Maak ons werklik ʼn verskil?
Maak julle werklik ʼn verskil? Wat is julle sukses syfer binne die DPS pleegsorg sisteem? Hierdie is vrae wat gereeld vir ons gevra word, en om eerlik te wees, wat ons ook soms vir onsself afvra.
Daar is ʼn magdom verskillende opinies en maniere oor hoe ʼn mens veronderstel is om na sukses te kyk en ʼn verduideliking te bied van wat sukses werklik is. Op die ou einde kom dit daarop neer dat jý aan die stuur van jou eie sukses is.
ʼn Mens is geneig om sukses aan jou loopbaan of werkprestasies te meet, maar sukses kan ook aan jou geluk, veiligheid, gesondheid of selfs verhoudings en sportprestasies gemeet word, afhangende van wat vir jou die belangrikste is.
In ons lyn van werk sien ons sukses dalk bietjie anders. Sukses kan nie altyd gemeet word nie maar dit kan gesien word in daardie klein stappies vorentoe wanneer jy met ʼn erg getraumatiseerde kind werk. Die eerste keer wat hulle met hul seer ogies vir jou in die oë kyk wanneer jy in ʼn vertrek instap, die handjie wat hulle onseker in jou hand sit wanneer hulle bedreig voel, die eerste keer wanneer hulle hul emosies kan verbaliseer. Die kinders wat by ons geplaas word is kinders wat deur volwassenes verniel is in hulle kort lewe, kinders wat reeds vroeg geleer het om nie op ʼn volwassenes staat te maak nie. Om die vertroue van hierdie kinders te verdien verg geduld, trane en baie probeerslae. Sukses vir my is wanneer jy hierdie seer en stukkende kind kan wys dat hulle jou kan en mag vertrou, dat jy daar is vir hulle ongeag hulle gedrag of die woorde wat hulle vir jou toesnou. Sukses is baba stappies en nie noodwendig akademiese prestasie nie.
Sukses is wanneer die kinders wat reeds die sisteem verlaat het terugkom om as mentor vir ander op te tree wat uit dieselfde omstandighede as hulle kom, daardie oproep of boodskap uit die bloute jare later om net in te “check” en selfs soms dankie te se.
So om die vraag te antwoord, ja die DPS sisteem maak ʼn verskil een kind op ʼn slag omdat ons glo dat daar ʼn beter more vir elke kind ons ons mooie land is.
Indien jy ʼn hoop draer wil wees vir ons kinders, kontak ons en word deel van die oplossing.
Groetnis
Programbestuurder: DPS Huise


