DPS Huise

Jou Dade Leer Meer as Woorde Ooit Sal

Kinders leer baie meer uit wat hulle sien as uit wat hulle hoor. ’n Rukkie terug het ek saam met ’n bussie vol kinders gery toe die pad besonder besig was. Stadig kruip ons deur die verkeer, en elke nou en dan druk iemand sommer voor ons in. In my hart raak ek kwaad, maar ek hou my gesig kalm. Ná die tweede keer hoor ek ’n stem van agter af – een van die kinders sê, sonder om doekies om te draai, dat ek my hooter moet druk én vir die ander bestuurder ’n spesiale handgebaar moet wys.

Toe besef ek: nie een van hierdie kinders het ’n lisensie nie, maar die gedrag wat hulle toon, het hulle by ons grootmense geleer. Die gesegde “Monkey see, monkey do” het my meteens bygeval.

Hier is ses maklike wenke om vir ons kinders ’n positiewe voorbeeld te wees:

  1. Wys vriendelikheid in daaglikse interaksies:

Behandel winkelassistente, taxi-bestuurders en kelners met vriendelikheid en respek. Jou kind sien dit raak en leer gou dat vriendelikheid belangrik is.

  1. Reageer kalm in frustrerende situasies:

As iemand jou in die verkeer afsny, reageer rustig. Jou kind sien hoe jy emosies beheer en leer om dieselfde te doen.

  1. Gee voorkeur aan gesig-tot-gesig gesprekke:

Wanneer iemand met jou praat, sit jou foon neer en luister mooi.  Só wys jy jou kind hoe belangrik dit is om regtig teenwoordig te wees.

  1. Praat positief oor ander en oor jouself:

Moenie skinder of lelik praat nie. Sê eerder goeie dinge oor ander en ook oor jouself.  Jou kind leer respek en selfvertroue by jou.

  1. Bestuur woede op ’n gesonde manier:

As jy kwaad raak, moenie skree of lelik optree nie. Wys jou kind om rustig asem te haal of die probleem kalm te bespreek.

  1. Wys dankbaarheid en waardering:

Sê gereeld dankie vir klein én groot dinge. Jou kind leer om dankbaarheid te waardeer en positief na die lewe te kyk.

In ’n wêreld waar woede en aggressie dikwels die nuus haal, kan ons kies om anders te wees. Kom ons wys vir ons kinders dat vriendelikheid, geduld en medelye altyd sterker is. Kom ons wees die verskil wat ons so graag in hulle wil sien.

Suzanne van Deventer
Programbestuurder: DPS Huise