DPS Huise

Dit is met groot dankbaarheid in ons harte vir 21 geseënde jare in die DPS huise dat ons afskeid neem as huisouers. In hierdie tydperk was ons 5 jaar in Elsburg en 16 jaar in Ninapark en het altesaam 32 kinders ons lewens gedeel. Kinders was en is steeds my passie en dit was nog altyd vir my baie bevredigend om hulle te sien groei en te sien hoe hulle uitstyg bo die omstandighede waaruit hulle gehaal was. Soms het dit gevoel of ons teen ‘n muur baklei maar wanneer hulle reeds op hulle eie voete begin staan sien mens dikwels dan eers dat die saadjies wat ons almal geplant en gereeld water gegee het, uiteindelik vrugte afwerp en dus was alles nie verniet nie.


Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om vir ieder en elk wat ons reis met ons meegemaak het en dit vir my makliker gemaak het om my passie uit te leef te bedank vir julle insette op ons en die seuns se lewens.


Eerstens aan my Hemelse Vader wat vir my hierdie talent en passie gegee het en my ook daarvoor toegerus het deur middel van mense soos julle my lof en dank. Daarsonder sou ek dit nooit gemaak het nie.


Tweedens aan die Toesig komitees en gemeentes, baie dankie vir julle goedgesindheid en bereidwilligheid om die finansies so goed te bestuur. Ons versoeke vir fondse wat benodig was vir ‘n saak is altyd positief benader en soms in oorvloed voorsien. Selfs wanneer ek hulp van ‘n nie finansiële aard benodig het was julle altyd daar om te ondersteun waar moontlik. ‘n Groot dankie ook vir ons geskenke wat ek van gemeentes asook die toesigkomitee gekry het. Dit het ons wildste drome oortref. Ons het ‘n drukker, waaier en verskeie kleiner items met die kontant en koopbewyse aangekoop.


Derdens bedank ek die Evaluasie komitees omdat julle altyd beskikbaar was wanneer ek dit nodig gehad het of op my laagtepunte was. Julle het my op die hande gedra en het saam kop gekrap om oplossings te vind wanneer daar probleme in die huis was. Ek kon op elkeen van julle staatmaak vir emosionele steun. Julle het my gedra en bemoedig sodat ek weer kon opstaan en met ‘n ligter gemoed kon aangaan en julle sal nooit besef hoeveel julle elkeen vir my persoonlik beteken het nie.


Aan my mede-kollegas, dankie vir julle daar wees en dat ek by julle kon leer. Soms wanneer ons saamgekuier het en ek na julle kon luister het ek besef dat ek eintlik baie bevoorreg is om die seuns te hê wat in ons huis was want julle probleme het my laat besef dat myne minimaal was. Dit het my ook laat besef dat ons almal dieselfde gevoelens en omstandighede deurleef en dit het my die deursettingsvermoë gegee om terug te gaan en harder te probeer.
Aan elke individu wat ons hande hoog gehou het, julle hulp aangebied het en ons ondersteun het in alles wat ons beplan en gedoen het, ‘n groot dankie. Elke drukkie en boodskappie van waardering het vir ons meer beteken as wat julle ooit sou kon besef. Dit het veral vir my gehelp om my beste te gee terwyl ek my passie kon uitleef.


Laastens wil ek ook net ‘n woord van dank aan my man en biologiese kinders uitspreek dat hulle bereid was om my tyd en aandag met ander kinders te deel terwyl hulle dikwels tevrede moes wees met die krummels wat oorgebly het nadat die seuns my getap het. Ek waardeer julle oneindig baie.


Gaan voort met die goeie werk wat julle doen en mag julle werk van krag tot krag gaan sodat die DPS huise nog lank kan voortbestaan.


Liefde groete


Ina en Hendrik

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *