SPESIALE DEURKOLLEKTE: DPS-HUISE – 1 MAART 2026
Legkaarte van ons lewens
Almal van ons bou daagliks aan die legkaarte van ons lewens. Vir sommige van ons is dit, met die hulp van ons ouers, onderwysers en kategete, moontlik om al die stukke in plek te plaas. Hulle help ons om die stukke te meet en te pas totdat daar ‘n mooi prentjie is.
Vir ander van ons is dit nie so eenvoudig nie. Ons moet self die stukke uitpak en uitsorteer. Ons moet self die stukke meet en pas. Soms pas dit en soms bou jy verkeerd tot op die punt waar jy moet afbreek en ander stukke soek en pas.
Sonder Christus is die bou van ons lewens-legkaart nie moontlik nie. In gehoorsaamheid aan Hom is ons Kerk al vir meer as 100 jaar besig om kinders te help om hulle stukkende legkaarte te herbou in heel prentjies in. Deur die hande en die voete van die direksie van die Kinderhuise, die personeel, maatskaplike werkers, huisouers, toesigkomitees, en gemeentes help ons kinders om legkaartstukke te sorteer en te pas, en só word Christus se genade sigbaar in ‘n harde wêreld.
In 2026 vra ons u om saam te help bou aan die legkaart van die DPS-huise en veral ons DPS-kinders. Hierdie kinders het jóú nodig om die vermiste stuk van die legkaart te word. Hieronder is ‘n paar maniere om deel te word van die legkaart-bou-span van die DPS-huise.
Spesiale Deurkollekte: 1 Maart – Stop geweld teen kinders
Gemeentes word aangemoedig om hulle deurkollekte van 1 Maart te skenk aan ons Kinderhuise.
† Bydraes kan inbetaal word by die Raad van Finansies:
Rekeningnommer: 020000287
Bank: ABSA
Takkode: 632005
Verwysing: 16DPSS + Gemeentenaam
†U is natuurlik welkom om die deurkollekte op enige ander dag te hou, volgens u gemeente se program.
Video / PowerPoint aanbieding
Ons het, met die oog op die spesiale deurkollekte, ‘n aangrypende video opgestel. Deel dit asseblief met u gemeente voor, tydens of na die erediens. Indien u nie die fasiliteite daarvoor het nie, lees die verhaal self vir die gemeente, of laat iemand dit voorlees, sodat ons as Kerk met dankbaarheid kan besef dat ons steeds ‘n radikale verskil in stukkende kinders se lewens maak.
Legkaarte vir kategese, skole, jeuggeleenthede, huisgodsdiens, ensovoorts
Ons is baie opgewonde om ons reeks DPS-legkaarte bekend te stel!
Daagliks gebruik onderwysers, ouers, terapeute en andere legkaarte. Deur legkaarte leer kinders visuele konsepte en oriëntasie. Tydens terapeutiese sessies word legkaarte gebruik om getraumatiseerde persone te kalmeer en om hulle gevoelens te help verwerk. In die opvoedkunde word legkaarte gebruik om bepaalde begrippe en verhale oor te dra aan kinders en veral kinders wat getraumatiseerd is. Bybelse verhale kan ook, deur die gebruik van legkaarte, aan ons kinders oorgedra word op ‘n visuele en interaktiewe manier.
Deel van die spesiale deurkollekte vir die DPS-huise is juis om aan ons kinders deur middel van legkaarte die Bybelse verhale van hoop oor te dra. Hierdie legkaarte beeld verskillende Bybelse verhale uit. Die fokus op verskillende ouderdomsgroepe maak die gebruik van die legkaarte veelsydig. Hieronder is voorbeelde van Moses in die mandjie, weggesteek in die Nylrivier, vir twee ouderdomsgroepe: voorskoolse en laer grade, asook kinders in hoër grade.
Die legkaarte kan nuttig gebruik word om Bybelse verhale aan kinders oor te dra tydens huisgodsdiens, kategese, ensovoorts.
Elke gemeente wat deelneem aan die spesiale deurkollekte sal ‘n gratis basiese legkaart vir kleuters ontvang. Ander legkaarte kan deur die gemeente bestel en aangekoop word. Die fondse gegenereer uit die verkope van die legkaarte sal bydra tot die versorging van ons kinders in die DPS-huise.
Die legkaarte bestaan uit verskillende groottes, materiaal en prentjies, en kan bestel word volgens jou keuse. Volg die volgende skakel om te bestel deur die PDF bestelvorm hier
Ons hoop en vertrou dat u sal instem om die vermiste stuk van die legkaart te word, op só ’n manier dat ons kan aanhou om kinders, wat die slegte kant van die lewe ken, ’n kans tot heel word te bied.
Saam in diens,
Ds Gerhard Stoltz
Sekretaris: Diakonaat
082 872 5236
gerhard@nhk.co.za