DPS Huise

Terugblik op 2022
 
Die jaar 2022, die jaar waar ons ons ou normaal weer terug moes vind na Covid, die jaar waar ons kinders weer volstoom kon begin deelneem aan sport, akademie en sommer net voluit kind kon wees. Die jaar waar ons besef het ons moet begin afskeid neem van gesoute pleegouers wat ʼn welverdiende aftrede moet geniet en ʼn jaar waar ons 5 skoolverlaters moes groet.  In kort sal 2022 onthou word as die jaar van afskeid neem.

Die jaar het egter ook vele hoogtepunte gehad.  Ons kinders het uitgeblink op sportgebied, ons is geseën met 6 nuwe kinders in ons huise en ons kon twee kampe aanbied gedurende die jaar.  Ons pleegouers was soos gewoonlik ons rotse en gom wat elke huisgesin aanmekaar gehou het.  Nie net ons skoolverlaters moes leer van begroting opstel en kreatiewe en bekostigbare maaltye beplan nie, maar moes ons pleegouers ook leer van belt intrek.  Gelukkig het ons tydens een van ons spanbou sessies geleer van elke pleegouer se sterkpunte en kon ons op mekaar se knoppies druk vir idees, kop krap en sommer net moed inpraat. 

Die DPS se leuse “Glo, Stabiliseer en Ontwikkel” bly die fondasie waarop ons elke dag, projek en aksieplan baseer.  Ons glo in ʼn almagtige God sonder wie ons nie die werk sal kan voortsit nie, ons glo in die moontlikheid van elkeen van ons kinders om te groei en te ontwikkel in ʼn selfstandige en goed gebalanseerde jong mens.  Dit is ook aan hierdie leuse wat ons vashou wanneer ons kinders die huis verlaat.  Ons wens ons kon hulle nog so bietjie vashou en beskerm teen die harde realiteit en ontnugterings van grootmens wees maar ons besef ons moet terugstaan en kyk hoe hulle hul vlerke sprei met die wete dat hulle altyd ʼn tuiste by die DPS huis sal hê.  Die wyse woorde van ʼn neef van my kom by my op “Vertrou ma nie ma se opvoeding nie?”.  Dit is hier waar ons nou begin vertrou op die lesse, waardes en beginsels wat ons die afgelope paar jaar in hulle vasgelê het.  Wanneer ek terugdink aan al die spesiale oomblikke saam met elkeen van die kinders, kon ek nie help om te wonder of dit ook pêrels is wat hulle diep in hul harte sal koester nie.  Terwyl ek so terugdink kom die boodskappe van die kinders, nou jong volwassenes, deur en ek haal graag ʼn paar aan:

Ai tannie dis baie hartseer om te weet ek is nou weg daar by tannie hulle, ek wil net se baie dankie vir die 8 jaar wat tannie hulle daar was vir my in my moeilike tye en goeie tye ek het dit regtig baie waarder wat die DPS sisteem vir my gedoen het.” (Martin)
“Ek sukkel nog om trane terug te hou maar dankie vir ʼn wonderlike 4 jaar van my lewe saam met die DPS familie en dankie vir tannie wat nog net positief was saam met my van die begin af.  Lief tannie so baie en dankie dat tannie my nooit weggestoot het deur wie ek was nie.  Dankie vir al tannie se omgee en raad en soms as tannie bietjie moes baklei dit het my net gehelp.  Lief tannie so baie.” (Dean)
“Ek wil dankie se vir tannie en die sisteem, sonder julle kon meeste van ons nie sover gekom het nie.  Baie dankie vir alles wat vir ons gedoen word.” (Donovan)
“Tannie ek is bang maar dit is tyd om my vlerke te sprei en sal ek altyd my moeë vlerke by julle kom rus.” (Nikita)

My tweede woord vir 2022 is dankbaarheid.  Dankbaar vir die voorreg om ʼn pad met die jong mense te kon stap, dankbaar vir elke lewensles wat ek by hulle geleer het en dankbaar om te weet die DPS Huise maak werklik ʼn verskil.

Vir 2023 is ons hoopvol en glo ons met elkeen se insette en gebede ons nog ʼn verskil kan maak aan die ander 36 kinders wat in ons sorg toevertrou is.
 
Ek sluit af met die volgende woorde: “Hoop maak die lewensreis moontlik.  Geloof maak dit makliker en liefde maak dit onvergeetlik mooi”.  Mag 2023 ʼn onvergeetlike, hoopvolle en mooi jaar vir elkeen wees.
 
Groetnis
 
Suzanne van Deventer
Programbestuurder:  DPS Huise

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *