DPS Huise

Terwyl ons onsself voorberei om 2025 te verwelkom, kyk ons terug op ‘n jaar wat beide uitdagings en seëninge gebring het. Te midde van lewensomstandighede wat ons kon oorweldig, het God se genade ons deurgedra – ‘n genade wat vandag steeds net so kragtig is.

Die Kersfees-verhaal is meer as net ‘n tradisionele vertelling.  Dit is ‘n dramatiese verhaal van hoop wat midde-in ons daaglikse werklikheid inbreek.   Johannes 1:14 verwoord hierdie misterie pragtig: “Die Woord het vlees geword en by ons kom woon.” Hierdie enkele sin vertel die verhaal van God se radikale plan om mens te word, om werklik by ons te kom lewe.

Dink net aan die eenvoud van daardie eerste Kersnag: ‘n nederige stal, ”n krip en ‘n jong Maria en Josef.  Geen koninklike paadjie of indrukwekkende omstandighede nie – net suiwer, onvoorwaardelike liefde.  Jesus se geboorte herinner ons dat God nie ver of afwesig is nie, maar dat Hy intiem betrokke is in ons lewens.

Daarom is Kerstyd ‘n uitnodiging om stil te word en te oorweeg wat werklik saak maak.  Dit is ‘n tyd om God se onbeskryflike liefde te herken, maar ook te erken.  ‘n Tyd om opnuut dankbaar te wees vir die geskenk van verlossing.  Om ons lewens te verander, deur hierdie groot genade waarin ons deel.

Mag hierdie Kersfees vir u meer as net ‘n herinnering wees.  Mag dit ‘n ontmoeting wees – ‘n geleentheid om God se lig in u eie hart te ontvang en dit dan uit te dra na ‘n wêreld wat desperaat na hoop soek.

‘n Geseënde en vreedsame Christusfees word u gewens.

Ds Attie Hattingh

Direksie van die Kinderhuise