DPS Huise

Maart maand is nasionale Maatskaplike werk maand.  Ek het lank gewonder wat om te skryf wat nog nie gesê is nie en het toe besluit om een van ons pleeg seuns te nader om so te se uit die perd se bek te hoor hoe sien die ontvanger van ons dienste, ons professie.

Die besonderse 15 jarige seun is nou twee jaar in een van ons huise en het ons die afgelope twee jaar baie hoogte punte asook laagte punte saam met hom beleef.  Vir die doeleindes van die artikel noem ons hom Boeta.

“Maatskaplike werk is ‘n professionele en akademiese dissipline waarvan die doel is om die lewensgehalte en subjektiewe welsyn van individue, groepe en gemeenskappe te bevorder deur middel van navorsing, beleidsvorming, gemeenskap organisering en krisisingryping.  Dit is belangrik dat ons weet wat die Maatskaplike werkers is sodat ons kan verstaan wat hulle vir ons doen.

Maatskaplike werkers beteken baie vir my want hulle het my deur die jare wat ek in die DPS huis was en nog is, gehelp om met my probleme te werk en daar vir my te wees wanneer ek iemand nodig het.  Die Maatskaplike werkers wat ek gehad het het my baie gehelp om my met my aggressie te help en die hulp van hulle en my pleegouers om op te hou rook en nie slaan as ʼn uitweg te sien nie.  Maatskaplike werkers is die wêreld se Superman of Superwoman wat deur dik en dun by ons staan.  Dit is hoekom ek Maatskaplike werkers waardeur want hulle is daar vir ons al dink ons hulle is nie.

Dankie Maatskaplike werkers vir als wat julle vir ons doen en die moeite wat julle vir ons doen.”

Dankie aan elke maatskaplike werker wat ten spyte van soveel uitdagings elke dag opdaag om n beter more te verseker vir soveel mense in nood – julle is waarlik om Boeta se woorde te gebruik die Superwomen van ons samelewing.

Groetnis

Suzanne van Deventer

Maatskaplike Dienste bestuurder:  DPS Huise