DPS Huise

Beste Maatskaplike Werker,

Vandag skryf ek vir jou, omdat dit die maand is waarin ons jou vier.

Dankie vir jou,

Dankie vir jou tyd, jou insette en jou ekstra myl.

Dankie dat jy sonder ophou, aanhou om die soms hopelose gevegte te veg.

Dankie vir jou oor en dankie dat jou stem duidelik word, wanneer myne verdof.

Dankie dat jy my toelaat in jou gedagtes en dikwels oor my wroeg.

Dankie dat ek mag rus in die wete dat jy vir my sal opstaan wanneer ander se moed ontbreek.

Dankie vir jou sagte oë wat my aanvaar vir die mens wie ek is, ‘n gebreekte mens met foute.

Dankie vir die voetspore wat jy agterlaat in my hart.

Aan elke maatskaplike werk kollega – dankie vir jou! Mag jy nooit moeg word om mense se lewens saggies aan te raak nie.

Elanze Smit

Maatskaplike Werker:  DPS Gauteng