Kinderbeskerming maand in Suid-Afrika:
Ek lees onlangs ‘n skrikwekkende artikel raak: ‘n 11 jarige dogtertjie wat geboorte skenk aan ‘n baba, nadat sy herhaaldelik deur die ma se kêrel seksueel aangerand en verkrag is. My hart mis ‘n klop, en ek wonder….hoe is hierdie dinge moontlik in ‘n beskawing waar kinders ons grootste bate moet wees?
Die beskerming van ons kinders is almal se verantwoordelikheid
Tienerswangerskap bly ’n groot sosiale uitdaging in Suid-Afrika en wêreldwyd. Dit beïnvloed nie net die jong meisie nie, maar ook haar familie, opvoeding, gesondheid en toekomstige geleenthede. Hoewel baie tieners oor hul liggame leer, bly onvoldoende kennis, sosiale druk en beperkte ondersteuning groot bydraende faktore.
Tiener swangerskappe kom dikwels voor as gevolg van ’n kombinasie van sosiale, ekonomiese en opvoedkundige faktore soos gebrek aan seksuele opvoeding, groepsdruk, armoede (waar ‘n baba ‘n inkomste verseker deur welsynstoelae), seksuele mishandeling of uitbuiting deur die wat hulle moet beskerm, lae selfbeeld en veral gesinsprobleme of afwesige ouerleiding
Elke jaar word Kinderbeskermingsmaand in Suid-Afrika gedurende Mei gevier om bewustheid te skep oor kinders se veiligheid, regte en welstand. Hierdie maand herinner ons daaraan dat kinders nie net kwesbaar is nie, maar ook waardevolle lede van die samelewing is wat liefde, leiding en beskerming verdien -veral as hulle gebalanseerd opgevoed word.
Suid-Afrika staar steeds ernstige uitdagings in die gesig soos mishandeling, verwaarlosing, geweld, armoede en blootstelling aan dwelms. Wat doen jy om die euwels aan te spreek daar om jou ivoortoring?
Kinderbeskermingsmaand beklemtoon die noodsaaklikheid dat ouers, skole, kerke, gemeenskappe en die regering moet saamwerk om veilige ruimtes vir kinders te skep.
Volgens die Grondwet van Suid-Afrika en die Kinderwet het elke kind die reg op:
- Veiligheid en beskerming teen mishandeling of verwaarlosing
- Basiese voeding, skuiling en gesondheidsorg
- Onderwys
- Liefde, sorg en familie-ondersteuning
- Om gehoor te word
- Beskerming teen kinderarbeid, uitbuiting en geweld
Hierdie regte verseker dat kinders fisies, emosioneel en geestelik kan ontwikkel.
Saam met regte kom daar ook verantwoordelikhede. Almal le klem op die regte, maar min word gedoen om kinders ook die verantwoordelikheid daarvan te leer.
Hierdie verantwoordelikhede moet reeds in die gesin gevestig word – van jongs af. Dikwels ‘n taak wat aan die skool of beraders oorgelaat word omdat ouers afwesig is, of die samelewing se morele kompas sy Ware Noord nie meer vind nie.
Kinders moet leer om:
- Respek te toon teenoor ander
- Eerlik en verantwoordelik op te tree
- Reëls by die huis en skool te volg
- Ander kinders nie te boelie of skade aan te doen nie
- Hulp te vra wanneer hulle onveilig voel
- Positiewe bydraes tot hul gemeenskap te maak
Wanneer kinders verantwoordelikheid leer, bou dit selfrespek en gesonde verhoudings.
Praktiese maniere waarop gemeenskappe kinders kan beskerm
- Fisiese beskerming
Gemeenskappe kan kinders fisies beskerm deur veilige skole en speel areas te verseker, kindermishandeling of verwaarlosing onmiddellik aan te meld, ‘n ogie te hou oor kinders in openbare ruimtes soos winkelsentrums en speelparke, sport- kerklike – en jeugprogramme te skep wat kinders van gevaarlike invloede weghou waar gesonde mentorskap en vriendskappe gesmee kan word buite die bekende en veilige omgewing van hulle gesin.
- Emosionele beskerming:
Kinders moet geborge voel – nie net tuis nie, maar ook in hulle gemeenskappe. Kinders het emosionele sekuriteit nodig om gebalanseerd te ontwikkel. Gemeenskappe kan help deur bv Boelie gedrag aktief teen te werk, mentorskap programme te begin, kinders aan te moedig om oor hul gevoelens te praat waar hulle veilig en geborge voel en les bes: Veilige, liefdevolle verhoudings te bevorder
- Geestelike en morele beskerming
Geestelike welstand help kinders om waardes, hoop en identiteit te ontwikkel.
Gemeenskappe kan dit bevorder deur by Kerke of gemeenskapsentrums relevante jeugprogramme aan te bied wat fokus op karakter bou, doelgerigtheid en emosionele ondersteuning sodat geloof- en waardegedrewe norme kan ontwikkel.
Wees ‘n positiewe en verantwoordelike rolmodel deur oplettend te wees vir tekens van mishandeling, luister wanneer kinders praat, skep veilige ruimtes, rapporteer onreg en staan op daarteen. Maar die belangrikste van alles: modelleer respek en gesonde gedrag – ook wanneer ‘n padvark jou verontrief, of as die kragonderbrekings eindeloos aanhou!
Slotgedagte
Kinderbeskermingsmaand herinner ons dat kinders die toekoms van Suid-Afrika is. Ons het ons hede van hulle toekoms geleen. Wanneer ons hul regte beskerm, verantwoordelikhede aanleer en hulle op fisiese, emosionele en geestelike vlak ondersteun, bou ons sterker gesinne en veiliger gemeenskappe.
“It takes a village to raise a child…”
DPS Groete
Maatskaplike Werker: DPS Huis Prinsloo