Die uitdaging om nou ‘n terapeutiese ouer te wees
‘n Paar maande gelede verwelkom ons ‘n nuwe huis ouerpaar in ons DPS midde. Ek as maatskaplike werker spring vervaard weg om die oriëntering te doen, die kinders se aanpassing te monitor, en om elkeen se lêer met die huisouers deur te werk, raad en leiding te gee hoe om elkeen te hanteer, en so kan ek aangaan.
En skielik besef ek: Dit gaan hier oor baie meer as die kinders wat moet aanpas: hier is ‘n ouerpaar wat van kinderloos, na ouers van een pleegkind in privaat sorg, na ouers van vele gaan – binne ‘n bestek van ‘n paar weke! Watter groot aanpassing moet dit nie vir HULLE wees nie?
En ek begin vrae vra: wat is julle belewenis? Wat is uitdagings? Hoe lyk julle verwagtings van waar julle aansoek gedoen het tot waar julle jul nou bevind? En ek kry sommer LAAAANG WhatsApp stem boodskappe wat soveel vervat van die uitdagings, verwagtings maar ook die plesier wat hierdie “OUERS VAN VELE” in die paar maande beleef.
Een van die grootste uitdagings is seker die feit dat hulle nie net nou ouers is wat met ‘n bord kos, warm bed en ‘n liefdevolle drukkie vrede en harmonie kom vestig in deurmekaar kinderharte nie. Nee, hulle word TERAPEUTIESE ouers wat met groot uitdagings gekonfronteer word.
Die kompleksiteit van elke kind wat met sy eie bagasie van trauma, agtergrond en eise na ‘n ouerpaar kom wat ook self – heel menslik – met hul eie bagasie kom – is ‘n groot uitdaging.
Maar gelukkig het die Neuro-wetenskappe bewys dat die brein buigbaar is en kan hervorm. Dr Karen Triesman noem egter dat die verandering slegs in sinvolle verhoudings kan gebeur deur:
KONNEKSIE: BEMAGTIGING; en KORRIGERING
…op die regte TYD, die REGTE VOLGORDE en deur ‘n BAIE LANG PROSES (DR Bruce Perry)
Daarom word daar soveel meer as ‘n liefdevolle drukkie en ‘n warm bed van ons huisouers (aanneemouers en pleegouers) verwag…
By monde van die nuwe DPS huisouers, lê die uitdaging juis daarin: om te weet HOE om elke kind se snellers, gebaseer op sy trauma, te identifiseer, hoe om jou EIE snellers te identifiseer en hoe om kalm te bly in uiters plofbare situasies. As ‘n kind weghardloop en vir ure in ‘n boom gaan sit, is ‘n liefderyke drukkie baie moeilik om te gee, wat nog te se om hom te leer om sy eie emosies onder beheer te bring!
Ons terapeutiese DPS ouers moet soms aan die ontvangkant wees van gedragsmoeilike kinders wat opstandig, ondankbaar en eiegeregtig optree, sonder om self beheer te verloor, en in ou patrone van raas, skree en straf te verval, of om iets terug te verwag van “hoeveel hulle in elke kind insit”.
En net soos hulle die kinders leer ken soos hul eie, en in hulle harte koester, moet daar op ‘n stadium weer van hierdie kind afskeid geneem word, en weer van vooraf met ‘n nuwe kind die pad van heling gestap begin word – weer met uitdagings en ‘n unieke individu met unieke trauma en snellers….
Maar gelukkig is daar die onwrikbare geloof dat elke huisouer met ‘n doel oor die kinders se pad gestuur word, en dat die beloning lê in kleiner “genadetjies” soos wanneer Klein H, wat saans die kombers oor sy kop trek as hy nag gesê word, skielik plek maak vir die nuwe mamma op sy bed, om saam met hom daar te lê en storie lees tot hy aan die slaap raak.
Die hoop beskaam nooit: en soos die nuwe huispa dit stel: “as ek net een verskil in ‘n kind se lewe kan maak, en hom laat glo dat hy spesiaal en geliefd is ten spyte van sy streke, maak dit die opoffering die moeite werd, want ons is GEROEPE na hierdie spesifieke kind, op hierdie spesifieke tyd volgens die wil van die HERE.”
OUERS VAN VELE: ONS SALUEER JULLE !!
Met erkenning aan:
Beacon House
Angelique du Rant
Die geliefde ouers van vele
Tertia Vos (Maatskaplike werker, DPS Noordwes)