DPS Huise

Ons DPS-personeel en pleegouers besef net opnuut met ons laaste paneel-vergadering, dat die wêreld van ons kinders vandag soveel anders lyk, as toe ons self kinders was! Word die wêreld dan mal?

Vroeër jare het ons basies, as gevolg van verwaarlosing en armoede, kinders in ons sisteem moes opneem, maar vandag lyk die profiel van ons DPS pleegkinders soveel anders. Hierdie kinders presenteer met baie uitdagende gedrag en erge trauma – en dit vanweë die feit dat die veilige hawe wat ‘n gesin moes bied, hulle gefaal het.  Nie slegs die gevolg van die verbrokkeling van die gesinstruktuur nie, maar ongelukkig ook die onbetrokkenheid van gemeenskappe om hierdie kinders se nood raak te sien.

Om ‘n kind te beskerm gaan oor baie meer as om net ‘n dak oor die kop, en kos in sy magie te sit.  As ons as gemeenskap “ander-pad” kyk, en nie die seer en nagevolge van mishandeling, verwaarlosing, uitbuiting en gesinsgeweld aanspreek nie, gaan die wêreld selfs ‘n wreder plek word. ‘n Kospakkie en ‘n warm skuiling gaan nie alleen hierdie  kinders se ernstige emosionele skade soos angs, depressie, leergestremdheid, selfmoordneigings en fisiese agteruitgang tem nie.  Daarom word baie meer verwag soos gespesialiseerde sorg en besondere fynbesnaarde mense om hierdie grootse taak aan te pak.

Tog, terwyl ons as DPS personeel,  daagliks met die gevolge van hierdie situasie werk, wonder ek hoe ons “gewone” mense kan help en keer dat daar nie nog meer kinders in die nimmereindigende siklus van desperaatheid beland nie.  Ons eie kinders gaan tog eendag voor dieselfde uitdagings staan – of dalk paaie kruis met een van die “gekweste kuikens.”

Ons gemeenskappe staan en val by die kern gesinseenheid, en die vermoë van die ouers om hierdie eenheid, en die kinders daarin,  te beskerm. So, hoe doen ons dit dan prakties?

Hier volg ‘n paar wenke wat enige gesin, ons “gewone” gesinne, maar ook ons gesinne wat met “gekweste kuikens” moet werk, na kan kyk:

  • Die aanleer van veerkragtigheid:
  • Modelleer ‘n positiewe gesindheid teenoor die wêreld en sy uitdagings – daar is genoeg doemprofete daarbuite wat ons aan die teenoorgestelde herinner.
  • Bou jou kind se selfvertroue, en gee erkenning vir sy pogings
  • Wys jou ondersteuning – deur woorde en dade! ‘n Woord van aanmoediging en ‘n drukkie op die regte tyd, gaan baie ver.
  • Bou bande met die uitgebreide familie en die gemeenskap. Gaan kuier gerus maar vir oupa en ouma, al ruk die tiener sy stert in ‘n krul, en deel Sondae in die gemeenskap van geestelike vriende by die kerk!
  • Bou grense in en wees konsekwent daar rondom. Grense is daar om ons kinders teen die wolf daarbuite te beskerm, nie om ons in te hok nie!
  • Wees geduldig. Opvoeding en groot-word is ‘n proses!

 

  • Ontwikkel die gesin se kapasiteit om homself te beskerm:
  • Bou aan die geestelike kapasiteit van jou gesin deur realistiese verwagtinge van jou kind te hê, die uitdagings en gevare van jou kind te verstaan (leer ken gevare van sosiale media, boelies…ens) en die vestiging van waardes binne die raamwerk van Christelike beginsels
  • Bou aan die emosionele kapasiteit van jou gesin deur empatie te hê, jou liefde en waardering tasbaar te wys en sensitief te wees vir die belewenis van sy wêreld.
  • Wys deur jou gedrag aan jou gesin dat jy hulle behoeftes bo jou eie stel, om ‘n goeie voorbeeld te wees, en om gevaarlike praktyke en situasies hok te slaan. (Al beteken dit dat jy soms ongewild gaan wees as jy beheer oor hulle selfone moet neem!)

 

  • Positiewe dissipline
  • Stel self die voorbeeld van dit wat jy van jou kinders verwag (modellering)
  • Stel grense en maak seker jou kinders verstaan wat die gevolge van hulle optrede gaan wees, indien die grense nie respekteer word nie.
  • Aanmoediging deur erkenning en ‘n woordjie van waardering gee altyd die deurslag tot positiewe samewerking!

Om ‘n gesin te hê – of deel van een te wees – is ‘n wonderlike voorreg en gawe, maar daarmee saam gaan groot verantwoordelikheid!  Mag ons nooit die rol wat ons daar speel, onderskat nie!

Tertia Vos

Maatskaplike Werker:  DPS Rustenburg

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *