Met Jeugdag- en Vadersdag onlangs gevier, laat dit my dink aan die besondere vaders in ons DPS-sisteem.
By baie van die DPS-huise, is die vaders bedags werksaam buite die sisteem, maar ook tog so integrale deel van ons besondere pleeg opset en kan ek my indink dat dit nie altyd ‘n maklike taak is nie.
Net soos baie ander pa’s, werk hierdie manne gedurende die dag ‘n volle skof, maar wanneer hulle tuis kom, is hul werk nie noodwendig klaar, en kan hulle rustig ontspan nie.
Menigmale loop hulle hul vas in ‘n stugge pleegkind wat weier om hom as ‘n mentor te aanvaar, en hom openlik uitdaag; hy is die klankbord-eggenoot vir ‘n moeë pleegmoeder wie se planne en geduld met ‘n getraumatiseerde kind effens min raak; hy is die nutsman wat moet help om die begroting te laat klop deur self die lekkende toilet reg te maak, maar meer nog: hy moet die sterk boom wees wat veiligheid, vrede en vesting aan nie net sy eie kinders bring nie – maar ook aan gekweste kuikens uit ander gesinne.
Dikwels is hierdie gekweste kinders se wonde juis aan die hand van ‘n gewelddadige “vader” en moet hierdie pleegpa ekstra hard weer in liefde die teendeel bewys: dat ‘n vader deernis, dissipline en leiding kan gee, sonder om tot uiterstes te gaan. Dat die pleegpa moet bydra tot die Godsbegrip van ‘n getraumatiseerde kind wat slegs vrees en angs in die pa/kind verhouding beleef het. Wat ‘n grootse taak?!
Vandag eer ons hierdie stille helde wat soms in die agtergrond bly, maar so ‘n belangrike rol in die lewe van ons gekweste kuikens speel deur hul teenwoordigheid en voorbeeld: dat eerlikheid, vertroue, standvastigheid, medemenslikheid en hardwerkendheid nooit uit die mode gaan nie, en dat dit die versinnebeelding word van God se liefde vir Sy eie kinders.
Graag dra ons die volgende gedig op aan al ons pleegvaders:
Aan my BONUS PA
Jy het my nie die geskenk van lewe gegee nie,
maar jy het my lewe verbeter.
Die band tussen ons is vir ewig.
Dit is nie DNA, vlees en bloed,
maar ons harte wat ons ‘n GESIN maak.
DANKIE dat jy in my lewe ingestap het ʼn vir my ‘n PA geword het
- Anonieme Pleegkind
Dankie aan elke “Bonus” pa daar buite – ons waardeer jou!
Maatskaplike Werker: DPS Rustenburg