DPS Huise

Chris Barnard – hartpionier, gebore 8 November 1922 te Beaufort-Wes.

CJ Langenhoven – bekroonde digter, Gebore 13 Augustus 1873 te Ladismith, Wes-Kaap.

Elvis Presley – musikant, Gebore 8 Januarie 1935 te Mississippi.

Maggie Laubser – internasionaal bekende skilder. Gebore 14 April 1886 te Malmesbury.

Jesus Christus, die Verlosser van die mensdom, wat ‘n somer Kersfees moontlik maak, gebore tussen 4 en 7 VC, te Betlehem.

In die biografieë van indrukwekkende en belangrike mense word baie klem geplaas op hulle geboorteplek. Dit gebeur veral wanneer dit maar ‘n nietige plek of dorpie was wat voorheen vir geen ander rede bekend sou wees nie.

Dieselfde gebeur met Betlehem. Hierdie klein dorpie kom onder die vergrootglas wanneer keiser Augustus ‘n belasting verwante sensus aankondig. Deur een opdrag kom mense in beweging. Massas beweeg na hulle tuisdorpe om opgeskryf te word. Dis dán wanneer ons lees van Josef en Maria, die verteenwoordigers van God se verlossingsplan, wat na Betlehem toe gaan. Om getel te word, ja. Maar om ook in Betlehem geboorte te skenk aan Jesus, die Verlosser. Alles so in kontras met die plek waar die wêreld verwag het dit sou gebeur.

Dis egter Betlehem waarheen die herders hulleself haas nadat die engele aan hulle verskyn het. Dis egter Betlehem waarheen die ster die wyses lei. Alles om in God se raadsplan in te val. Boonop gebruik God gewone mense, ‘n eenvoudige Josef en Maria om dit uit te voer. En Hy kies om self die gestalte van ‘n mens, ‘n slaaf aan te neem en as ‘n afhanklike baba gebore te word. In Betlehem – ‘n eenvoudige en piepklein dorpie wat in die oë van die wêreld maar nederig en onbeduidend was en waar armoedige boere en herders gewoon het. ‘n Dorp van die armes. ‘n Arme dorpie. Betlehem. 

Betlehem was egter ook die plek waar Ragel gesterf het. Waarheen Rut en Naomi teruggekeer het na ‘n hongersnood en fisiese verliese. Betlehem – die plek waar Dawid sy pa se kleinvee laat wei het en tot koning geroep is. Die geskiedenis van hierdie dorpie het deur die eeue bly staan want dit is die plek waar mense se lewens herstel is. Betlehem het die dorpie geword waar mense se lewens herstel is. Is dit dan werklik vreemd dat God hierdie plekkie kies vir die geboorte van sy Seun?

 

Die wonderlike is dat daar ‘n diep geheim in die dorpie se naam opgesluit lê. Want Betlehem beteken letterlik in Hebreeus “huis van brood”. Wanneer ons dink aan Jesus se lewe op aarde, sien ons herhaaldelik hoe die metafoor van brood in sy lewe en bediening na vore kom. Hy sê: “Ek is die brood van die lewe, die brood uit die hemel”. Hy leer ons bid vir ons daaglikse brood. By die nagmaal kry ons deur die teken van die brood deel aan die liggaam van Christus en word ons gedagtes geneem na die droewige toneel op Golgota.

Wanneer ons dus al hierdie brood-uitsprake hoor, kleur dit vir ons die groter prentjie in en wil mens nou amper die opmerking maak dat geen ander plek as Betlehem beter sou wees of aan die vereistes sou kon voldoen vir die geboorte van die Messias nie! Maria skenk geboorte en lê haar eersteling neer. Hy word die voedsel in die krip. Jare later sit Hy saam met sy dissipels en hy moedig hulle aan om te neem en te eet, van Hom, en van wie Hy is. So word Hy ook vir ons die voedsel van ons geloof met sy woorde, sy dade en sy voorbeeld. 

Jesus se geboorte in Betlehem was broodnodig. In Betlehem begin ons nuwe lewe. In Betlehem lê ons toekoms en ons vrede. In Betlehem lê die koninkryk. Want rondom die krip word dit ‘n ontmoetingsplek van geliefdes en gesinne wat gevoed word met die beste wat daar is.

Juis daarom kan ons ook omgee en medelye betoon veral in ons werk by die DPS Huise. Ons hoor daagliks hartseer verhale. Leer van voedseltekorte en mense wat moes trek. Kinders wie se lewens ontwrig is. Ellende by hierdie kinders se ouerhuise is aan die orde van die dag. Nederige toestande. Armoede. Maar die beklemtoning van die dorpie Betlehem gee egter vir ons ‘n spesiale betekenis aan Kersfees. Want in die hartseer verhale van ons ons ellende, nederigheid, pyn, armoede en eensaamheid buig God juis neer na plekke wat vromes verag. Word Jesus God se openbaring van lig en liefde in ons gebroke wêreld. Ook in elkeen van ons en ons kinders se harte.  

Laat ons dus tydens hierdie Kersfees terugdink aan die Brood uit die hemel wat in die Broodhuis gebore is. Laat ons dankbaar wees dat ons ook instrumente kan wees van God se genade en vir elke stukkie brood wat ons op ons kinders se tafels kon plaas. Laat ons hande neem om in 2024 werklik die liefde van God vir ons kinders oor te dra. Met brood, onder andere.    

Dit was dan die biografie van Jesus Christus, gebore in Betlehem.

Ds Monja-Lize van Belkum

Direksielid:  DPS Huise

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *