Ek is agtien jaar oud, al vir ‘n paar jaar in die DPS-huis en almal hou aan om vir my te sê dit is die ouderdom waar die lewe regtig begin. Hulle sê dit asof dit iets opwindends is, asof ’n deur oop swaai na eindelose moontlikhede.
Maar hier waar ek staan, so naby daaraan om die DPS pleeghuis te verlaat wat my skuiling was, voel ek nie die opgewondenheid wat hulle verwag nie. Ek voel onsekerheid swaar op my bors lê, soos ’n vraag sonder ’n duidelike antwoord. En soms krap dit my kop so deurmekaar, dat dit in my lyf kom wys – met rebellie, angs en woede.
Vir die grootste deel van my lewe was niks ooit permanent nie. Huise het verander. Mense het verander. Reëls het verander. Net toe ek begin verstaan hoe dinge werk, was dit tyd om weer aan te beweeg.
Nou word daar van my verwag om ’n wêreld binne te stap waar ek veronderstel is om te weet wie ek is, wat ek wil hê, en hoe om op my eie te oorleef. Die waarheid is, ek is bang. Ek weet nie of ek gereed is om die volle gewig van verantwoordelikheid te dra wanneer ek so lank net probeer aanpas en kop bo water hou het nie. Ek kan nie juis staatmaak op my eie ouers nie…. en die Wet bepaal mos dat ek nie langer as ‘n pleegkind kan aanbly nie – ek moet nou my eie potjie krap.
Daar is ook ’n stille rou wat ek nie maklik uitspreek nie. Om hierdie pleeghuis te verlaat beteken om meer as net ’n dak oor my kop agter te laat. Dit beteken om bekende roetines, gesigte wat my sien grootword het, en ’n plek waar—ten spyte van alles—ek tog ’n gevoel van behoort ervaar het, te groet.
Selfs al was dit nie perfek nie, was dit steeds ’n plek waar ek vir iemand iets beteken het. Dit is die mense wat my kon bied wat my ouers nie kon nie. Om totsiens te sê voel soos net nog ’n einde in ’n lewe vol afskeide, en elkeen vat ’n klein stukkie van my saam.
Terselfdertyd roer daar iets anders onder die vrees en hartseer: vryheid. Vir die eerste keer sal my keuses my eie wees. Geen wagtyd meer vir toestemming en dokumentasie om my lewe te leef nie. Geen gevoel meer dat ek net deur iemand anders se wêreld beweeg en beheer word nie. Die gedagte om op my eie voete te staan is skrikwekkend, maar dit is ook bemagtigend. Ek kan besluit wie ek word. Ek kan foute maak wat aan my behoort en daaruit leer sonder om te voel ek skuld almal verduidelikings.
Ek het drome—stille drome, maar sterk. Ek droom van stabiliteit, van ’n plek wat regtig myne is, waar ek nie weer my lewe in bokse hoef te pak nie. Ek droom daarvan om meer as my verlede te wees, meer as die etiket van “pleegkind”. Ek wil ’n toekoms hê waar ek gerespekteer word, waar ek iets blywend bou, waar ek kan terugkyk en sê dat ek nie net oorleef het nie—ek het geleef! Ek wil ‘n beter ouer wees as wat ek gegun is.
Soos ek my voorberei om te vertrek, dra ek al hierdie dinge saam met my: die vrees, die verlies, die vryheid en die hoop. Ek weet nie presies wat aan die ander kant van hierdie deur vir my wag nie. Maar ek weet dit—ek het tot hier gekom – met die hulp van die DPS, harde werk en liefdevolle pleegouers. En dalk beteken dit ek is sterker as wat ek dink.
Hierdie is gedagtes wat deur ons kinders se koppe maal…maar hul het ook die versekering, hulle gaan nie die pad alleen stap nie. Hul DPS familie en maatskaplike werkers sal altyd daar wees. ‘n Oproep of WhatsApp weg, reg om te help met raad en daad, dag of nag.
Groete
Tertia Vos
Maatskaplike Werker:
DPS Rustenburg