Kersfees is ʼn tyd van vreugde, familie, liggies en natuurlik geskenke – of is dit dalk nie. Die meeste van ons kan nie wag vir Kersfees, tyd om saam met ons families lekker om ʼn mooi gedekte tafel te sit en kuier, stories uit te ruil en saam te besin oor die ou jaar en te wonder wat die nuwe jaar vir ons inhou.
Vir baie van ons kinders is Kersfees ʼn tyd van verlange, verlange na boeties en sussies wat dalk nie saam met hulle in een huis bly nie, bekommernis oor gaan mamma en pappa ok wees oor Kersfees en ʼn intense verlange na wat was en kon wees. Die tydelike seer van hoe dit was is vergete en bly net die mooi herinneringe oor.
Die afgelope twee maande is ons uit ons sokkies bederf met geskenkies, skool benodighede, skoonmaak benodighede, kruideniersware en toiletbenodighede vanuit die uithoeke van ons mooie Suid-Afrika. Ons buitengewone versoek die jaar om te gee met ʼn verskil, is met ope arms ontvang. Ons kinders is bederf met propvol magies, kosblikkies wat gaan bult van lekkernye en penne sakkies wat nie kan wag om die skool jaar te begin nie.
Kersdag het dalk grys en grou aangebreek maar die helder laggies van opgewonde kinders wat nie kon wag om hul geskenkies oop te maak nie het my laat dink aan die woorde van ons mooie Kerslied:
“Welkom o stille nag van vrede, Onder die Suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede – Oor sterrevelde ruis.
Hoor jy hoe sag die klokke beier, in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal.
Voel jy ook nou Sy warm liefde, As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het, Ons grootste Kersgeskenk.
Kersfees kom, Kersfees kom – Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer Kersfees In hierdie land, o Heer.”
Graag wil ek ons opregte dank oordra aan elke kind wat van sy sakgeldjie afgestaan het, gesin, individu en gemeente wat Kersfees 2023 vir ons kinders onvergeetlik gemaak het. Julle het vir ons kinders kom wys hulle is spesiaal en iemand gee om.
Weereens dankie en mag jul 2024 geseën wees.
DPS Groete
Programbestuurder: DPS Huise










