DPS Huise

My eerste jaar by die Gauteng DPS huise het op ʼn manier begin wat ek nooit sou kon voorsien nie. Op die dag wat ek hier begin werk het, 1 Augustus 2024 het ek ἠ oproep gekry van my ma, maar ek het nie geantwoord nie, omrede sy geweet het dit is my eerste dag by ἠ nuwe werk. Sy het aanhou bel en net daar het ek geweet daar is fout. Die koue en lam gevoel wat ek ervaar het toe ek die foon optel na ἠ vreemde stem vir my sê dat my ma in ἠ karongeluk was sal vir altyd by my bly.  Ek het my nuwe werk begin met ʼn gebroke hart en ʼn kop vol vrae. Maar wat ek hier by die DPS huise gekry het, was meer as net ʼn werk — ek het mense gevind wat my dra, ondersteun en verstaan het in my rou.

As ἠ jong maatskaplike werker wat elke dag saam met ons wonderlike pleegouers en pleegkinders werk, het hierdie rou my vinnig geleer hoe diep pyn en verlies ons lewens kan vorm. Ek het begin besef dat my eie pad van verlies my nader bring aan die kinders wat ek ondersteun. Baie van die kinders waarmee ek werk, ken reeds op ʼn jong ouderdom die hartseer van verlies – verlies van ouers, van veiligheid, van sekerheid. Ek verstaan nou op ʼn ander vlak hoe belangrik dit is om ʼn volwasse mens in hul lewens te hê wat net daar is: om te luister, om te dra, om nie moed op te gee nie.

In hierdie jaar het ek gesien hoe ongelooflik sterk kinders kan wees, selfs wanneer hulle met die slegste omstandighede moet saamleef. Ek het gesien hoe pleegouers, met liefde en baie geduld, ʼn veilige plek skep waar kinders weer kan leer vertrou, weer kan begin hoop. Ek het self gegroei deur hulle stories, hulle uitdagings, en hulle klein oorwinnings.

Elke gesprek, elke traan, elke klein bietjie hoop wat ons help bou in ʼn kind se lewe, het ook my eie genesing bevorder. Hierdie werk is nie net ʼn beroep nie — dis ʼn roeping. Ek is dankbaar dat ek deel kan wees van ʼn span wat elke dag met soveel toewyding werk om kinders en hul pleegouers te ondersteun, te versterk en saam ʼn toekoms te bou.

Ek het by ʼn organisasie begin werk wat mense help en ondersteun, terwyl ek self in ʼn plek was waar ek nie geweet het hoe ek myself gaan help nie. Ek het gedink ek moet sterk lyk, ek moet alles bymekaar hou, want ek is nou ʼn professionele maatskaplike werker. Maar die waarheid is: ek was rou.

Wat ek nie geweet het nie, is dat ek in daardie oomblik nie net ʼn werk gekry het nie, maar mense wat my sou dra. My kollegas het my nie gesien as iemand wat moet presteer nie, maar as ʼn mens wat hartseer is en ondersteuning nodig het. Hulle het my herinner daaraan hoekom ek hierdie beroep gekies het – omdat menswees altyd eerste kom.

Daardie eerste paar maande het ek stadig weer begin asem haal. Ek het gesien hoe my eie pyn my meer deernisvol maak teenoor ander. Ek het besef dat rou nie iets is wat jy oorkom en agterlaat nie; dit loop saam met jou en vorm jou tot ʼn beter luisteraar, ʼn sagter hart, en iemand wat ander se swaarkry op ʼn dieper vlak verstaan.

Vandag, amper  ʼn hele jaar later, kyk ek terug en besef ek, ek is nie net ʼn sterker maatskaplike werker nie, maar ook ʼn sterker mens. My kollegas het my geleer hoe lyk werklike ondersteuning, hoe lyk spanwerk, en hoe belangrik dit is om self ook soms hulp te vra.

Ek is trots daarop om deel te wees van hierdie ongelooflike span wat nie net vir ander daar is nie, maar ook vir mekaar. Hulle het my gered toe ek nie geweet het ek moet gered word nie.

Tydens hierdie jaar het ek so baie geleer. DPS huise het my as jong maatskaplike werker toegerus aan wonderlike opleidings asook hulpmiddels wat ek vir altyd sal kan gebruik. Een ding wat ek ook geleer het is dat mens elke dag iets nuuts leer. Ek is ongelooflike opgewonde vir die volgende paar jare saam met hierdie span. Ek sien uit na nog vele jare van groei, diens en saam menswees.

Juandri van Niekerk

Maatskaplike Werker:  DPS Gauteng