DPS Huise

Nasionale Maatskaplike Werkersdag 17 Maart 2026

Elke jaar vier ons Nasionale Maatskaplike Werkersdag – ’n dag waarop ons erkenning gee aan die mense wat daagliks hoop bring waar daar wanhoop is, wat luister waar ander stilbly, en wat optree waar ander wegkyk.

Maatskaplike werkers is dikwels die onsigbare draers van gemeenskappe. Hulle stap saam met kinders in pleegsorg, ondersteun gesinne in krisis, help slagoffers van mishandeling om weer veilig te voel, en werk hard om mense se menswaardigheid te beskerm.

Hier in Suid Afrika speel Maatskaplike werkers ’n belangrike rol in die hantering van uitdagings soos armoede, geweld, verslawing en trauma. Hulle staan in die gaping – dikwels met beperkte hulpbronne, maar met ’n groot hart en baie toewyding.

’n Spesiale woord aan Maatskaplike werkers in pleegsorg huise.

Vir maatskaplike werkers wat betrokke is by pleegsorg huise, is die werk selfs meer kompleks en emosioneel intens. Hulle werk met kinders wat reeds trauma beleef het, kinders wat verwerping, verlies en onsekerheid ken. Hulle is die veilige konstante in ’n wêreld wat vir hierdie kinders dikwels onstabiel voel.

Hulle:

  • Monitor plasing en sorg dat elke kind veilig en versorg is.
  • Ondersteun pleegouers deur opleiding, leiding en emosionele ondersteuning.
  • Hanteer hofprosesse en administrasie wat baie tyd verg.
  • Bemiddel tussen biologiese ouers, pleegouers en ander rolspelers.
  • Help kinders om identiteit, selfwaarde en hoop vir die toekoms te bou.

Elke huisbesoek is meer as net ’n formaliteit — dit is ’n geleentheid om ’n kind se welstand te beskerm. Elke verslag wat geskryf word, dra die gewig van ’n kind se toekoms. Elke moeilike besluit word geneem met die kind se beste belang op die hart.

Hulle is die brug tussen trauma en herstel.

Hulle is die stem vir kinders wat nie altyd self ’n stem het nie.

Hulle dra stories wat swaar is, maar doen dit met deernis en professionaliteit.

Maatskaplike werk is baie meer as net ’n beroep, dit is ’n roeping en beslis nie iets vir enige persoon nie. Baie mense weet nie eers wat Maatskaplike werk eintlik beteken nie. Ek as maatskaplike werker onthou toe ek besig was om te studeer hoe ‘n persoon vir my gevra het, wat ek swot. Ek het genoem dat dit Maatskaplike werk was, net in Engels “social work”. Nadat ek my beroep as Maatskaplike werker genoem het, het die persoon op ‘n speelse wyse opgemerk dat dit beteken ek sosialiseer lekker baie. Ek het nie eers myself probeer verduidelik nie.

Maatskaplike werk is nie net ’n werk nie, dit is ’n roeping. Dit vra empatie, geduld, professionaliteit en innerlike krag. Dit vra dat julle sterk bly wanneer ander breek, kalm bly in krisisse, en hoop bly uitdra selfs in moeilike omstandighede.

Op hierdie dag sê ons:

Dankie vir julle toewyding.

Dankie vir julle opoffering.

Dankie vir julle sagte harte en sterk rûe.

Mag Nasionale Maatskaplike Werkersdag vir elke maatskaplike werker ’n herinnering wees dat julle werk saak maak. Dat julle raakgesien word. Dat julle ’n blywende verskil maak in die lewens van kinders en gesinne.

Julle is werklik die hartklop van hoop in ons pleegsorg huise en gemeenskappe.

DPS Groete

Juandri van Niekerk

Maatskaplike werker:  DPS Gauteng