DPS Huise

‘n Week gelede vra die skool my om ‘n 8 jarige seun in ons DPS huis na ‘n Arbeidsterapeut te neem vir intensiewe assessering, aangesien die skool vermoed dat daar leer probleme en selfs disleksie teenwoordig mag wees. 

Na ‘n volledige reeks toetse, lig die Arbeidsterapeut my in dat daar geen sprake is van enige disleksie of leer geremdheid nie.  Haar diagnose is dat die kind aan erge angs ly– nie net skeidingsangs nie, maar veral prestasie angs.

En dit laat my net weer besef hoe ‘n groot deel angs in ons kinders se lewens deesdae uitmaak, maar meer nog, hoe geweldige impak dit op hulle lewensgehalte en normale funksionering het.  Hier sien ons ‘n seuntjie wie se angs as leer probleme presenteer!  Indien ons nie die hulp van kundiges ingeroep het nie, kon ons die pot dalk heel mis gesit het, en hom vir ekstra lees hulp stuur, i.p.v om die ware probleem – angs – aan te spreek.

Gegewe die spanning waarmee meeste van ons kinders die tyd van die jaar met eksamens, leiers verkiesings, aansoeke vir beurse, keuring en plekke by tersiêre instansies gekonfronteer word, is die tema baie relevant.

Prof Peterson van Universiteit van die Vrystaat noem in ‘n artikel in Maroela Media dat hulle Departement studente voorligting en -ontwikkeling ‘n verslag vrygestel het wat toon dat die grootste rede waarom studente verlede jaar hulp gesoek het, angs as vernaamste rede genoem het.

Volgehoue angs en verwante geestes gesondheidsprobleme kan nooit oorbeklemtoon word nie.  Dit belemmer nie net ‘n kind se studies  en konsentrasievermoë nie, maar veroorsaak ‘n afname in geluk, welstand, tevredenheid met ernstige implikasies vir hulle toekoms en lewens reise.

Angs is in sekere situasies “normaal” om optimale funksionering en ‘n bietjie adrenalien te genereer, maar wanneer angs jou lamlê, en jou daaglikse lewe so beïnvloed, dat jy moeilik funksioneer, dan flikker die rooi ligte.

Dit is belangrik om egter te onderskei tussen vrees,  angs en depressie:  Vrees is vir iets wat werklik gesien en gehoor kan word, terwyl angs nie noodwendig lê in ‘n bepaalde bedreiging nie – dit is net ‘n konstante gevoel van senuweeagtigheid en bekommernis.  Depressie veroorsaak weer gevoelens van hartseer, magteloosheid, verlaagde energievlakke ens.

Om angs aan te spreek, verg meer as net om ‘n pilletjie af te sluk om te kalmeer.  Dit verg introspeksie en selfondersoek:  Waar kom hierdie angs vandaan? Wat was die sneller (trigger) daaragter? Lê die angs in eksterne of interne faktore?   ‘n Slagspreuk wat baie in ons wêreld as hulpverleners gebruik word: “IF YOU CAN NAME IT, YOU CAN TAME IT” is ‘n belangrike beginsel in die heel word proses.  As ons by die oorsaak van ons angs kan uitkom, kan ons die saak beredder.

Wees bedag, wees weerbaar en soek hulp as die angs jou lamlê.  Daar is hulp en daar is ALTYD hoop!

Tertia Vos

Maatskaplike Werker:  DPS Huis Rustenburg

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *