SPESIALE DEURKOLLEKTE: DPS-HUISE – 3 MAART 2024
Broeders en Susters
‘n Vader vir weeskinders … is God in sy heilige woning. (Psalm 68:6)
Ons Kerk versorg al kinders vir 100 jaar lank! Dit klink eintlik ongelooflik. Op 3 Augustus 1922 het die Algemene Kerkvergadering besluit dat die Kerk ’n weeshuis sal oprig. Die volgende jaar is die eerste kinders opgeneem in ‘n huis in Krugersdorp (De Hervormde Weeshuis), en op 12 Februarie 1924 is die maatskappy geregistreer met die naam: Die Kinderhuise van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. In 1940 word die Jac van Belkum-kinderhuis opgerig in Krugersdorp, in 1947 die Andries Hendrik Potgieter-kinderhuis in Pretoria en in 1984 die Albert Herbst-kinderhuis in Middelburg.
‘n Groot omwenteling het gekom toe die versorgingsmodel verander het vanaf 1996 toe die groot kinderhuise vervang is met die Diakonale Pleegsorghuise – die sogenaamde DPS huise. Vandag besit ons 6 DPS-huise: 2 in Pretoria, en 1 elk in Potchefstroom, Rustenburg, Krugersdorp en Elsburg.
- So skaars soos koekies in die weeshuis…
Danksy gemeentes se NHSV’s was hierdie gesegde baie selde (indien ooit) waar van die Hervormde Kerk se kinderhuise! In die tyd voor die DPS-huise gevestig is, kon die Kerk met behulp van staatsubsidies die versorging van die kinders bekostig, en het gemeentes se bydraes veral die vorm van koekies, geskenke en ander middele aangeneem.
Vandag kry ons egter nie meer subsidie van die staat nie, en versorg ons die kinders volledig – net soos in enige huishouding. En omdat die meeste van ons kinders erge trauma beleef het voor hulle by ons uitgekom het, help ons hulle ook met terapie en berading. Hiermee saam het die behoeftes ook verander na kos, klere, skoolbenodigdhede, elektrisiteit, ens.
- As Kerk bly ons gehoorsaam aan ons Christelike roeping tot sorg vir kinders
Oor die afgelope 100 jaar het die speelveld van kinderversorging baie verander. Telkens is nuwe antwoorde vir nuwe uitdagings bedink. Maar nooit het ons opgehou om ons roeping te gehoorsaam nie!
Daarom moedig ons u aan om steeds betrokke hierby te bly, en die volgende aksies te oorweeg:
Spesiale Deurkollekte: 3 Maart
- Gemeentes word aangemoedig om hulle deurkollekte van 3 Maart te skenk aan ons Kinderhuise.
- Bydraes kan inbetaal word by die Raad van Finansies:
Rekeningnommer: 020000287
Bank: ABSA
Takkode: 632005
Verwysing: 16DPSS + Gemeentenaam
- U is natuurlik welkom om die deurkollekte op enige ander dag te hou, volgens u gemeente se program
Poenskop vir Pleegsorg
- Hierdie is ’n bewusmakingsveldtog asook ’n fondsinsameling vir die DPS-huise.
- Die idee is dat gemeentes die DPS-huise deel maak van feeste en basaars. Tydens die geleentheid kry die DPS-huise ’n stalletjie waar die personeel en pleegkinders van die onderskeie huise help om hare en baarde te skeer en/of te kleur – ten bate van ’n goeie doel. Mense kry só geleentheid om vrae te vra en ons pleegkinders beter te leer ken – op ’n informele en nie-bedreigende wyse.
- Vir meer inligting, kontak vir Suzanne van Deventer (suzanne@rata.org.za) of Otto Viljoen (kinderhuise@nhk.co.za).
Quiz-aande
- Geskiedenis en Bybelse beginsel kan op ’n prettige en ontspanne wyse aan lidmate en belangstellendes oorgedra word.
- Kontak vir diak Andries Pretorius vir meer inligting, by andries@plesion.org.za
Ons hoop en vertrou dat u sal deelneem aan die viering van 100 jaar se kinderversorging, op só ’n manier dat ons kan aanhou om kinders, wat die slegte kant van die lewe ken, ’n kans tot ’n nuwe toekoms te bied.
Saam in diens
Ds Gerhard Stoltz
Sekretaris: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering
012 322 8885 uitbr 3111
Maak ‘n donasie via die QR kode hieronder