In my jare se wedervaringe as maatskaplike werker by kinderversorging-instansies, het sekere momente my bygebly. Sommiges met vreugde in my hart, maar sommiges met ‘n hartseer knop in die keel.
Een so ‘n voorval was met twee boeties: Roy en Nico. Hulle was in die kinderhuis (waar ek toe in diens was) geplaas. Roy was ‘n blondekop-sproetgesig seuntjie. ‘n Dierbare klein knaap wat met een oogopslag sommer diep in ‘n mens se hart gekruip het. Ou Nico – aan die anderkant – met sy skurwe kniekoppe, pennetjies hare, ouderdom wat vat-vat aan die tienerjare en minder innemende geaardheid – was eintlik die teenoorgestelde van sy broer.
Dit was nie lank, of klein Roy het vinnig naweek ouers gekry, en is gereeld uitgeneem oor vakansies en naweke om buite die kinderhuis sy horisonne te verbreed. Maar ou Nico… nee, hy het nie so ‘n indruk gemaak nie. Met elke vakansie het hy sy klein boetie help pak, sy tas help aandra na die vakansie-mense se motor, hom ‘n stywe druk gegee…en verwese omgedraai, en maar op die swaai gaan sit want hy het “nog nie” naweek mense gekry nie. “Miskien volgende vakansie” het hy seker maar in sy gemoed gehoop.
Min het ek geweet dat dit maar een van baie sulke tye sou wees, wat ek moes aanskou. Ook in die DPS sisteem moet ons elke vakansie gaan sif: die wat kan “uitgaan”, die wat “in aflos huise” gaan moet roteer en die wat bloot maar net gaan “inbly.”
Noem my maar sentimenteel: maar oor Desember – wanneer gesinne bymekaar kom om saam die Feesgety te vier – is dit selfs vir my moeiliker om die indelings van die “inbly-kinders” by aflos huise te doen. Is daar regtig geen ander gesin wat ‘n gaatjie oop het nie? Ook hierdie “inbly-kinders” moet hul huismaats afsien, totsiens waai – en dan ook maar net op die swaai gaan sit.
Oor Kersvakansies word ons DPS kinders bederf met geskenkies, lekkernye en speelgoed, maar soms – net soms – sou ‘n sorgelose dag of naweek weg van hulle omstandighede – ‘n variasie op hulle vakansie wees.
Daarom rig ek die pleidooi: nie al ons kinders is klein blondekop-sproetgesig knapies soos Roy nie. Soms is daar ‘n tiener seun – dalk maar bietjie “nukkerig en stug” maar dalk ook maar steeds ‘n kind met ‘n behoefte om soms buite die vier mure van die DPS huis te gaan verken.
Ons weet dit is nie maklik om net ‘n naweek-ouer te word nie. Ongelukkig kan jy nie net opdaag en ‘n kind oplaai vir ‘n lekker dag uit nie. Dit verg moeite, opofferings en heelwat vorms om tot daar te kom.
Maar dit bly ook maar in belang van die kind se veiligheid. Ons moet darem seker maak ons maak nie vir Wolf, Skaapwagter nie. Daarom is dit nodig om ‘n vorm (vorm 30) in te vul, en ‘n in diepte gesprek met ‘n maatskaplike werker te hê, alvorens jy net kan opdaag.
Maar, is dit nie die moeite werd, as jy weet – vir die een dag / naweek / vakansie – het jy ‘n verskil gemaak in ‘n kind se hart nie? Om maar verby die ongerief van ‘n “vreemdeling” in jou midde, ‘n ervaring van vreugde en uitbundigheid in die Feesgety by ‘n kind tuis te bring nie?
Indien jy dalk belangstel om wel jou huis vir ‘n dag, naweek of vakansie oop te maak, kontak enige van die Maatskaplike werkers of vir DPS -bestuurder.
Desember is om die draai, en daar is ongeveer 20 “Nico’s” wat sal moet inbly. Sien iemand kans om die getal te laat krimp?
Tertia Vos
Maatskaplike werker: DPS Rustenburg