In my loopbaan as maatskaplike werker in die veld, het ek die twyfelagtige ervaring beleef waar pleegsorg plasings misluk, en kinders voor die kantoor van die maatskaplike werker afgelaai word, met die verwagting dat die kind bloot aangestuur sal word na die volgende gesin. En glo vir my, dit is ‘n ontstellende en baie hartseer dag – vir beide die kinders, pleegouers en maatskaplike werkers.
Daarom is dit so belangrik dat mense wat hulself beskikbaar wil stel, hulself vergewis van die vreugdes, frustrasies en uitdagings van so ‘n groot stap. En wie beter om by uit te vind, as ‘n pleegouer self. Geen maatskaplike werker, keuringsonderhoud of sielkundige kan jou werklik voorberei op die grootse taak wat op jou as pleegouer wag nie.
Ek het onlangs met ‘n paar pleegouers gesels en hulle antwoorde so uit die perd se bek gekry:
Wat beleef jy as positief van die pleeg situasie – veral in die DPS huis?
“Ons kan werklik sien dat ons ‘n verskil in die kinders se lewens maak, en vir hulle help om ‘n beter toekoms uit te kalwe met veral die hulp van kundiges, diensbares en donateurs uit die gemeenskap. Ons is die gereedskap wat help dat ‘n kind hoop vir die toekoms het.
En al moet sommige weer met hulle gesinne herenig word, is dit ‘n riem onder die hart as van hulle steeds kontak behou, en die klein vreugdes met jou deel, of net gereeld bel om te hoor hoe dit gaan. “
Watter frustrasie beleef jy as pleegouer?
“ Soms is dit hartseer om te sien dat, maak nie saak hoeveel liefde, stabiliteit en harde werk jy as pleegouer insit, die kinders bly hunker na hulle eie ouers en die begeerte om met hulle te herenig, bly in hulle harte brand. Al weet jy as pleegouer dat die ouers nie dieselfde kan bied as die pleeghuis nie, en al weet jy dat baie van die ouers hul kinders leed aan(ge) doen (het), maak dit nie die verlange om iewers te behoort, minder nie.
Die ouers en uitgebreide familie is ook soms geneig om die kinders teen ons pleegouers af te speel, of om hulle negatief te beïnvloed deur bv ondeurdagte uitsprake te maak soos “sy is nie jou ma nie…” Dit verdeel die kinders se lojaliteite en laat baie vordering wat gemaak word, ongedaan.
Die leë beloftes van ouers wat belowe hulle sal kom kuier, of geskenke bring, of hulle kom haal, breek my hart: dis ek wat ‘n kind – na sononder – by die hek moet gaan haal en se dat sy ouer nie gaan kom nie. Dan moet jy maar die stukke optel, en die mosaic weer begin bou van ‘n kind se drome en wense wat aan skerwe le. En om dan te moet verstaan waarom die kind skielik “moeilik en onhanteerbaar” raak as gevolg hiervan.
Was jou verwagting van pleegsorg anders aan die begin, en hoekom?
Ja, beslis. Ek het nooit besef hoe baie seer ‘n kind saam met hom kan dra in ‘n kleine lyfie nie. Die emosionele letsels genees baie stadiger as enige fisiese letsels. Die trauma verander die kind se brein, sy veerkragtigheid en sy uitkyk op die lewe.
Geen kind kan dieselfde hanteer word nie. Daar is nie ‘n “one-size-fits-all” oplossing nie. Elke situasie en kind moet anders hanteer word, want elke kind het ‘n andersoortige behoefte om te genees. Soms sal hulle gesels en vertel…maar ander tye wil hulle net die seer in hulself opsluit en vergeet.
Die feit dat die pleegkinders ook elkeen verskil – en ook baie van jou eie kinders verskil – maak sake soms ingewikkeld. Die grondslag wat jy vir jou eie kinders kon gee, ontbreek baie maal by die pleegkinders, en dan moet baie hard(er) werk ingesit word, om die regte steentjies te le in ‘n huisie waarvan die fondasie soms krom en skeef is.
Wat gee jou hoop om aan te hou as pleegouer?
Dit gee my hoop om voor my oë te sien hoe dat kinders tog kan verander: van bang en onseker, na vreesloos en vol hoop.
Wanneer ‘n kind na jare terugkom en vir jou sy kinders kom wys, of wanneer hy gereeld nog kontak maak – al woon hy veilig en knus weer by sy ouma – gee my die tevredenheid dat ek vir ‘n baie kort rukkie tog ‘n veilige hawe was, en vir hom iets kon beteken.
Raad aan enige iemand wat ‘n pleegouer wil word?
Jy, self moet emosioneel sterk kan staan en al jou eie trauma al verwerk het. Ken jouself goed genoeg om te weet wat jou snellers is, waar jou breekpunt le, en maak seker dat jy genoeg selfsorg-tye inbou, om self jou batterye te herlaai.
Kry ondersteuningsnetwerke in plek: van jou weder-helfte en familie, tot by jou maatskaplike werker en predikant.
Wees oopkop, en maak seker jy verstaan ook kinder trauma en hoe dat dit uitspeel in ‘n pleegkind se lewe. Kry opleiding, lees en doen navorsing. ‘n Warm bed en ‘n bord kos is NIE genoeg om ‘n kind te genees nie. Dit strek baie verder as liefde en aandag.
Probeer om – sover moontlik – goeie verhoudings met die pleegkinders se ouers te handhaaf. Hulle is en bly die kinders se ouers, en jy as pleegouer – sal nooit hul plek kan inneem nie. Dis soms moeilik om te doen, maar ter wille van jou pleegkind, byt maar op die tande!
En aanvaar dat jy as pleegouer, wetlik eintlik geen regte het nie, en dat die pleegkind slegs vir ‘n rukkie vir jou geleen word, sodat jy in daardie tyd ‘n saadjie kan plant wat kan gedy en groei – al het die verlede en die lewe vorentoe dalk ‘n taai klap uitgedeel. “
‘n Laaste woord van my as maatskaplike werker: groot dank aan elkeen van ons pleegouers wat ten spyte van alles – tog ter wille van alles – vasbyt. Die oes is groot – die arbeiders min!
Maatskaplike Werker: DPS Huis Rustenburg