders wat nooit andersins ‘n geleentheid sou gehad het om deel te vorm van ‘n “normale” familie nie.

Die DPS-Sisteem kan ook Artikel 18A kwitansies uitreik aan donateurs wat korting op hulle belasting aanslag wil bewerkstellig.

Weereens wil ons graag dankie sê vir u ondersteuning die afgelope 24 jaar. Met u bystand kan ons steeds voortgaan om gebroke kinders te begelei tot gesondheid. Ons sê baie dankie vir elkeen van u wat ‘n verskil in ‘n kind se lewe maak.

Indien u enige vrae het oor die DPS-Sisteem is welkom om ons te kontak by enige van die gegewe besonderhede.

Baie dankie

Otto Viljoen
060 477 8904
Bestuurder: DPS-Huise