DPS Huise

Op 31 Mei vier al ons DPS huise saam Wêreld Pleegsorg Dag (World Foster Care Day), en bietjie stil gestaan by die uitsonderlike situasie waarin baie gesinne hulle bevind – ‘n Gesin wat hulle deure en harte oopmaak vir ‘n ander man se kind:  om hom te versorg, lief te hê en te ondersteun – terwyl die biologiese ouers om welke rede ook al – dit nie kan doen nie.  Ook met die wete dat hierdie kind wat by hulle tuisgaan, net tydelik geplaas is, en daar ‘n groot kans is dat die outjie moontlik in die toekoms weer met sy eie gesin herenig gaan word, en hulle sal moet verlaat.  Wat ‘n geweldige dapper en uitdagende besluit is dit nie?

Ek het die voorreg om tans deel te wees van so ‘n gesin se wêreld binne die DPS-sisteem:  nie alleen is hier ‘n nuwe pleeg gesin wat hulle harte oopmaak vir ‘n “gekweste kuiken “ nie, maar ook ‘n “gekweste kuiken” wat koestering, versorging en liefde skielik nodig het! Al is ek amper 30 jaar ‘n maatskaplike werker, gryp hierdie situasies my elke keer aan die hart.

Klein Boetie Beer (skuilnaam) daag een Vrydag oggend met sy aardse besittings in ‘n plastiek winkelsak by ons DPS-huis op.  Vir die pleegouers wat angstig vir hom wag, is dit ook ‘n eerste.  Die ontmoeting is stram en ongemaklik, ten spyte van die pleegmamma wat balonne ophang, ‘n sagte speelding en ‘n spesiale Pet Patrol-handoek regsit op sy bed.    

Daar word so oor die neus na almal geloer, en geweier om die bietjie goedjies wat hy het, uit te pak, want “hy gaan mos nie vir altyd hier bly nie”.  Stil-stil gaan soek hy ‘n plek in die tuin uit waar hy vir homself ‘n huisie uit modder en ou bakstene bou, dalk ‘n denkbeeldige plek wat vir hom as veilige hawe dien, wat hy kan “opmaak” om vir hom meer sin te maak as die vreemde “huis” waar hy hom nou bevind.

Intussen sien ek hoe hard die pleegmama probeer om die nuwe outjie tuis te laat voel, maar met wysheid en intuïsie, los sy hom alleen om homself eers te vind – hoe graag sy hom ook al wil vasdruk en vertroetel.

Oor die laaste paar weke heen het ek  saam met hierdie pleegouers en kind die orëinteringsfase en opleiding van die pleegproses geloop.  Ek besef net opnuut hoeveel dit van almal verg om so ‘n situasie te hanteer.  Wanneer ‘n “gekweste kuiken” by ons pleeghuise opdaag, funksioneer hulle in hul “primitiewe brein” waar daar geveg, gevlug of gevries word.  En daar is  ook nie ‘n plek of skakelaar wat sommer so in ‘n oogwink “afgeskakel” kan word, en oorgegaan kan word na die limbiese brein waar daar skielik emosioneel gereguleerd gedink kan word, en verhoudings (attachents) gevestig word nie – nie met die beste bedoelings en pogings van die pleegouer nie.  Baie pogings loop maar op skermutselings uit.

Dit is ‘n lang en moeisame proses om ‘n kind se vertroue te wen wat vir 8 jaar geleer het dat die wêreld, en sy eie ouerhuis, nie ‘n veilige plek is nie.  Hierdie “nuwe normaal” in die pleeghuis – waar koestering, roetine en omgee  plaasvind – is beslis nie SY normaal nie.  Die enigste plek waar hierdie transformasie gaan plaasvind, is in ‘n wedersydse verhouding, wat hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die pleegouers gaan wees.  Dit is egter nie maklik om tekemale geduldig terug te gaan en ‘n afsydige, nors seuntjie te omarm, maar dieselfde tyd ook maar dissipline en grense neer te lê nie.

Selfs die eie -boeties en sussies moet nou skielik hul ouers met ‘n vreemde seuntjie deel, en gewoond raak aan die idee dat hierdie “nuwe maatjie” nie sommer weer na sy eie huis gaan terugkeer, as hulle uitgespeel is nie.

Vandag bring ons hulde aan die onbaatsugtige opoffering van pleeg gesinne wat hulself diensbaar maak, om die lewe van ‘n “gekweste kuiken of ‘ Boetie-Beer” net so bietjie beter te maak, en steeds met die wete dat hy dalk moet terugkeer na sy eie huis, ten spyte daarvan dat hy na ‘n paar weke dit al waag om snoesig tussen die oom en tannie te kom inkruip vir ‘n laaste “goeienag-slaapstorie…”

Dankie aan elkeen van julle pleeggesinne! Julle is dapper en die versinnibeelding van die aanhaling:

“You were born with the ability to change someone’s life: Don’t ever waste it”  – Anoniem

Tertia Vos

Maatskaplike Werker:  DPS Huis Rustenburg

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *