Finansies in Pleeghuise
Finansies in die welsyn wêreld is tans ’n groot besprekings punt. Baie organisasies is in die nuus omdat staatstoelae nie betyds of glad nie betaal word nie. Die huidige ekonomiese omstandighede plaas ook baie druk op individue en besighede wat voorheen donasies gemaak het, maar in die huidige omstandighede nie meer kan nie. Daarteenoor het prysstygings op veral voedsel, elektrisiteit ens. baie opgegaan wat begrotings verder onder druk plaas. As elke individu gaan kyk na hulle eie spandering patrone en sien hoe dit verander het, dink nou net wat die impak is as daar ses kinders in die huis is wat daagliks ten volle versorg moet word.
Aangesien ons DPS-Huise so na as moontlik aan ’n normale gesin funksioneer, is dit redelik eenvoudig om ’n reglynige vergelyking te trek tussen u eie finansies en ’n DPS-Huis se finansies. Vat maar u eie salaris of inkomste wat u in u huishouding verdien. Hoeveel word aan kruideniers spandeer? Hoeveel word aan munisipale koste of brandstof spandeer. En so groei die lys van uitgawes baie vinnig.
Die direkte koste om ’n kind in die DPS-Huise te versorg beloop ±R7,500 per maand. Dit sluit nie die oorhoofse en “besigheid” onkoste (ouditkoste/versekering ens.) in nie, maar net die direkte onkoste. Hiervan dra die staat slegs R1,250 per maand by as pleegsorg toelaag.
Die uitgawes mag dalk na baie geld klink, maar gaan vergelyk dit gou met u eie situasie. Hoeveel kos u huishouding werklik? Wat kos een stel skoolklere per kind. Wat is u mediese uitgawes gewees in die winter wanneer almal siek raak? Het daar moontlik ’n geyser gebars weens die koue en wat dringend herstel moes word? Het u motor se battery dalk onklaar geraak weens die koue. So kan die lys aangaan van onkoste wat sommer ewe skielik en sonder waarskuwing aangegaan moet word.
Die DPS huise se direkte koste items in ons begrotings, sluit die volgende in:
- Voedsel, kruideniers en skoonmaak middels
- Klere
- Mediese uitgawes
- Terapeutiese uitgawes
- Opvoedings koste
- Munisipale koste
- Onderhoud aan eiendom
- Lone
- Telefoon en internet
- Skryfbehoeftes
- Bankkoste
- Motor en brandstof koste
Die Direksie van die Kinderhuise staan dan nog in vir die bokoste/administrasiekoste wat die volgende insluit:
- Versekering
- Oudit, nakoming en finansiële koste
- Maatskaplike dienste aan kinders
- Salarisse
- Ondersteuning aan DPS-sisteem verlaters
- Regskoste
- Bemarking koste
- Vervanging van toerusting
Die bogenoemde klink dalk na ’n mond vol uitgawes, maar ek kan u verseker dat as u ons DPS-Huise se state gaan vergelyk met u eie finansies dat dit baie in lyn sal wees met mekaar.
Die volgende is ook ongelukkig ons realiteit. Niemand kan sonder ’n salaris/inkomste leef nie. Dus moet iemand aangestel word om die belangrike werk van pleegouer te doen. Dieselfde met maatskaplike werkers wat ons kinders deur hulle trauma moet begelei. Ons kan ook nie net lekkergoed of ’n bederf pakkie by die huise aflaai en dink ons het kinders versorg nie. Die huise benodig fondse om uitgawes soos Munisipale rekeninge, brandstof, medies en terapie sessies te betaal. Dit kan ongelukkig nie met bederf pakkies betaal word nie. En dit is ook hierdie uitgawes wat die grootste impak op ons kinders se opvoeding maak. As die grondslag nie deeglik vasgelê word oor wat werklik prioriteit is nie, verswak ons ons kinders se opvoeding deur hulle net te bederf.
Ek doen graag ’n beroep op elke persoon wat hierdie lees. Maak asb. kontak met u naaste DPS-Huis se Toesigkomitee wat verantwoordelikheid neem vir die kinders se dag tot dag versorging. U is welkom om vrae te vra indien iets onduidelik is, maar raak asb. betrokke. Dit vat werklik ’n gemeenskap om ’n kind reg groot te maak en hoe meer mense betrokke kan raak by die gemeenskap, hoe meer doeltreffend kan ons ons kinders versorg en voorberei vir die lewe wat vir hulle voorlê.
Toesigkomitees
MONTANA DPS-HUIS (PRETORIA)
Ds JM van Staden
E-pos: wysmydieson@gmail.com
Beulah Loubser
NINAPARK DPS-HUIS (PRETORIA)
Voorsitter
Ds JT Manders
E-pos: jtmanders@icon.co.za
Pleegouers
Marius en Cornel Beyers
POTCHEFSTROOM DPS-HUIS
Voorsitter
Ds WJJ Kok
E-pos: wilmak@absamail.co.za
Pleegouers
Francois en Melanie Naude
ELSBURG DPS-HUIS
Voorsitter
Diak P Schreiber
E-pos: pschreiber@vodamail.co.za
Pleegouers
Vakant
KRUGERSDORP DPS-HUIS
Voorsitter
Ds AJ Hattingh
E-pos: ajh@nhk.co.za
Pleegouers
Benjamin en Maritzia Vorster
RUSTENBURG DPS-HUIS
Voorsitter
Ds JA Young
E-pos: johnny@tuine.co.za
Pleegouers
Riaan en Theresa van der Schyff
Vir elke persoon, gemeente en besigheid wat reeds bydraes maak en betrokke is, wil ons werklik en opreg dankie sê. U maak nie net ’n verskil in een van ons kinders se lewens nie. U maak ook ’n verskil in ons kinders se toekomstige kinders se lewens. Ons werk daagliks om die siklus van trauma te verbreek sodat ons kinders se gesinne so gesond moontlik kan wees vir die toekoms wat vir hulle voorlê.
Groete
Algemene Bestuurder: DPS-Sisteem
“Jou kind sal sy geleerdheid nog by die skool agterlaat; sy opvoeding sal hom vergesel tot in die graf. “
– C. J Langenhoven