Die maand skop ons amptelik af om die mense agter die name bekend te stel. Ons het so 5 minute “onderhoud” met elkeen van ons bestuurspan gevoer om bietjie meer uit te vind wie hulle is, waar hul vandaan kom en wat hul drome is. Geniet die kuier saam met ons.

Otto is die man wat ons drie vrouens in bedwang moet probeer hou.
Geen maklike taak nie!
Otto Viljoen
(Bestuurder: DPS Huise)
Ek is gebore op 1983-09-15 in Pretoria as die jongste van drie kinders. Ek het ’n ouer broer wat ’n Stadsbeplanner is en ‘n suster wat ’n onderwyseres is. Ek het in 2001 gematrikuleer aan Hoërskool die Wilgers in Pretoria. In 2002 het ek aangesluit by die Suid Afrikaanse Weermag. Ek was hoofsaaklik by drie eenhede gestasioneer nl. Leër gimnasium te Heidelberg, Infanterie skool te Oudtshoorn sowel as 44 Valskerm Regiment te Bloemfontein. Gedurende 2005 het ek ook vir sewe maande saam met 14 SAI na “Die Sudan” ontplooi as deel van die AU se vredesmagte.
2006 het ek begin om B-Kom deur Unisa studeer en gedurende 2010 het ek as ouditklerk begin werk by die oudit afdeling van die NHKA. Sedert Januarie 2012 is ek werksaam by die Kinderhuise van die NHKA as Bestuurder. Ek en my pragtige vrou is in 2009 in Bloemfontein getroud en het twee wonderlike seuns, onderskeidelik sewe en twee jaar oud. Ons geniet dit om as gesin in die buitelug te wees en gebruik elke kans wat ons kry om uit die stad te kom, hetsy dit ’n voortrekker kamp, ons eie DPS kamp of ’n besoek aan ’n gemeente is.
My droom is dat elke kind, veral die in ons sisteem, voel hoe dit moet wees om deel te vorm van liefdevolle gesin en familie wat selfs met al die stampe en stote van die lewe, steeds lief bly vir mekaar en end uit die pad saamstap.
Kotie is soos die kalmte binne ʼn storm. Sy hou ons gefokus en is ons Excel fundi. Geen geringe taak met twee kollegas wat voor rekenaars gebore is nie.

Kotie van Niekerk
(DPS Maatskaplike werker: Gauteng)
Ek is op 8 Junie 1976 in Pretoria gebore as die tweede jongste van vier dogters. Ek het die helfte van my kinderjare in Ermelo grootgeword voor ons weer terug verhuis het Pretoria toe. Ek slaag my matriek aan Hoërskool Langenhoven waarna ek vir Tersius ontmoet. Ons is hierdie jaar 26 jaar getroud en is geseën met twee pragtige seuns. My oudste seun is reeds getroud en is ek die trotse ouma van ʼn pragtige baba dogtertjie.
Nadat ek skool verlaat het ek aangesluit by die Suid Afrikaanse Polisie Diens waar ek vir 21 jaar werksaam was as ʼn Personeel Beampte. Gedurende die tyd het ek besef ek het ʼn passie om met mense te werk en besluit om myself as ʼn maatskaplike werker te bekwaam deur Unisa. Dit het my lank geneem maar uiteindelik was dit vir my moontlik om my droom te verwesenlik!
Toe die geleentheid homself voordoen om aansoek te doen vir ʼn pos as ʼn maatskaplike werker binne die DPS sisteem, het ek nie een oomblik getwyfel om my aansoek deur te stuur nie. Die interessante gedeelte is dat ek nooit maatskaplike werk gaan studeer het om met kinders te werk nie. Terwyl ek met my kinders in die pleegsorg sisteem gewerk het ek tot ʼn nuwe ontdekking binne myself gekom, my “true calling” – my passie om met kinders te werk! Ek is tans twee jaar werksaam as maatskaplike werker by die vier DPS huise in Gauteng.
Vir ontspanning geniet ek dit om te hekel en tyd saam met my “bank bestuurder” deur te bring voor my TV met ʼn boeiende TV reeks.
Een ding wat ek vir elkeen van my kinders wil leer, is Geduld. Onder die kinders is daar al ʼn geterg oor as ek vra “Wat sê tannie Kotie altyd…?” dan antwoord hulle in een stem “…ons moet geduldig wees”.

Tertia is ons “go to” wanneer dit by terapie kom, en is dit ook duidelik sigbaar in haar werk en haar passie.
Tertia Vos
(DPS Maatskaplike werker: Noordwes)
Ek was bevoorreg om as die oudste van 3 kinders op ‘n plaas in die Noord Wes naby Vryburg gebore op 1971-09-28 groot te geword het. Daar het ek menige salige en beskermde dae as kind deurgebring, maar vanweë die groot afstande wat plase van skole was, moes ek in Gr 1 koshuis toe gaan totdat ek Matriek daar geslaag het. (Ons het darem gereeld naweke kon huis toe gaan! Dit het my geleer om baie jonk selfstandig te word. Ek glo dat dit, asook die feit dat ek die oudste is, baie bygedra het tot my sin vir verantwoordelikheid en hulpverlening aan ander wat dalk jonger en nie vir hulself kon opstaan nie .Dit het waarskynlik die grondslag gele vir die “mense-beroep” wat ek jare later gekies het.
Ek het aan KOVSIES (UFS) gegradueer as maatskaplike werker, nadat ek amper myself in die sielkunde-begewe het! Tog het ek later my Honneursgraad in Sielkunde aan UNISA verwerf, maar die hoogtepunt van my opleiding was gewis toe ek op spelterapie, kinder-assessering en persoonlikheidsprofiel-ontleding begin fokus het.
Alhoewel ek my loopbaan as veldwerker in Klerksdorp begin het, het ek later ‘n pos by ‘n kinderhuis in die omgewing gekry, en daar my ware passie ontdek: nl om met kinders te werk. Toe ons jare later na Rustenburg moes verhuis, was ek bevoorreg genoeg om ‘n deeltydse pos by die DPS-huis Rustenburg te bekom. En, alhoewel ek tussen deur verskeie ander deeltydse werk saam met die DPS-werk gedoen het, is ek steeds – na 17 jaar – betrokke by die DPS huis. En ek was nog nie een dag spyt daaroor nie! In 2021 het ek ook die DPS Potchefstroom bygekry, as toesighoudende pleegsorg werker, wat ek ook baie bevredigend vind.
‘n Mens vergeet NOOIT enige van die kinders met wie jy werk nie, omdat elkeen van hulle ‘n stukkie van jou hart met hulle saamneem – waar hulle hul ook in die wêreld later bevind. Die groot uitdaging van my werk as maatskaplike werker is om te besef dat jy ongelukkig nie elke kind kan red nie. Maar as jy in selfs net in een kind se lewe ‘n verskil kan maak, maak dit alles die moeite werd. Daar is altyd hoop en tweede kanse….
Ek is vir 26 jaar getroud aan ‘n ondersteunende man wat my voete vas op die grond hou wanneer my emosies my oorweldig, en ek soms ‘n realistiese stem nodig het. Ons is geseën met een seun, wat tans ‘n student is. Hy het my weer geleer om die lewe nie TE ernstig op te neem nie, en soms net “in die oomblik te leef.” My ander groot seëning in die lewe is my vier-been kind: ‘n Boston terriër wat elke dag opvrolik, en leer wat onvoorwaardelike liefde is.
In my dae af, hou ek daarvan om kuns projekte aan te pak, kunsklasse by te woon, of net tyd in die natuur deur te bring. Hierdie is my “terapie” wat my anker en my kop so bietjie “skoon” maak – tot voordeel van my gesin (of so reken hulle)!
My ”leuse” in die lewe is: THIS TOO SHALL PASS . Dit herinner my daaraan om elke geleentheid ten volle te benut, maar ook dat, wanneer moeilike tye kom, dit sal verbygaan. Aan die einde van my lewe sou ek graag wou se: Non, je ne regrette rien – nee, ek is oor niks spyt nie!

Suzanne van Deventer
(Programbestuurder: DPS Huise)
Ek is op 4 Julie 1973 in Pretoria gebore as die jongste van twee kinders. Ek het ʼn ouer broer op wie ek baie trots is en ons is soos die Engelse sê “two opposites of a coin”. Hy is die koel en kalm een en ek is die een wat die vurige en rustelose gene geërf het. Ek matrikuleer einde van 1991 aan Hoërskool Waterkloof en in 1992 begin ek my studies as ʼn maatskaplike werker by die Universiteit van Pretoria. Desember 1995 ontvang ek my graad en op 1 Mei 1996 begin ek as ʼn splinternuut gekwalifiseerde maatskaplike werker by Die Ondersteuningsraad in Pietersburg. As ek terug dink besef ek, ek het nog nie veel geweet daardie tyd nie maar ek glo my eindelose optimisme en geloof dat ek wel ʼn verskil gaan maak, het my deur daardie eerste jaar gedra.
My maatskaplike werk loopbaan bly binne die veilige grense van die Ondersteuningsraad en in 1998-is ek oorgeplaas na Pretoria Kantoor as ʼn Gemeenskapswerker. Die ironie is dat gedurende my studente jare was ek redelik openlik oor die feit dat dit iets is wat ek nooit wou doen nie. Die leerskool van die lewe het my daardie jaar baie lesse geleer en by my ʼn liefde vir Gemeenskapswerk gekweek. Om met kinders te werk was nog altyd my passie – en ook die hoofrede waarom ek besluit het om maatskaplike werk te gaan studeer. In my jare as veldwerker het ek wel die geleentheid gekry om met kinders te werk, maar nooit net primêr met kinders. Geleentheid het hom voorgedoen en is ek later bevorder as Programbestuurder van eers die Oos en Wes Rand se Rata kantore en later by Pretoria kantoor. Geleentheid vir persoonlike- sowel as beroepsgroei was onbeperk en was ek vir baie jare ook verantwoordelik vir die reël en aanbied van die Rata Tienerkamp, ʼn instelling onder ons kinders. Gedurende my tydperk as Programbestuurder het ek die voorreg gehad om saam met van die beste maatskaplike werkers en Bestuur te werk en het ek besef om vir Rata te werk, is ʼn droom wat waar geword het.
Ons Hemelse Vader werk op misterieuse wyses en op 1 Maart 2018 word my lewensdroom bewaarheid. Ek is deur Rata en die Kinderhuise van die NHKA aangestel as Programbestuurder van ons 6 DPS Huise. Spanwerk is so belangrik en hier het ek weereens die waarde van ʼn multi-professionele span benadering besef. Dit is een van die grootste voorregte vir enige maatskaplike werker om deel van so ʼn uitsonderlike span te kan wees. Na baie jare het ek uiteindelik tuis gekom en kan ek my droom en passie elke dag uitleef – die voorreg en verantwoordelikheid om met ons kosbare getraumatiseerde kinders te kan werk. Elke oggend as ek wakker word weet ek dat maak nie saak wat vandag gaan gebeur nie, êrens deur die loop van die dag gaan daar iets gebeur wat ʼn glimlag op my gesig sal sit. Ons kinders is werklik ongelooflik en ek leer daagliks so baie van hulle, veral nederigheid omrede hulle nie twee keer sal dink om presies vir jou te se wat hulle voel nie, ʼn stywe drukkie te gee, om trane van vreugde asook hartseer te deel en net daar te wees wanneer hulle jou die nodigste het.
Buiten werk, wat nie werk is nie omrede dit so lekker is is ek ook getroud met Johan (my eie boer) wie nie net my grootste ondersteuner is nie maar my passie vir my werk met my deel. My man is gelukkig die een met die finansiële kop op sy skouers en weet net hoe om my gegrond te hou wanneer my emosies met my oploop kan raak. Saam is ons die trotse ouers van twee pragtige Jack Russell hondjies wat eintlik nie weet dat hul honde is nie en al ʼn holte in die bed saam met ons geslaap het. Saam geniet ons die natuur, lang stappe op Buffelsbaai se strand, laat aand kuiers voor die braaivleisvuur en ook net rustig ontspan elkeen met ʼn heerlike boek om te lees.
Om ʼn maatskaplike werker te wees is nie net ʼn werkstitel nie, dit is die grootste verantwoordelikheid en seën waarop enige mens voor kan hoop!
My lewens-motto: “Just smile and wave boys, smile and wave”.
Suzanne is die adviseur en diplomaat volgens haar kollegas wat nie terug staan om moeilike situasies te hanteer en te ontlont nie