OKTOBER IS VAKANSIE TYD…OF IS DIT DALK NIE

DPS KAMP 3 TOT 7 OKTOBER 2022

Ons almal ken die woorde van die liedjie “Dis weer vakansie tyd, dis rondomtalie draai. Ek gaan lekker visvang in die hoek van die baai, waar die sonstrale lekker op my rug kan brand.  Waar ek drome kan droom met my tone in die sand. Of ek skuil in ‘n grot uit die pad van die weer en ek lag hardop want ek hoor meneer… Hy sê staan op sit stil boeke oop leer jou les oe la la la, oe la la la…”.  Desember 2020 het ons met ʼn nuwe tradisie begin, ʼn kamp vir ons kinders alleenlik.  Die kamp was so groot sukses en in jaarlikse aanvraag dat ons besluit het om die kamp te beperk tot die jare wanneer ons skoolverlaters het.  Die laaste kamp om sorgeloos kind te wees voor hulle die groot mens wêreld te gemoed stap. 2022 is weer so ʼn jaar.

Gedurende die 5 dae lange kamp kry ons pleegouers geleentheid om te rus, ontspan en hulle emosionele koppies weer vol te maak terwyl die vier maatskaplike werkers met 36 kinders gaan kamp.  Hierdie kamp is vir baie kinders ʼn wortel voor die neus om hulle kant te bring, hard te werk en samewerking te bied aan die pleegouers asook die maatskaplike werkers.  Een van ons 14 jarige dogters beskryf dit so mooi: “Die kamp is vir my lekker, want daar kan ek ons familielede sien wat ons deur die jare gemaak het terwyl ons in die DPS huis is.  Ons kan saam aktiwiteite doen en mekaar beter leer ken en ondersteun.  Op die kamp is daar altyd mense wat omsien na jou en vir jou lief is en vir jou omgee”.  Wat ʼn getuienis komende van ʼn tiener!

Die tema vir die jaar is “Ek is genoeg”.  Gedurende die kamp wil ons ons kinders, maar veral ons skoolverlaters, bemagtig vir die grootmens wêreld, die realiteit van lewe buite die beskermende arms van die DPS huis.  Ons wil hulle leer hoe om ʼn CV op te stel, hoe om jouself voor te berei vir ʼn werksonderhoud, opstel van ʼn begroting, waarna om te kyk as jy ʼn kontrak onderteken en soveel meer.  Natuurlik gaan daar ook hope tyd wees vir “memories” maak, pret en poetse bak.  Die kamp vind plaas vanaf 3 tot 7 Oktober 2022 te Tarentaalpan, Thabazimbi.  Ons getroue studente gaan weer saam en sal hulle verantwoordelik wees om te help met die toesig en aanbied van die rekreasie aktiwiteite.  Ons studente sal ook as mentors optree vir ons 6 skoolverlaters tydens die kamp.

Indien u sou belangstel om een van die 36 kinders te borg teen R1 500 per kind, kontak my gerus by suzanne@rata.org.za of 066 477 8904.  Inbetalings kan ook gedoen word by:

Kinderhuise van die NHKA

ABSA Bank

Besigheid rekening

Rek no.  020390093

Tak kode:  623 0005

Beskrywing:  Oktober kamp (epos bewys van betaling na suzanne@rata.org.za

Hierdie is jou geleentheid om te belê in ʼn kind se toekoms.  Saam skep ons ʼn beter môre.

U is ook welkom om ons webwerf te besoek by https://pleegsorg.org.za of ons Facebook blad by DPS Huise om op hoogte te bly van nuutste verwikkelinge binne ons huis.

Groetnis

Suzanne van Deventer

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *