DPS Huise

31 Mei is internasionale Pleegsorg dag.  ‘n Spesiale dag om bewustheid te kweek oor wat is pleegsorg en wat dit van “hier” ouers verg, om hierdie stukkende kinders met liefde te versorg en groot te maak.

In 2023 was die beraming dat daar meer as 400 000 kinders in SA by pleegouers geplaas word.  Dit beteken dat daar 1000de pleegouers is wat hul huise oopstel om die seer kinders te akkommodeer.  Die impak op ʼn gesin se lewe is geweldig en in baie gevalle oorweldigend vir die ouers asook hul eie kinders.  Die vraag word gevra of die pleegouers deeglik voorberei word vir die taak en word hul genoegsaam ondersteun in die proses.

By die DPS Huise poog ons om ons pleegouers voortdurend toe te rus om hierdie getraumatiseerde kinders te help grootmaak en hul by te staan in die tye van hartseer, moedeloosheid, tou-opgooi maar ook de vreugde.

Mev Beulah Loubser is een van ons Pleeg mammas by ons Montana huis.  Met die oog op Internasionale Pleegsorg dag het ek haar gevra om vir my te verduidelik wat pleegsorg vir haar beteken.

“Wat is ʼn hier -mamma…..

Terwyl ek my gedagtes agtermekaar kry oor wat dit beteken om ʼn Pleegouer te wees,  besef ek opnuut wat ʼn voorreg dit is. Dit beteken ook jy maak jou hart en siel oop vir stukkende gebreekte liefie-lyfies wat jou nie maklik vertrou nie. Hoekom sal hulle?

In hul kort rukkie van bestaan het hul gou geleer dat grootmense is nie eintlik betroubaar nie, maar jy as pleeg mamma gee nooit op nie. Jy raak wel moedeloos, huil honderde trane en staan dan net weer op en beur voort.  My ses dogters noem my hul Hier-Mamma. Dit beteken jy gee vir hul sekuriteit, geborgenheid, liefde en aanvaarding ten spyte van die feit dat jy hul keer op keer verseker dat jy net instaan vir hul mamma en pappa. En dat jy nooit hul plek sal of kan vat nie.

Om ʼn Hier-mamma te wees beteken jy veg ʼn geveg wat niemand nog ooit vir hul gedoen het nie. Jy leer hul die basiese sosiale vaardighede, leer hul van roetine en dissipline, jy vee hul trane af en sit ʼn nat lappie op ʼn warm voorkop terwyl jy diep in jou hart weet dat as hul vandag voor ʼn keuse te staan kom, jy beslis nie hul eerste keuse sal wees nie.

“If not me then who?” Dit is die sinnetjie waaraan ek my telkemale moet herinner wanneer dinge net te moeilik gaan. Hier-mamma wees is nie altyd ʼn maklike pad nie, maar dit is ongelooflik bevredigend. Jou hart brand van trots wanneer jy sien hoe elke seer sieletjie begin blom. 

 Jy probeer vir elke kind die geleentheid gee om binne hul vermoë optimaal te ontwikkel sodat hulle wel- aangepaste jongmense kan word.

Ek was Januarie 2024 nou 6 jaar by die Montana huis en dit is vir my ʼn voorreg om te sien hoe die dogters verander, ontwikkel en groot word. Ek kan myself nie indink om ooit enige iets anders as ʼn pleeg mamma te wees nie. 

Ek het ʼn opregte dankbaarheid in my hart om deel van Sy kosbare dogters se lewens te wees.”

Graag wil ons vir elke “Hier” mamma en pappa wat instaan vir die biologiese ouers, baie dankie se vir wat julle vir ons kinders doen. Julle maak werklik ʼn verskil – een kind op ʼn slag.

Reik uit na die pleegouers in jul omgewing of gemeente – dit vat werklik ʼn gemeenskap om ʼn kind groot te maak.

Groetnis

Suzanne van Deventer

Programbestuurder:  DPS Huise

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *