DPS Huise

VAN:        Kommissie van die Algemene Diakensvergadering

AAN:        Gemeentes

Predikante

OMSENDSKRYWE 7/2023

Broers en susters

‘n Vader vir weeskinders en ‘n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning. God laat eensames in ‘n huisgesin woon…

(Psalm 68: 6 en 7 1983-vertaling)

Die Hervormde Kerk, as instrument in God se hand, versorg al 100 jaar lank kinders wat wees gelaat is, verwaarloos is, mishandel is, weggegooi is.

Oor die dekades is kinders op verskillende maniere versorg – pleegsorg, kinderhuise en vandag in diakonale pleegsorghuise (DPS-huise).  In hierdie huise versorg ons ‘n maksimum van ses kinders in ‘n huis, waar hulle in die pleegsorg van huisouers geplaas word.  Ons versorg hulle met kos, klere, ‘n dak oor hulle koppe, opvoeding, terapie, hulp en veral liefde.  Ons gee aan kinders wat die slegte kant van die lewe ken, geleenthede en hoop vir die toekoms.  En ons leer hulle dat God vir hulle ook lief is.

Daar is jaarliks spesiale deurkollektes ten bate van die onderskeie NWO’s (nie-winsgewende organisasies) wat deel is van die NHKA se barmhartigheidswerk.  Op Sondag 5 Maart is daar dan ook die spesiale deurkollekte vir die DPS-huise.

Hierdie jaar wil ons graag meer inligting met gemeentes deel oor die werk van die DPS-stelsel.  Meeste gemeentes het reeds aangedui by watter huis hulle betrokke wil wees, maar weet nie altyd wat en hoe die DPS-huise funksioneer nie.  Ons wil graag gemeentes en lidmate help om te verstaan hoe die stelsel werk, en hoe ons kinders versorg.

*** Aankondiging! ***

Ons beplan ‘n Quiz-aand vir Vrydag 3 Maart wat gaan sentreer om al ses ons DPS-huise. Tydens die geleentheid sal daar vrae gevra word in vyf kategorieë:

  • Bybel
  • Sport/sportmense
  • Natuur
  • Musiek/flieks/akteurs
  • Huidige gebeure/geskiedenis.

Spesifieke vrae rakende die NHKA Kinderhuise en Diakonale Pleegsorgstelsel vorm deel van die onderskeie kategorieë.  Ons versoek gemeentes om die datum te reserveer, asook om met die huis waar julle inskakel se toesigkomiteevoorsitter – sien meegaande lys – te skakel vir die volledige reëlings van die Quiz-aand.

Daar is ‘n gesegde wat lui:

It takes a village to raise a child

but it takes a church to raise a village

Geen kind kan in isolasie ontwikkel nie.  Gelowiges en gemeentes het ‘n aandeel in die ontwikkeling van die kinders.  Kom ons gebruik hierdie geleentheid om op ‘n ontspanne en prettige manier te help doen waarvoor ons geroep is.

Saam in diens

Ds Gerhard Stoltz

Sekretaris: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering

012 322 8885 uitbr 3111

gerhard@diakens.co.za

Ons dien, gehoorsaam aan God.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *