Skip to main content

DPS Huise

Mandela-maand: Elke Kind Verdien die Geleentheid om te Groei

Nelson Mandela het eens gesê dat die ware karakter van ‘n samelewing gemeet kan word aan hoe dit sy kinders behandel. Hierdie Mandela-maand wil ons die aandag vestig op ‘n behoefte wat dikwels oor die hoof gesien word, maar wat ‘n onskatbare rol speel in die ontwikkeling van kinders – veral kinders wat trauma beleef het.

Vir baie mense is dit vanselfsprekend dat ‘n kind aan sport, kultuur of ander buitemuurse aktiwiteite deelneem. Die realiteit vir baie pleeggesinne en kwesbare kinders lyk egter anders. Wanneer finansies beperk is, word moeilike keuses gemaak. Skool fooie, kos, klere en ander basiese behoeftes geniet noodwendig voorkeur, terwyl buitemuurse aktiwiteite dikwels as ‘n luuksheid beskou word.

Maar is dit werklik ‘n luuksheid?

Vir kinders wat trauma, verlies, verwerping of onsekerheid beleef het, bied sport en kultuur veel meer as bloot ontspanning. Dit skep geleenthede om belangrike lewensvaardighede te ontwikkel soos sosialisering, spanwerk, deursettingsvermoë, dissipline en vertroue in ander. Dit help kinders om gesonde verhoudings te bou, hul selfbeeld te versterk en ‘n gevoel van behoort te ervaar.

Daarbenewens dra buitemuurse aktiwiteite by tot beter fokus, verbeterde hand-oog-koördinasie, emosionele regulering en die ontwikkeling van selfdissipline. Vir baie kinders word die sportveld, kunsklas of musieksaal ‘n plek waar hulle nie deur hul verlede gedefinieer word nie, maar waar hulle ontdek waartoe hulle in staat is.

By DPS Huise glo ons dat elke kind die geleentheid verdien om sy of haar talente te ontdek en te ontwikkel. Daarom wil ons graag ‘n fonds stig wat spesifiek daarop gemik is om kinders in ons pleeghuise toegang te gee tot buitemuurse aktiwiteite wat andersins buite bereik sou wees.

Hierdie Mandela-maand nooi ons jou uit om saam met ons ‘n kampioen vir ‘n kind te wees. Indien jy bereid sou wees om ‘n kind se sport-, kultuur- of ander buitemuurse aktiwiteit vir ‘n maand of selfs ‘n jaar te borg, hoor ons graag van jou.

Ons kan met oortuiging sê dat jou bydrae nie aangewend sal word vir ‘n luuksheid nie, maar vir ‘n welverdiende noodsaaklikheid – ‘n belegging in ‘n kind se ontwikkeling, selfvertroue, genesing en toekoms.

Want elke kind verdien meer as net om te oorleef.

Elke kind verdien die geleentheid om te groei, te behoort en te floreer.

Kontak ons indien jy meer wil weet oor hoe jy betrokke kan raak by hierdie inisiatief en ‘n verskil in ‘n kind se lewe kan maak.  Ons heg die bankbesonderhede asook kontakbesonderhede aan vir vinnige verwysing.

Bank besonderhede:

Kinderhuise van die NHKA

ABSA Bank

Besigheid rekening

Rek no.  020390093

Beskrywing:  Buitemuurse aktiwiteit

Mnr Otto Viljoen: kinderhuise@nhk.co.za (Bestuurder van DPS Huise)

Mev Suzanne van Deventer:  suzanne@rata.org.za (Bestuurder:  Maatskaplike Dienste DPS Huise)

DPS Groete

Suzanne van Deventer

Bestuurder:  Maatskaplike Dienste DPS Huise

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *