DPS Huise

Ons word gebombardeer met negatiewe nuus soos die Rusland/Oekraine oorlog en meer plaaslik die stygende brandstof prys, inflasie, onluste, moord en die bende verkragting in Krugersdorp.  Dit raak so erg dat ons te bang raak om nuus te luister of ons kinders alleen in die strate te laat speel.

Te midde van al die negatiwiteit sien ons nie altyd die klein ligstraaltjies van hoop, omgee en die goeie raak nie.

Die afgelope maand is ons binne die DPS sisteem juis geseën met gemeenskappe, besighede en individue wat uitreik en ons toevou met liefde en omgee.  Soos een van die wyse mense se: “Daar is geen waarborg dat die lewe net altyd mooi en perfek sal wees nie maar daar sal altyd iets moois wees om raak te sien te midde van die storms wat losbars as jy kies om dit raak te sien”.

Ons is die maand bederf met snoesig gebreide mussies, serpe en slaapsokkies vir die koue voete deur die inwoners van Ons Tuis, fluweelsagte en warm komberse van Weavind & Weavind Prokureurs, bederf pakkies vir elkeen van ons kinders en ʼn pragtige Lavender boom deur Aluma Capital, warm baadjies deur Laerskool Skuilkrans, gevriesde hoenders van onder meer Kleinhans Freerange hoenders en GrootFM en heerlike vetkoeke van Nadine.  Danksy hierdie ruimhartigheid is ons kinders lekker warm die winter en bly hul magies vol.

Die groot les wat ons dus geleer het is om te kies om die mooi raak te sien, te midde van al die negatiwiteit.  Om die ligstraaltjies te koester en wanneer die lewe se storms oor jou toesak die mooi herinneringe soos kosbare skatte uit te haal, af te stof en weer hoop te kry vir die dag van more.

Kom ons maak ʼn doelbewuste keuse om die mooi raak te sien en God daarvoor te prys en te dank.

DPS Groete

Suzanne van Deventer

Programbestuurder

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *